Satellite
Show on map
  • Day 9

    Next stop Ubud

    January 28, 2023 in Indonesia ⋅ ☁️ 24 °C

    Vandag vertrek ons na Ubud. Check out is 10 uur, so ons pak vinnig al ons goedjies in ons tasse en gaan eet vir ou laas by die restaurant net buite die resort. Die rys en eier gereg is smaaklik en vullend. Die tyd het omtrent gevlieg en Karma Resort was regtig 'n juweel.

    Ons vervoer na die volgende hotel arriveer vroegtydig. Ons gee ons sleutels terug en die staf gaan kyk nog een keer dat die kamer in orde is en gelukkig bring hulle Corné se Sauconys vir ons! Hoe ons sulke groot skoene mis gekyk het weet nie een van ons nie.

    Ons rit is ongeveer twee ure deur landelike dorpies. Nêrens is daar, soos ons dit in Suid Afrika ken, groot oop stukke landskap om die een dorp van die volgende te onderskei nie. Dis net pondok na pondok, tempels en rys velde. Hier en daar 'n meer verstedelike dorpie, maar mens moet mooi kyk om te kan onderskeid maak.

    Ubud is besonders besig. Die verkeer staan "bumber to bumber" in die noue straatjies. Boonop wemel dit van die buitelanders. Ons het tot dusver redelik min Europeërs gesien.

    Die bestuurder draai regs uit die groot besige straat en met eens is dit stiller. Ons ry deur 'n woongebied tot by ons hotel. Ubud Wana. Later sal ons leer hierdie woonbuurte is eintlik 'n aangrensende "villiage", al is dit net 400 meter se stap tot by die wremelemde Ubud.

    Die ontvangs is onder 'n hoë afdak. Die luukse marmer en beeldskone olie skilderye is iets om na te staar. Ons kamer kyk uit op die swembad en in die verte kan mens die aapies hoor roep. Ons pak vinnig uit en vind ons pad na die naaste toeriste inligtings sentrum, reg oorkant die verblyf. Ons besoek nog 'n paar om pryse te vergelyk en stap weer terug na die eerste om ons poeggie te huur. Dis mos hoe mens dit doen.

    Corné ry al die poeggie asof hy 'n inboorling is. Dis 'n heeltemal ander ballgame as tevore, maar ons maak dit tot in die hart van Ubud. Dis waarlik 'n kunstenaarsdorp. Oor al waar jy kyk is daar stalletjies met besondere mooi klere, fyn beeldhouwerk, skilderye, en natuurlik restaurante. Of warungs.

    Die honger dryf ons na die naaste warung, 'n beeldskone plekkie met 'n bamboe omringende binnehof en koi dammetjie met 'n fonteintjie wat kabbel. Ek bestel Cap Kai en Corné een of ander ding wat nie een van ons kan uitspreek nie. Syne was natuurlik meer smaaklik.

    Ons stap nog verder rond en koop vir Corné 'n mooi hemp voor ons uiteindelik terug keer na die hotel. By die hotel beplan ons om 'n vinnige swempie te vang, maar eers 'n middag slapie. Na die slapie haal die reën ons in, maar swem sal Corné swem. Dit is bietjie te koel vir my.

    Ons trek aan en vaar die woonbuurt in te voet op soek na kos. Hier is 'n hele paar "upmarket" plekke wat duidelik aan meer welvarende wisselkoerse as die eenvoudige Zuid Afrikaanse rand omsien, maar tog vind ons 'n baie billik geprysde plekkie, In Between Ubud, om by te eet.

    Met die reën wat op die sinkdak dans en 'n Luwak wat eenkant in sy eie saligheid op 'n tafel lê en slaap sluit ons die aand af met smaaklike Balinese gereg, 'n Bintang en goeie geselskap.
    Read more