Satellite
  • Day 18

    Dag 18 - Terug huis toe

    May 21, 2017 in South Africa ⋅ ☀️ 25 °C

    Dit is sulke tyd. Na 'n vinnige koffie en beskuit in Helmeringhausen pak ons op en draai die bakkies suid, tussen die Tirasberg en Rooirand deur, verby springbok en Afrikaner, Neisipvlakte oor, verby gemsbok en volstruis, Aus-plato ook, Rekvlakte deur, Rosh Pinah vir brandstof, Sendelingsdrift vir paspoortstempels, pont oor Republiek toe. Die pad Alexanderbaai toe is sleg, en Jarra se baķkie tel 'n papwiel op. Ons maak gou reg, draai Steinkopf toe uit Port Nolloth, en dan lê net Springbok voor - dis waar ons toer saam met Rey Janse van Rensburg en Richtersveld Challenge eindig. In 18 wonderlike dae - so 4500 km - het ons landskappe gesien wat ons vir altyd sal onthou: die Epupawaterval onder die volmaan, die bergveld in die Otjihipa rondom Vanzylspas, die Marienfluss se witgeel grastapyt, Orupembe se klippers, die Khumibrivier se verwronge mopanie- en hardekoolstompe, die Hoanib se statige anabome, Brandberg teen sononder, Sossusvlei tussen die vingers en tone. Dankie, dit was 'n voorreg.

    * Lus om Kaokoland saam met Rey Janse van Rensburg te verken? Kontak catnap@mweb.co.za
    Read more