Satellite
Show on map
  • Day 10

    Tradisionele kosse, apies en Ridge walk

    January 29, 2023 in Indonesia

    Vandag is ons vroeg uit die kooi om die buffet breakfast te benut. Travelers tip:kies altyd verblyf wat ontbyt insluit! Dit maak die lewe baie makliker. Corné benut natuurlik die ontbyt volledig. Om agt word ons deur 'n vriendelike Katut opgelaai. Hy is ons gids vir die dag. Ons eerste stop 'n plaaslike markie. Hier wys hy vir ons al die vars bestanddele wat ons tydens die kook klas gaan gebruik. Corné koop natuurlik weer deep fried banana by een van die vriendelike Balinese vrouens.

    Na die markie laai Katut ons by 'n koffie plaas af waar ons weer 'n koffie en tee toer kry. Die jong man vertel ons alles oor koffie en 'n paar interessante feite oor Bali se kultuur. Hy sit en gesels saam met ons terwyl ons koffie proe en deel staaltjies oor sy lewe en hoe Covid lewe in Bali, 'n land waar toerisme seker die hoof ekonomiese dryfveer is, geaffekteer het. Ter ondersteuning koop ons 'n cocao koffie voor ons weer by Katut in die kar klim.

    Katut is 'n borrelende bron van inligting en vertel ons met groot geesdrif en passie van sy tuin en die Hindoe geloof. Op 'n meer ernstige noot deel hy ook mee hoe die meerderheid van mense in die toerisme bedryf werk en dat hy, soos baie ander, maar baie swaar gekry het tydens Covid en dat menigte families sonder kos gegaan het soms vir 'n dag of twee. Ons besef nie altyd hoe goed die Here se hand ons beskerm tot mens anders se ervarings hoor nie.

    Uiteindelik is ons by die bestemming, 'n eg Balinese woning in 'n klein dorpie aangrensend aan Ubud. Ons maak kos in Katut se tannie se plek, hulle bly in 'n groot huis kompleks met 'n massiewe gemeenskaplike kombuis. Soos ons by die pragtige hout deur instap vertel Katut hoe een van die seuns  die 10de Februarie trou en dat die gemeenskap hard aan die werk is met die voorbereiding. Daar is oorals mense besig om goed te weef en opknappings aan die huis te maak.
    Katut vertel ons ook dat hy self op 'n stadium van sy lewe beeldhouwerk soos dié op die deur gedoen het. Hy benoem met gemak die verskeie elemente wat deel vorm die komplekse patroon op die deur. Hier 'n vark oor, daar 'n riet en daar 'n orgidee. Mens raak maklik oorweldig met die stuk as 'n geheel, maar dis amper meer asemrowend as jy elke detail in sy eie reg begin waardeur. Blykbaar kerf die beeldhouer die hout uit met skerp skulpe! Die simmetrie en detail is ongelooflik. Met 'n diep sug deel hy dat hy uiteindelik maar die beroep verlaat het weens die harde werk en die feit dat die handelaars wie die stukke by die kunstenaars koop menige male regtig die kunstenaars indoen en hulle bitter min vir hulle handewerk betaal.

    Bo in die kombuis ontmoet ons die tannie, Denwi. Sy vertel hoe sy al vroeg oggend opstaan om haar offer te gee, mark toe te gaan, kos vir haar familie te maak en dan die kosse voor te berei vir die kook klas. Sy doen dit al vir 15 jaar. Voor ons lê verskeie items half gesny en op klein bordjies afgemeet.

    Hande gewas, voorskoot aan en ons begin die kook les. Dis net ek en Corné, so ons is bevoorreg om al die aandag te kry. Na 'n uur en 'n bietjie agter die warm kook potte sloof is al die kosse reg. Tussen ons het ons tien verskillende disse opgetower. Dit was omtrent 'n warrelwind van instruksies, bestanddele en Katut se wenke hier en daar. Volgens Denwi is die belangrikste stap die voorbereiding, want dan kan mens vinnig al die kosse aan mekaar slaan. Ons neem foto's en eet heerlik. Daar is genoeg vir almal so ons nooi ons gashere om saam met ons te eet, maar hulle sê hulle bied die klas twee keer per dag aan en is bietjie uit geëet aan die kos. Katut se soettand keer hom wel nie om een van die piesang dumplings te eet nie.

    Hulle neem tog die tyd om 'n geselsie met ons aan te knoop. Katut gee vir ons 'n sertifikaat wat bevestig dat ons die kos kan maak... Sowel as die resepte, waarvoor ons baie dankbaar is. Nog fotos saam met Denwi en Katut voor ons weer vertrek.

    Terug by die hotel is dit: "maagie vol oogies toe." Natuurlik moet ons swem voor ons iets verder aanpak.

    Die volgende aktiwiteit op Corné sê versoek is die Monkey Forest. Ek sien natuurlik vreeslik op. Ek hou niks van aapies nie. Die ingangsfooi is al 100k Rupiah per persoon. Die groot ingangsportaal is modern en indrukwekkend. Dit wemel van die toeriste, ons wemel saam. Na 'n kort wag in die ry om 'n kaartjie te koop is ons uiteindelik ons is binne die bewaar gebied.

    Corné:
    Dit was groot pret om die Monkey Forest te beleef, meestal omdat dit vermaaklik was om te sien hoe Rulanda heelpad op "high alert" was. Die veeltalige massa apies oorweldig haar vermoeë om elke een se bewegings dop te hou en trajekte te analiseer. Versigtig sal sy haar bes probeer om die optimale roete deur die verskeie spasies in die park te neem wat haar ten alle tye die maksimale afstand van enige iets met 'n stert af weg hou. Soveel so dat sy elke nou en dan spring en piep as een onverwags haar in 'n blindekol verras.

    Ek het self 'n noue ontkoming gehad met 'n apie wat baie beslis en met merkwaardige vaardigheid na my toe gestap het waar ek op 'n trappie sit en toe die ritssluiter van my kamera sak ooptrek met die hoop dat daar kos binne in is.

    Die Monkey Forest as 'n geheel was maar eintlik bietjie van 'n foefie. Ek sal dit nie noodwendig aanraai nie, maar die ou tempels en ouer bome wat 'n oorkoepelende blaar katedraal bo die loopweë skep is wel iets om te aanskou. Daar is ook 'n amfiteater waar 'n mens 'n eg Balinese vertoning kan aanskou. Tog weereens kan 'n mens amper dieselfde ervaring kry as jy die noue paadjie al langs die forest stap en dan jou Rupiah eerder op 'n Bintang by In Between Ubud spandeer.

    Rulanda:
    Na die Monkey Forest ry ons nog 'n paar draaie met die bromponie, deur die verskillende dorpies en oppad terug stop ons by 'n 2km Ridge walk, dis so ruig as ons nie self oor die revier gestap het nie sou mens nie geweet het jy stap langs dit nie. Dis 'n rustige stappie. Oppad huis toe stop ons vir 'n pizza. Ons is nog redelik vol van ons groot middag ete so deel sommer 'n Hawaiian. Ek het al heeldag net 'n groot drang vir 'n Westerse smaak.

    By die hotel, pak ons vinnig vir die groot stap tog wat ons die volgende oggend voorlê, Mount Batur. Die wekker is gestel vir 01:30, want ons word stiptelik om 02:00 opgetel om die volkaan te gaan uitklim.

    Vroeg in die bed vir hierdie lyfies.
    Read more