Bali vakansie saam ma
  • Day10

    Singapore sling, tuine en lughawens

    April 26, 2019 in Singapore ⋅ 🌧 25 °C

    Die taxi's kom laai ons 07:55 op om ons lughawe toe te vat en met baie mooi legkaart bou is ons almal en al ons bagasie lughawe toe. Ons eet 'n lekker ontbyt terwyl ons wag en besef ons is weer in 'normale-prys-omgewing' want als voel skielik baie duur. By Singapore het ons 10 ure tussen ons vlugte en ons koop kaarte en ry met die moltrein na die Promenade area waar ons na Gardens in the Bay gaan. Dis mensgemaakte tuine met blomme, vertikale tuine, ligte en alles mooi. Daarna gaan almal terug lughawe toe behalwe ek, ma, Michelle en Brendon, wat opgaan Skypark toe. Dis op die 56ste verdieping op 'n houtdek met glas'mure' aan die buitekant waar mens Singapore se skyline kan sien. Ma is erg hoogtevrees en bly maar by die middelste muur. Mens moet natuurlik 'n Singapore Sling op die hoogste gebou drink in Singapore, so ons maak toe so, en kyk die laser show onder in die tuine en op die water voor ons teruggaan. By die lughawe gaan rus ons in die lounge tot ons moet deurgaan vir ons vlug. Daniel, Wian, Elmien en Carien se vlug na Singapore was vertraag en hulle kom daar aan net toe ons moet opklim (phew - verligting). Terug in Johannesburg groet ons almal mekaar (met 'n swaar hart) en ek, ma, Annelia, Sharon en Pikkie eet 'n Spur-ontbyt op die lughawe voor ons Annelia gaan (probeer) afsien waar sy haar kar gaan huur, net vir haar om te besef sy het haar lisensie in Bloem vergeet. Ons maak toe 'n plan en sy kry haar kar, ons gaan laai vir Pikkie af by paintball en ons ry terug Bloem toe. Die einde van 'n onvergeetlike vakansie met 'n groot boks herinneringe en nog 'n nuwe ervaring wat my horison verbreed en denke uitdaag.Read more

  • Day9

    Mount Batur, warm bronne en afsluiting

    April 25, 2019 in Indonesia ⋅ ⛅ 23 °C

    Die laaste dag in Bali... die toerleiers kom laai ons 02:30 die oggend op by die Bungalows en ons ry so uur na Mount Batur - dis die derde grootste vulkaan op die eiland. Ons kry toe stap leiers en ons stap op teen die berg - dis glo so 2ure se stap. Ma was nog siek en ek het ook nie te lekker gevoel nie, so ons vat toe motorfietse tot by die eerste piek. Hulle ry erg goed motorfiets en die terrein het baie, skerp draaie en los grond, maar hulle doen dit elke dag en ek love die stukkie adrenalien. Charles was ook siek so hy kom ook tot by ons met 'n motorfiets, maar hy en ma bly agter toe die res van die groep daar kom en ons verder opstap tot bo. Die toerleiers maak ontbyt vir ons (wat ek nie geëet het nie, want Bali belly) en ons kyk die sonsopkoms - woorde kan dit nie beskryf nie, so ek gaan nie eers probeer nie. Ons stap verder na die krater en neem foto's en gaan na die warm gate waar die berg stoom uitblaas. Daarna begin die staptog ondertoe. Aan die onderkant loop mens deur beboste plantegroei en dis ongelooglik hoe dit verskil op een berg. Ons ry toe na 'n natuurlik warmwaterbron en swem en ontspan daar vir so uur en 'n half en ry terug huis toe. Ek huur weer 'n scooter en ry vir oulaas om geskenke te koop en gaan maak 'n laaste draai by die ryslande. Die aand gaan ons na 'n baie mooi plek net buite Ubud vir die afsluitingsete met 'live' musiek en buffet ete met lekker kos en ons kuier en swem vir 'n laaste keer in Bali. Die pakwerk begin toe ons by die huis kom (wat 'n uitdaging!).Read more

