Satellite
  • Day 3

    Port Angeles na Victoria

    November 27, 2021 in Canada ⋅ 🌧 9 °C

    Ek was al vroeg wakker en het klaar gemaak en gepak. Ek probeer toe Uber kry (ek het gisteraand gekyk of daar Ubers beskikbaar is maar dit wou nie een bespreek vir vanoggend nie weens 'technical error'. Ek dink toe ek sal vanoggend weer probeer en as dit nie werk nie sal ek net weer die taxi bel. Verrassing. Uber werk toe nie en die taxi antwoord nie. Ek google toe ander taxi's in Port Angeles en die enigste ander nr vir 'n taxi het geantwoord en na ek gepraat het sê die man net f-off. Ek neem aan hy is nie meer 'n taxi diens nie. Ek begin toe stap (maar ek weet nie presies waarheen nie, maar ek weet darem in watse rigting). Ek bel toe die ferry kantore want die ou wat gisteraand daar gewerk het het my mooi gehelp. Die vrou wat toe antwoord, Tamara, sê daar is nie ander taxi's in die dorp nie en sy ken nie rerig mense in die dorp wat my kan oplaai nie. Ek besluit toe maar om vinnig te stap en as ek dit nie maak nie sal ek op die 14:00 ferry klim. Die volgende oomblik stop 'n rooi kar by my en die vrou klim uit en begin my tasse in haar kar pak - Tamara. Sy vat my toe vinnig na die ferrykantore toe, vra of al my dokumente reg is en laat my vinnig 'n kaartjie koop en vat my na die ferry toe, wat toe net vir my wag. Die ferry man help toe om my tas te dra en daar is ek oppad Victoria toe.
    By Victoria laat die doane beampte my eers in 'n area sit en wag en 'n ander beampte kom toe en vra klomp vrae en sê hulle gaan met hulle gesondheidsbeampte moet praat om te hoor wat om te doen, maar ek gaan moontlik kan ingaan en kwarantyn by Betsie-hulle. Hy sê toe ek kan solank vir Bets-hulle laat weet dit gaan nog 'n rukkie wees, maar ek het nie sein nie en daar is nie wifi in daardie area nie. Hy vra of is hulle daar, want hy sal gou met hulle gaan praat en wat is hulle name nou weer. Ek sê toe Paul en Betsie en hulle sal 'n pakkie Hortons by hulle hê. Hy vra wat sal hulle by hulle hê, ek sê Hortons doughnuts want ek het gesê hulle beter nie opdaag sonder 'n maple syrup doughnut nie (almal in die wêreld moet dit minstens een keer eet in hulle lewe). Paul sê toe na die tyd dis omdat hulle dit Timmies noem (die regte naam is Tim Hortons - persoonlik dink ek Hortons klink beter, maar ok, when in canada...). Hy gaan verduidelik als mooi vir Bets-hulle en sê 'I'll take those (die doughnuts)', Betsie wou dit glo eers nie gee nie, maar eventually kry ek my doughnuts, Betsie-hulle wag in die kar, Terry (die beampte) bel klomp mense en op die ou einde laat hulle my vry met 2 'home test kits' vir covid en ek moet 14 dae kwarantyn by Betsie-hulle. Hulle was heeltyd super vriendelik en het met my gesels.
    Ons gaan laai toe vir Matthew by die skool op waar hy basketball gespeel het en Chrissa kom sê vinnig hallo. Daarna gaan koop ons A&W vir middagete en gaan huis toe. Paul sê hy kon nie slaap die vorige aand nie en het elke uur wakker geword en geworry oor my. Cute. En hy sê net elke kort-kort I'm so glad you're here.
    By die huis kuier ons en vang bietjie op en ek skeduleer my home test kit tyd. Hoe dit werk... mens maak 'n afspraak, dan skakel jy in op microsoft teams en iemand (Brenda - sy was voorheen in die polisie) vat jou dan deur al die stappe om te toets vir covid en dan stuur jy die sample met die pos (daar is 'n courier sticker wat mens opplak en in die week kom laai hulle dit op by jou huis, maar oor naweke moet jy dit na 'n poskantoor vat). Binne maksimum 72 uur kra jy dan jou uitslae. Op dag 8 doen mens weer dieselfde. Hopelik, as dag 8 se sample negatief is, word ek dalk vroeër vrygelaat. Ons sal maar sien.
    Paul wys vir my sy werkskamer, waar hy biltong, droëwors, chilli bites en boerewors maak. Dis baie indrukwekkend. Als is super skoon en netjies en daar is temperatuur kaarte vir die yskas en als. Maar hy is 'n sjef, so wat kan mens verwag. Sy boerewors verskyn ook nou op 'n fancy restaurant op die eiland se nuwe menu, so hy doen baie goed. Sy besigheid is net aanlyn en hy het 4 maande terug eers begin, maar elke kort kort ping sy foon met nuwe bestellings. Hy gebruik net goeie gehalte produkte en als word mooi verpak so sy naam is goed. Ek dink Biltong Canada gaan nog baie groot word.
    Bets maak vir ons baie lekker kos en ek kan nie meer my oë oophou nie so dis slaaptyd.
    Read more