Satellite
Show on map
  • Day 9

    Pamukkale en Ephesus

    November 29, 2020 in Turkey ⋅ ☁️ 14 °C

    Ons het wakker geword en ontbyt gaan eet in die restaurant areatjie op die boonste vloer van die hotel. Dis omring met vensters en kyk uit op die soutbaddens. Daar was 'n lugballon wat mense oor die soutbaddens vat. Ons het toe gestap na die ingang, maar agv lockdown maak hulle eers 11:00 oop. Riekie het al die rondloper honde aangeneem en hulle volg haar oral terwyl sy met hulle praat en vir hulle maniere leer - in Afrikaans nogal. Ons gaan pak toe ons goed en laai dit in die kar. 11:00 kon ons darem ingaan. Mens moet jou skoene uittrek om op dit te loop, maar jou voete vries af en dis nat. Van die poele is lekker warm en ander is yskoud. Aan die bokant lê die ruïnes van Hierapolis, met 'n hamam en 'n swembad wat die bron van die water van die baddens is, met stukke pilare en ander ruïnes op die bodem. Ons het rondgeloop en Riekie moes weer oral op haar hande staan vir foto's. Op een plek het die sekuriteitswag gekom en haar ook kom afneem - baie snaaks. Ons het toe afgegaan en geswem in een van die poele en toe teruggegaan en gery na Ephesus. Rondom middagete was ons al lekker honger, maar oral waar ons indraai is die plekke toe. Ons stop toe op die ou einde by 'n vulstasie met 'n restaurantjie. Die oom agter die toonbank kan nie Engels praat nie en roep toe iemand anders. Ek dink elke besigheid het iemand wat hulle kan roep om Engels te praat, want dit gebeur gereeld. In die vertoonyskas is net klomp vleis stews. Ons vra toe of hulle Pide het, want dis omtrent al wat ek kon onthou en daar is nie 'n manier wat mens daai Turkse menu sonder prentjies kan verstaan nie. Hulle het nie Pide nie, maar op die ou einde kry ons toe lekker kebabs. O, Annette sê my stories is nie so snaaks soos altyd nie, maar dis so moeilik, want die hele trip het basies bestaan uit lag en kos. Ek kan nie dink watter snaakse goed om te sê nie. Behalwe dat ons besluit het 'merhaba', wat 'hallo' beteken, kan gebruik word vir alles. So ons antwoord op enige vrae is merhaba. Daarsy Annette... dit was een van ons top grappies - is nog steeds. In elk geval, ons ry toe verder en kom laatmiddag aan by Ephesus. Dis uitgrawings van die stad aan wie Paulus die brief van Efesiërs geskryf het. Mens se brein kan dit nie begryp, as jy daar sit, in die amfiteater wat 24 000 mense kan vat, en afkyk op 'n hele marmerstraat met marmer pilare wat lei na die dorp, en dis werklik nie. My brein is te klein vir die omvang daarvan. Al die pilare het patrone wat uitgekerf is - sekerlik met die hand - wat alles dieselfde lyk, maar nie presies dieselfde groottes nie. Daar is ook die biblioteek van Celsus en die kerk van Maria - die eerste kerk in die stad. Dis iets wat mens self moet beleef om te waardeer. Ons is na donker daar uit en was die enigste mense oor. Ons gaan toe na die blyplek waar ons die vorige aand sou bly, Ephesus Palace in Sirinçe, en kry 'n massiewe kamer, met 4 beddens. Die spieël in die badkamer is ook die venster na buite, so as jy die 'spieël' oopmaak kyk jy uit op die straat.Read more