Satellite
Show on map
  • Day 6

    Juwele maak en vrugte kerf

    April 22, 2019 in Indonesia ⋅ ☀️ 31 °C

    Ons het opgestaan en ontbyt geëet en toe gaan joga doen nadat Wian aan die deur kom klop het en ons gedwing het. Hy sê kamstig dis 'n beginnersklas en volgende oomblik sê hy 'sit albei julle hande op die grond neer en staan op julle koppe' - dit het meer as net 'n oomblik gevat om te besef... die snaakse ding van joga is, daar is sooooooveel geleentheid vir opmerkings, maar ek weet nooit hoe ernstig mens moet wees nie, so ek lag maar hier binne. Ons maak toe vinnig klaar en huur scooters om na ons klasse vir silwer juweliersware maak en vrugte kerf te gaan. Dit vat effens langer as wat ek gedink het, maar ek e-pos toe dat ons gaan laat wees en hulle sê dis geen probleem nie. Dit was die minste van ons probleme... op google maps kry ek toe 'n plek met dieselfde naam (mens kan sien waarheen hierdie storie gaan...) en aangesien ek nie 'n sim kaart het vir Bali nie, maak ek die kaart vooraf oop en ons ry toe net met gps en so bietjie gevoel. Ek het op 'n stadium vir ma en Sharon verloor en teruggedraai om hulle weer te kry (shame, gedra hulle mooi soet en wag op een plek soos ons almal van kleins af geleer is). Einde ten laaste kry ons toe die 'plek' wat glad nie die plek is nie. 'n Vriendelike man sien ek sukkel en stop langs my om te vra waarheen ons oppad is. Hy bel die plek en kry aanwysings en ry toe voor om vir ons die pad aan te wys (teen 'n fooitjie natuurlik, maar ek het dit met 'n ligte hart betaal - wel ek of ma of ons albei, ons geldsake is duister). By WS Art studio aangekom, kry ons 'n blom in die hare en gaan toe om te leer juweliersware uit silwer maak. Ma en Sharon maak ringe - insanely mooi, en ek maak 'n paar oorbelle. Dis nogal harde werk, die juwele maak ding. Jy moet sny en buig en vyl en soldeer en in suur sit en 'n hele lang proses, maar interessant nietemin. Hulle het ook vir ons tradisionele Indonesiese versnapperinge gegee - vrugte (piesang en pynappel) in 'n degie in kookolie gaargemaak. Na die silwer werkswinkel eet ons middagete - hoender, rys en vrugte. Ons leer toe hoe om waatlemoene te kerf met patrone en kry 'n vinnige demonstrasie van komkommers en wortels ook. Ons sien ook hier hoe rys lyk as dit nog groen en aan die plant is. Daarna ry ons terug huis toe, ma moet petrol ingooi, Sharon val amper van haar motorfiets af, maar ons almal maak dit veilig tot by die huis. Ons spring vinnig deur die swembad en ek en Sharon gaan toe winkel toe om goed te kry vir 'bring and share' aandete by die swembad wat Duola gereël het. Almal het lekker saamgekuier en ons gaan maak vir oulaas 'n draai op Carien en Elmien se stoep, om die aand af te sluit, omdat hulle nie verder wou saam kuier nie - hulle is bitter snaaks. Ek het toe 'n draai gaan ry deur die strate en area voor ek my motorfiets moes teruggee. Dis ongelooflik om alleen in die aand op 'n motorfiets te kan ry in 'n heeltemal onbekende land en dit te verken, veilig. Dit doen die siel goed.Read more