Satellite
  • Day 3

    Bali markies en inkopies

    April 19, 2019 in Indonesia ⋅ ☀️ 31 °C

    Ons skrik wakker van 'n klop aan die deur, net om buite te kom en ons ontbyt op die tafeltjie op ons stoep te kry - gesnyde vars vrugte en 'n hoender-rys gereg. Daarna vang ons 'n oggend slapie om die laaste bietjie jet lag af te skud (lê). 11:00 kom ons almal toe bymekaar by die swembad om die toer reëlings te hoor en almal te ontmoet. Ek en my ma vaar toe die strate in, opsoek na die markie (was dit nou vir jou 'n storie). Skaars 'n blok weg en die strate is toe vir 'n feesoptog (baie mooi kleure, musiek en klere). Ons loop aanvanklik by al die winkeltjies in, net om agter te kom, waar ons gedink het die einde is, is die hoek waar alles eers begin. Ons stap toe straat op en bargain en kyk en vat en beleef. Middagete eet ons Sate in 'n pub restaurant plek en drink vars waatlemoensap en 'n aarbei-piesang-yskoffie. Na 'n rukkie se stap gaan sit ons ons voete in die vissie-waters en gesels met die meisie wat daar werk. Sy werk van 07:00-21:00 op meeste dae en as sy af is slaap sy net. Sy het biologie studeer by die Universiteit, maar nie baie daarvan gehou nie - dit het so R6000 'n semester gekos. Ons stap, bargain, kyk, vat en beleef toe verder, tot ons besluit dis tyd om huis toe te gaan, maar ons weet nie presies hoe om daar uit te kom nie. Ons gaan eet toe fancy roomys by 'n plek sodat ons wifi kan kry (ok, nie net vir die wifi nie, maar ook vir die wifi). So 16:00, oppad terug kom ons op die eintlike Ubud market af (sit gesiggie wat homself in die gesig slaan hier). Ons begin toe met nuwe energie stap, bargain, kyk, vat en beleef en skaf toe nog 'n paar goedjies aan. Oppad terug verdwaal ons 'n straat of twee, maar kry darem weer ons rigting. Effens moeg kom ons by ons plek aan 'n halfuur voor ons moet stap na Cafe du Monyet ('n franse restaurant) waar ons platters met vleise, broodjies en souse kry. Ek en my ma drink die lekkerste dragonfruit sap. Ons en Sharon en Annelia stap toe weer Biah biah plus toe (die platters was bietjie min, maar ons wou nie franse kos by bestel soos die ander nie) en kry 'n roomys oppad terug huis toe. Moeg en warm klim ons toe (onwettig, want jy mag nie na 20:00 in die aand nie) in die swembad en gesels met die ander (wat ook onwettig daar is, want Suid-Afrikaners worry mos nie oor reëls nie). Nou sluit ons die dag af met 'n glasie Vanilla Spice Amarula wat ek al die pad uit duty free op my rug gedra het (dit was darem die moeite werd). Lekker verjaar liewe Pikkie, ons wens egter jy was by ons, dit sit 'n bietjie bitter aan die soet dag, maar ons sal opmaak met 'n geskenkie.Read more