Satellite
Show on map
  • Day 1

    Reis tot in New York

    November 25, 2021 in the United States ⋅ 🌧 10 °C

    Dis eintlik lekker om te reis in covid tyd. Die lughawens is nie so vol nie, so jy staan nie so lank in toue nie. Dit help veral as mens n rugsak, laptopsak, kamerasak, duty free shopping sak én n portret oral moet saamdra. En elke keer belowe ek myself om volgende keer minder handbagasie te vat, want ek kon seker helfte van die goed gelos het, of beter gepak het. Maar terwyl ek so loop en staan met al die swaar goed, en die kamerasak se band wat in my nek knaag, dink ek dis maar 'n bietjie soos die lewe ook... dit kan baie eenvoudiger en ligter wees as ons nie klomp onnodige goed saamdra nie. Ok, maar klaar gefilosofeer...
    In Turkye se lughawe besef ek dis die ander lughawe, want hy is baie groter en lyk glad nie soos verlede jaar se lughawe nie. Dis ook maar goed, want mens verlang altyd na die mense wat voorheen saam met mens herinneringe gemaak het as mens weer op 'n plek kom.
    In New York aangekom bespreek ek eers vir my blyplek vir die aand - ek kry nogal n oulike plek op AirBNB, 2 blokke van Central Park af. Die ander persoon wat in die woonstel bly (Owen) en sy vriend (David), wat oorspronklik van Kanada af kom, maar nou in Puerto Rico werk gesels toe lekker en ons drink een of ander blikkie iets so op Thanksgiving dag. Hulle sê toe as ek net 1 ding vanaand kan doen moet ek ten minste times square toe gaan.
    Ek is toe met die subway times square toe. Dis net soos in die flieks, maar groter in die regte lewe. Oral loop mense. Daar loei permanent êrens 'n sirene. Die stad word nie stil nie. Ek gaan eet toe 'n stuk kaaskoek by Junior's, want hulle is bekend vir hulle kaaskoek, en wat sal 'n aand in New York wees sonder 'n sny New York pizza uit 'n straatwinkeltjie? Oral loop boemelaars rond, maar hulle is nie so lastig soos in Suid-Afrika nie, daar is oral jongmense wat lyk of hulle sou kon doen met rigting, die ou en meisie oorkant my op die trein maak die treindeur oop en skop die spuit en naald uit op die spoor terwyl die trein ry, en raak toe in 'n rusie betrokke.
    Dit lyk of almal hulle eie gang gaan, of hulle gerieflik is met hulle lewens, maar tog wonder ek of is dit nie maar alleen nie?
    Daar is 'n raccoon wat in die asblik grou by central park, en ek dink vir myself... die plek stel nie teleur nie.
    Ek jetlag nou lekker, so gaan vroeg slaap.
    Read more