  • Day8

    Kookklas en Bali Belly

    April 24, 2019 in Indonesia ⋅ ☀️ 31 °C

    So... Bali belly is 'n werklikheid. Ek het vanoggend opgestaan en nie lekker gevoel nie, maar 'n Maxalon en bietjie moed later is ek oppad na 'n Balinese kookklas (waarvoor ek al uitsien van voor die trip af). Wayan (elke derde mens se naam hier is Wayan) tel my op by die Bungalows en vat ons sewe (wat die klas doen) na die markie toe. Daar vat sy pa, Ketut ('n ander derde van die mense se naam), ons deur die markie en wys als en laat ons proe (wel, laat die ander proe). Daarna vat hy ons rysvelde toe en verduidelik hoe dit werk. Die vore waar die water deur loop word gebruik om die rysvelde nat te maak, maar dit word ook gebruik vir swem, was en klere was (groot oë). By die kookklas kry ons elkeen 'n voorskoot, ystee/kruie drankie en water. Hulle wys ons toe wat elke kos/krui/spesery-soort is en laat ons (die res) ruik en proe. Daarna maak ons 'n basiese kruie pasta wat hulle in hulle algemene resepte gebruik. My Maxalon werk toe nie meer so lekker nie en ek vra toe vir 'n taxi huis toe, waar ek die nog pille drink en die hele dag slaap en siek wees. (Ek was baie hartseer oor die kookklas wat ek gemis het, maar nou ja). Die aand het ek beter gevoel en ek stap toe saam Annelia en Sharon want Annelia soek charcoal roomys. Sy eet toe een daar en koop nog een om saam te vat en te eet want dis vir haar so lekker. Sharon kyk haar met groot oë aan, wys na die Oosterse mense wat agter ons sit en sê: "Kyk, Annelia, hulle eet 4 mense aan 1 roomys, nie 2 roomyse per persoon nie." Ma was pyramids of Chi toe, mens lê glo stil met musiek en vibrasies en hulle tik jou met 'n stok as jy snork. Sy het ook die middag siek geword. Nog 'n paar ander mense het ook siek begin word.Read more

  • Day7

    Batik, GWK kultuurpark en strand

    April 23, 2019 in Indonesia ⋅ 🌬 31 °C

    Ons het weer douvoordag gestap na Coco Supermarket om ons bus te kry. Die bus vat ons eerste na 'n silwerwinkel met die mooiste goed. Daarna ry ons na 'n Batik fabriek, dis mal interessant. Hulle sit met groot lappe voor hulle waarop patrone geteken is. Hulle vat dan 'n instrument wat lyk soos 'n tabakpypie en skep die gekleurde warm was in die deel waar die 'tabak' sou wees. Aan die onderkant van die 'tabakdeel' van die pyp (ek ken nie die regte terme vir die dele van 'n pyp nie) is daar 'n klein steeltjie wat basies net 'n druppel op 'n slag laat uitkom. Hulle teken dan met die dun puntjie op die patroon. Ek weet nie mooi presies hoe dit verder werk nie (hulle is Engels is nie goed genoeg om te verduidelik nie en die Engelse inligtingsblaaitjies op. Ek het maar 'n Spaanse een gevat vir Busta of Yusimi om dit vir my te vertaal as ek terug is). Van daar af het ons na GWK kultuurpark gegaan, waar ons rondgeloop, na die beelde gekyk, fiets gery, foto's geneem en 'n Indonesiese buffet middagete geëet het. Ons het ook 'n tradionele dansvertoning gaan kyk, waar hulle my en Annelia geroep het om saam 'n paar ander mense saam met hulle te dans. Daarna het die bus ons strand toe gevat en ons het bietjie geswem en kuier. Die see is blou, maar nie mooi helder nie. Die sand in die see is ook baie klipperig met skulpe en dit sak weg onder jou voete, so as jy in die water is begin jy so gou as moontlik swem. Daar is ook redelik strome, maar die water is lekker warm. Die bus het ons toe huis toe gebring, maar ons het nogal lank gery en almal was maar redelik moeg. Ek, Sharon, Annelia, Bea en Trix gaan eet toe by 'n Italiaanse restaurant want Bea en Annelia was moeg vir al die vreemde kos en het net 'n 'egte boere pizza' gesoek. Voor dit het ons vinnig ietsie gaan drink by Habitat, waar Sharon die charcoal latte gedrink het (waarvoor ons eintlik gegaan het, maar toe het hulle net voorraad vir een).Read more

