Satellite
Show on map
  • Day 7

    'n Pragtige uitkyk

    January 26, 2023 in Indonesia ⋅ ☁️ 24 °C

    Vanoggend jaag Corné my uit die bed om 'n glo rustige stappie tot by 'n mooi uitkykpunt aan te pak. Ons het die afgelope paar dae by dié spesifieke tempel verby gery, die beeldhouwerk van die enorme hekke wat die ingang raam is vreeslik mooi, maar dit is die uitsig wat ons gelok het.

    Ons parkeer die bromponie aan die voet van die tempel en trek ons gepaste sarongs aan. Daar is niemand wat 'n toegang fooi vra nie, dis nog te vroeg. Ons begin die trappies klim tot by die ikoniese "hek" en sien met eens hierdie is glad nie wat ons verwag het nie! 'n Steil trap padjie loop ons vooruit, op en op teen die berg. Eg Balinese "steil". Oorals om ons is a aapies, met eens sit my hart in my keel. 'n Kleiner, moontlike "tiener" aapie beweeg skielik bedreigend nader en ek klap my hande en maak myself groot en skielik glimlag hy met gesluipde slagtande. 'n Harde gil onstap my mond en ek trippel op een plek: "Liefie! Liefie! Liefie!" Woeps is die aapie weg en Corné lag vir my.

    Corné, my held, loop toe vir die res van die pad tussen my en die aapies. Stok in die een hand om hulle te verjaag en kamera in die ander om hulle te probeer afneem. Die inwendige tweestryd speel oor sy gesig elke keer as ek 'n piep gee net soos hy 'n kiekie wil neem.

    So ongeveer 500m verder nader ons 'n volgende trop aapies. Iewers tydens die stap tog het Corné sy stok neer gesit en ek het dit opgetel. Daars 'n groter mannetjie wat Corné bekyk. Corné stop en maak homself groot, maar dit skrik die knaap nie af nie, die aapie lyk of hy nog 'n paar treë nader aan Corné gaan vat, tande gebaar en met eens storm ék met my stok die op aap af! Meteens is die hele trop in die bome en my adrenalien word verwag met vrees.

    Gelukkig stap ons die res van die pad sonder enige aap streke en vind onsself by die voet van 'n groot tempel. Ons verken en vind die mooiste uitkyk oor die see. Vanaf die houtstellasie waar op ons sit kyk ons uit oor die see na 'n klein eiland. Dit wit skuite wemel om die eiland waar die mense duik en snorkel en baljaar. In die verte sien ons 'n groter eiland en' n groot stormwolk wat vinnig nader kom. Ons vertoef nog 'n paar minute bo op die berg. Ons is die enigste twee by die verlate tempel, behalwe natuurlik vir die apies en standbeelde. 'n Paar druppeltjies val hier en daar en ons besluit om maar spoedig af te loop.

    Dié keer het Corné 'n klip in sy hand en as enige aapie nader kom gooi hy dit in die lug en vang dit weer. Hulle ken die truuk, meteens is die aapies 'n paar treë terug en loop wye draaie om ons te vermy. Toe ons onder kom betaal ons vir ons staptog en wikkel om by die verblyf te kom, maar die reën vang ons nes ons by die Lotus pond stop. Ons ry stadig en versigtig huis toe. Reën teen 50km/h maak maar jou gesig seer en Corné word sop nat. Ek kan gelukkig agter hom skuil.

    Veilig terug by die verblyf en in droë klere word die res van die dag langs die swembad gespandeer. Die reën het gelukkig vinnig opgeklaar.

    Ons oulike Deense vriende (Peter en Susanne) het ons genooi vir ete saam met hulle. Karma resort het 'n Australia Day, so die plek is mooi op getooi en daar word 'n lekker darts gespeel. Corné wen vir ons 'n bottel sjampanje. En ons ontmoet vir Alex (die jongste van 8 kinders) en sy pa Dennis. Hulle is van Australië - Darwin. Danksy ons onlangse verslawing aan die bordspeletjie, Ticket to Ride, weet ons darem waar dit is. Vir die volgende uur vertel Denis ons van al die interessanthede van Darwin, van krokodille tot die lekker visse wat hy vang. Die man besit nie minder as 5 bote nie!

    Ons eindig die aand saam met dié Dene af. Die kos is besonders lekker. In die agtergrond is daar 'n twee man kitaar duo wat ons met treffer na treffer vermaak. Al word dit nou met 'n Balinese aksent gesing.

    Die dag is natuurlik volbring met Corné en die Dene in die swembad vir 'n vinnige af koel voor slapenstyd.
    Read more