Satellite
Show on map
  • Day 5

    1700 trappies en baie vrae

    January 24, 2023 in Indonesia ⋅ ⛅ 25 °C

    Ten spyte van baie volledige (5 minute op YouTube) navorsing, het ons vanoggend vinnig uit gevind dat Gojek, Balinese Uber, nie gereeld Candidasa dienste lewer nie. Die area is aansienlik meer landelik as wat ons besef het. So, ten spyte van ons smag na lugversorging, begin dag twee weer agter 'n poegie.

    Die pad na Lempuyang temple het aansienlik minder draaie en vertikale klimme gehad. Ons bromponie was in 'n baie beter bui na hoe ons hom die vorige dag misbruik het.

    Die pad neem ons deur 'n stedelike deel waar 'n mens meer moderne winkels sien en selfs 'n straatlig of twee tee kom. Byna elke sirkel is met een of ander massiewe standbeeld getooi. Weereens is die beeldhouwerk iets om te aanskou, al val die res van die plek so bietjie uitmekaar uit. Na 'n paar sirkels is ons weer skielik tussen die rysterrase en landelike gehuggies.

    Ons is vandag aan die anderkant van Mount Agung. Die humiditeit is bietjie meer draaglik vandag. Na min of meer 30 minute se ry, arriveer ons by die parkeer area van Lempuyang. (Hier betaal jy 50k Rp vir die parkering sowel as 'n bussie tot by die tempel, maar voor jy mag betaal, vra die vriendelike Balinese vrou of dit jou maanstonde is, want jy mag nie die tempel betree as dit is nie.)

    Ons besluit toe om eers ontbyt te eet. Ons het gedink ons het sticky rice met eier bestel, ons het egter sticky rice met hoender gekry. Ek dink daar moes 'n mis kommunikasie gewees het tov. die biologiese fase van die hoender wat ons bestel het. Ons het dit seker maar in toekomende tyd bestel het. Dit was gelukkig ongelooflik smaaklik.

    Corné: Uiteindelik is ons in die bussie. Die kronkel pad op na die tempel begin stadig en met 'n groot gekreun soos die Mitsubishi diesel hoes om homself in die regte rat vir die steilte te kry. Voor elke draai, gee die bestuurder 'n ligte toet om die komende verkeer te waarsku, want weens die digte bos en noue paadjies kan mens nie ver vooruit sien nie. Soos ons hoër en hoër beweeg sien jy versteekte huisies tussen die tropiesewoud.

    Rulanda: Ons sit en wonder: wat doen die mense vir 'n inkomste en wat het hulle laat besluit om op die berg te kom bly het. 'n Hele paar haarnaalddraaie later, is ons aan die voet van die tempel. Met "formele" gewaad om die kuite. Ons besigtig vinnig die tempel kaart. Alles lyk so naby aan mekaar geleë! 'n Stappie is mos goed vir die bloedsomloop.

    Corné: Die eerste voorsmaak van wat kom is die stukkie pad van die aflaai punt tot by die tempel se ingang. Die afstand is ongeveer 300 meter en relatief steil, maar tog doenbaar. Die steil pad en bedompige hitte ly daartoe dat jou klere binne 'n paar minute aan jou lyf vas klou. 110k Rp later en ons is oppad op na die eerste tempel.

    Voor jy die tempel betree is daar 'n reiniging seremonie. 'n Jong Balinese vrou seën ons met heilige water en ons betree die tempel, buitelanders mag glad nie die binne tempel betree waar die Balinese mense bid nie. Die groot buite hof het drie massiewe trappe wat op ly na die binneste hof weerskante is langwerpige platforms waar mense in die skaduwee kan sit. Dié platforms is gevul met besoekers wat die econiese "gates of Heaven" foto wil neem. Saam met jou kaartjie kry jy 'n nommer om 'n foto te neem, en al lyk die foto besonders, is ons eintlik hier om die berg uit te klim.

