Satellite
Show on map
  • Day 7

    Via delorosa, die opstanding, ens

    October 8, 2022 in Palestine ⋅ ⛅ 21 °C

    Ons het die dag begin deur te stap na die Klaagmuur (wailing wall of western wall). Dit is waar 'n stukkie muur van die ou tempel nog staan. Daar is 'n moskee gebou waar die ou tempel was en dit veroorsaak baie wrywing. Daar is glo planne opgetrek en als is reg om die tempel te herbou as die jode weer die grond terugkry.
    Hulle gaan na die muur en bid en na die muur toe. Dis ook hoekom hulle swart dra... hulle is in rou omdat die tempel nog nie herbou is nie. Die mans dra wit by die klaagmuur. As hulle wegloop van die muur af loop hulle agteruit en bly kyk na die muur se kant toe. Voor hulle na die klaagmuur gaan, was hulle eers hulle hande en gesig by die fontein by die ingang.
    Van die klaagmuur af is ons na bad van Bethesda, waar Jesus vir die kruppel man gesê het om op te staan en te loop. Ons het toe in die kerkie gesing. Dit was baie mooi. Ja, ja, ek het nie hard gesing nie, dis hoekom dit mooi was.
    Ons het ingegaan by die 'Church of condemnation', waar Pilates Jesus oorgegee het aan die skare.
    Van daar het ons die Via Dolorosa gaan stap. Dis die pad wat Jesus gestap het na die kruis toe. Daar is 10 stasies langs die pad waar merkwaardige goed gebeur het, bv waar Jesus geval het, ens. Die pad loop deur die markie en dis baie besig en raserig, maar ek glo dit was so raserig met die kruisiging ook, want hulle het heeltyd geskree en gespot.
    Ons het by die 'Church of the holy Sepulchre' geëindig, wat op Golgota gebou is. Dit word besit deur 7 denominasies en die sleutels word deur 'n moslem gesin gehou wat oorgedra word van geslag tot geslag om die vrede van die kerk te behou. Dit vat baie lank om besluite te neem oor die kerk, omdat daar so baie rolspelers is. Daar is bv 'n leer wat al omtrent 100 jaar onder een van die vensters staan.
    Die kerk is baie groot en 'flashy' en daar is 'n deel wat hulle beweer die graf van Jesus is, maar Chris sê die 'Tuingraf' is meer waarskynlik die regte plek waar Jesus begrawe is. Ons het tot onder in die kerk geloop, waar mens basies tussen die rotse sit, en Theuns het vir ons gelees uit die Bybel en Chris het vir ons die goed verduidelik. Daar is ook 'n klip in die kerk waar hulle sê Jesus op gelê het. Klomp mense buig en bid by die klip.
    Ons het toe gestap na waar die tuingraf is, waar 'n oom uit Engeland vir ons verduidelik het van die graf en die berg. Ons het daar gesit en nagmaal gebruik.
    Daarna het 'n klomp van ons gaan middagete eet by 'n restaurantjie en 'n paar van ons het op die ou stadmuur om Jerusalem gaan loop. Toe ons wou afklim is die uitgang gesluit. Gelukkig het van die plaaslike mense gesien ons is vasgevang en die man wat die sleutel het gaan roep. Ek loop toe deur die markie terug hostel toe en loop vir Frankie en Mari raak! Ek vra toe vir Chris of ek hulle kan saamnooi Masada en Dooie see toe die volgende dag en hy sê dis reg. Hulle bly toevallig in dieselfde hostel as Ian-hulle en het in Tiberias ook in dieselfde hostel gebly, maar ek het hulle nooit gesien nie omdat ek nie daar gebly het nie. Klein wêreld.
    Die aand het die wat wou 'n ligvertoning in die stadsmuur by die 'Tower of David Museum' gaan kyk. Ek wou aanvanklik nie, maar weens omstandighede buite my beheer (FOMO) moes ek ook gaan. Dit was briljant. Hulle wys die lewe van Dawid teen die mure, maar dis soooo goed gedoen. Dis iets wat mens self moet beleef.
    Ons het net teruggestap en gaan slaap daarna.
    Read more