  • Day6

    Juwele maak en vrugte kerf

    April 22, 2019 in Indonesia ⋅ ☀️ 31 °C

    Ons het opgestaan en ontbyt geëet en toe gaan joga doen nadat Wian aan die deur kom klop het en ons gedwing het. Hy sê kamstig dis 'n beginnersklas en volgende oomblik sê hy 'sit albei julle hande op die grond neer en staan op julle koppe' - dit het meer as net 'n oomblik gevat om te besef... die snaakse ding van joga is, daar is sooooooveel geleentheid vir opmerkings, maar ek weet nooit hoe ernstig mens moet wees nie, so ek lag maar hier binne. Ons maak toe vinnig klaar en huur scooters om na ons klasse vir silwer juweliersware maak en vrugte kerf te gaan. Dit vat effens langer as wat ek gedink het, maar ek e-pos toe dat ons gaan laat wees en hulle sê dis geen probleem nie. Dit was die minste van ons probleme... op google maps kry ek toe 'n plek met dieselfde naam (mens kan sien waarheen hierdie storie gaan...) en aangesien ek nie 'n sim kaart het vir Bali nie, maak ek die kaart vooraf oop en ons ry toe net met gps en so bietjie gevoel. Ek het op 'n stadium vir ma en Sharon verloor en teruggedraai om hulle weer te kry (shame, gedra hulle mooi soet en wag op een plek soos ons almal van kleins af geleer is). Einde ten laaste kry ons toe die 'plek' wat glad nie die plek is nie. 'n Vriendelike man sien ek sukkel en stop langs my om te vra waarheen ons oppad is. Hy bel die plek en kry aanwysings en ry toe voor om vir ons die pad aan te wys (teen 'n fooitjie natuurlik, maar ek het dit met 'n ligte hart betaal - wel ek of ma of ons albei, ons geldsake is duister). By WS Art studio aangekom, kry ons 'n blom in die hare en gaan toe om te leer juweliersware uit silwer maak. Ma en Sharon maak ringe - insanely mooi, en ek maak 'n paar oorbelle. Dis nogal harde werk, die juwele maak ding. Jy moet sny en buig en vyl en soldeer en in suur sit en 'n hele lang proses, maar interessant nietemin. Hulle het ook vir ons tradisionele Indonesiese versnapperinge gegee - vrugte (piesang en pynappel) in 'n degie in kookolie gaargemaak. Na die silwer werkswinkel eet ons middagete - hoender, rys en vrugte. Ons leer toe hoe om waatlemoene te kerf met patrone en kry 'n vinnige demonstrasie van komkommers en wortels ook. Ons sien ook hier hoe rys lyk as dit nog groen en aan die plant is. Daarna ry ons terug huis toe, ma moet petrol ingooi, Sharon val amper van haar motorfiets af, maar ons almal maak dit veilig tot by die huis. Ons spring vinnig deur die swembad en ek en Sharon gaan toe winkel toe om goed te kry vir 'bring and share' aandete by die swembad wat Duola gereël het. Almal het lekker saamgekuier en ons gaan maak vir oulaas 'n draai op Carien en Elmien se stoep, om die aand af te sluit, omdat hulle nie verder wou saam kuier nie - hulle is bitter snaaks. Ek het toe 'n draai gaan ry deur die strate en area voor ek my motorfiets moes teruggee. Dis ongelooflik om alleen in die aand op 'n motorfiets te kan ry in 'n heeltemal onbekende land en dit te verken, veilig. Dit doen die siel goed.Read more