    Na 'n paar minute van ons self verkyk ons aan die beeldhou werk en 'n paar foto's later, besluit om ons stap tog tot bo op die berg te begin. Ons sal later hoor of ons miskien 'n foto kan neem. Ons is nommer 163 en hulle is tans op 90 en daar blyk geen haas aan die proses nie. "Next pose, next pose, next pose, next pose!" Die fotograaf het die wêreld se geduld en elke groepie kan hulle foon heeltemal vol fotos neem as hulle wil, voor dit die volgende se beurt is. Ons neem aan ons gaan maar dié geleentheid mis.

    'n Verdere 800m op, teen wat voel soos 'n 60 grade helling teer wat soos 'n stoofplaat ons van onder af kook, is ons uiteindelik by die eerste trappie van die kompleks wat lei tot die bo op die berg. Daar is 6 tempels in die area en die hoogste een is glo 1700 trappies teen die berg op.

    Die mos begroeiende trappe kronkel teen die berg op, oor stroompies en verby stalletjies waar jy 'n piesang en water vir 20k Rp kan kry. Bietjie duur, maar ek (Corné) is bly ek hoef nie die swaar vrag self teen die berg op te gekarwei het nie.

    Die pragtige voël klanke hou 'n mens geselskap terwyl jou gedagtes begin dwaal. Jy bevind jouself moeilike vrae vra, die eerste een: hoekom wil ek so graag die berg klim, niemand verwag dit van my nie? Hoekom was 2022 so moeilike jaar? Maak ek werklik genoeg tyd vir die dinge wat vir my belangrik in die lewe is? En nog vele meer. Tussen die worsteling in my gedagtes en die sweet wat my liggaam af tap is daar 'n mate van verlossing wat oor my kom en teen die tyd wat ons die hoogste punt bereik is ek en Corné hardop besig om te getuig hoe groot ons God is en hoe geseënd ons is met gesondheid en familie.

    Die wolke het intussen begin instoot en die hoogte bo seevlak lui daartoe dat daar 'n stilte oor die tropiese woud val. Uiteindelik bo! Dit lyk of ons in ons klere geswem het! Ons verken so bietjie, neem natuurlik fotos, en sug van verligting dat die optog verby is. Sonder dat ons dit onmiddelik besef los ons die vrese en swaarkry van 2022 op die berg en die wolke trek vir 'n skrampse oomblik oop en ons kan die vertes oor die eiland uitkyk tot waar die oseaan die horison omhels.

    Tyd vir die aftog en aan die voet van die berg is voel ons harte ligter.

    Die hele staptog neem ons ongeveer 2ure en 45 minute (teenoor die, 4 ure wat aanbeveel is) en ons stop weer by die eerste tempel om te hoor of miskien 'n vinnige foto kan neem. Hulle is toe eers by 161 en binne 5min was dit ons beurt (163). Ons sou defnetief nie so lank gewag het om dié foto te neem nie, maar ons is baie dankbaar dat die tydsberekening so perfek uitgewerk het dat ons tog dié econiese foto kon geneem het.

    Weer terug op die poegie en oppad na ons verblyf. Ons stop langs die pad vir 'n biertjie vir Corné en 'n sjokolade melkskommel vir my. Die eet plekkie, Dee Carik, kyk uit oor rysterrase en 'n koidam. Dis salig om daar te sit.

    In die dorpie Candidasa vind ons 'n IndoMart en koop 'n paar basiese items. Noodles vir middagete, koeldranke, skyfies ens. Uiteindelik terug by ons verblyf. Dit is tyd vir 'n middag swem en slaapie voor ons aandete gaan soek. Die dag het sy tol geëis.

    Verfris na die slapie is ons terug op die bromponie. Ons parkeer by 'n klein markie reg langs die kus en verken die omliggende omgewing. Neem 'n foto op 'n uitkyk, Corné bestel vir hom aandete en ek drink 'n mixed fruit smoothie. Ons kyk hoe die son in die see in sak.

    'n Goeie dag.
    Read more