  • Day5

    Tempels, koffie, 'n vulkaan en ryslande

    April 21, 2019 in Indonesia ⋅ ⛅ 32 °C

    Ons is vroeg-vroeg op, het American breakfast op die stoep geniet, en toe gestap na die plek waar ons toerbus vir die dag ons sou oplaai - wat so effens verskuif en verwardheid veroorsaak het. Ons moet toe nog 10 minute wag want hulle stuur vir ons 'n nuwe busbestuurder, die eerste een kan nie Engels praat nie. Ons wag toe daar langs die ryslande met die koeie in en neem solank 'n fototjie of twee. Agter op die bus staan 'Free Wifi Hotspot'. Ek vra die bestuurder vir die password, hy sê daar is nie wifi nie, ek sê maar daar staan dit, hy lag en sê 'oh no, no wifi', ek sê 'is it a lie?', hy lag weer en sê 'yes'. Dit daar gelaat. Ons ry toe met ons karaoke bus met die mikrofoon maar geen skerm om karaoke van te sing (tot my ma se groot verligting) nie, na die eerste tempel vir die dag. Dis pragtig, af met trappies in 'n beboste gedeelte, met mos oral, watervalletjies, boomwortels en waterlelies. Volgende gaan ons na die Luwak koffie plantasie waar die gids vir ons klomp verskillende plante uitwys in hulle natuurlike vorm, insluitende kakao, gemmer, tumurie, peper, kaneel, ens. Hy verduidelik vir ons hoe word Luwak koffie gemaak, die Luwak (dis 'n diertjie wat in die nag aktief is en lyk soos 'n apie-kat ding), eet die beste kakao bone, wat dan deur die ensieme die kaffeïen inhoud verminder. Dit word dan na die interne verwerking (uhm) opgetel en omdat hulle net die beste bone eet en hulle spysvertering so hard werk met sy ensieme, is die koffie dan baie 'sagter' (watookal dit beteken - ek drink mos niks koffie nie). In elk geval... dis baie duur. Ons doen toe 'n koffie en tee 'tasting' wat nogal lekker is, met 'n sjokolade tasting na die tyd - gemaak met 60% kakao en die res klappersuiker. Daarna ry ons na die uitkykpunt op Mount Batur ('n vulkaan wat glo in oranje status is, wat beteken hy kan enige tyd 'erupt' - ek kan nie nou aan die Afrikaanse woord kom nie, skuus), waar ons lekker Indonesiese buffet eet en uitkyk op die berg en Batur meer. Die swart op die berg is soos die lawa geloop het met die vorige uitbarsting. Ons gaan toe na die volgende tempel, waar mens 'n sarong moet aanhê en jouself kan was en 'purify' onder sulke fonteine in 'n dammetjie ding. Die water was glo baie koud. Oral in Bali is daar heeltyd wierook wat brand en klein bamboesblare wat in mandjies gevou is waarin hulle elke kort-kort ietsie offer en altyd blomme in sit. Dit staan oral op sypaadjies en by beelde. Daar staan ook natuurlik klomp daarvan by die tempel. Daarna is ons na die rysvelde, maar die musiek in die bus vloei al lekker en almal sing so af en toe saam terwyl Annelia vir ons danspassies uitvoer. Die rysvelde is ongelooflik mooi. Ek en ma koop 'n paar goedjies en gaan sit toe en eet 'n roomys terwyl ons uitkyk op die rysvelde. Daarna kom almal huis toe en spring in die swembad en voeistof versnapperinge word genuttig. Ek, ma en Trix stap na dit na Edelweiss spa en kry voetbehandelings. Ons stel ook vir Trix bekend aan macaroons oppad terug. Nou is almal se blus uit en slaap - tot my frustrasie.Read more

  • Day4

    Monkey forest, yoga barn en vegan vibes

    April 20, 2019, Bali Sea ⋅ ⛅ 32 °C

    Ma het my vroeg wakker gemaak (=not a happy camper). Ons stap toe almal yoga barn toe vir 'n joga klas. Dis 'n groot plek waar jy oploop met die trappe na die boonste vloer. Dit raak redelik vol en daar is mense van alle uithoeke en areas van die lewe. Interessante ervaring. Ons eet toe gou ons ontbyt by die huis en spring vinnig deur die swembad. Daarna wandel ons almal na die Monkey Forest. Dis baie mooi en groen, en is in die middel van Ubud, wat digbewoon is. Die apies is gewoond aan mense en glad nie bang nie, maar mens word gewaarsku om nie te probeer kontak maak met hulle nie omdat hulle onvoorspelbaar is. Ons en Annelia stap toe en ontdek Laka Léké, die rustigste, mooiste plek, waar ons heerlike middagete geëet het - ma 'n pynappel-hoender slaai, ek suurlemoen hoender en Annelia Gada gada - 'n vegetariese gereg met peanut sous. Ons stap toe 'n ompad huis toe deur die woongebied waar mense bly wat huise en karre het en waar honde blaf vir ons omdat ons vreemd is vir hulle. Oral langs die pad staan verkeersmanne op sypaadjies en blaas fluitjies wat die verkeer ophou as voetgangers wil oorgaan. Terug by die huisie vang ma toe 'n middagslapie (oë-rol gesiggie) van 16:00 tot ek haar 19:00 uit die bed sleep (shame sy was seker moeg). Die res van ons het rondom die swembad gekuier en bietjie geswem. Ons gaan eet toe 'n vegan buffet, dmc bietjie met Sharon en Trix en gaan vir 'n massering. Terug by die huis, sit almal en kuier op Elmien en Carien se stoep en bespreek die planne verder oor 'n voggie en daarna word ma se hoofpyn wegge'tap' deur Daniel. Hy doen sulke healing goed. Ons gaan nou ernstig slaap, want more is 'n lang dag wat vroeg begin.Read more

  • Day3

    Bali markies en inkopies

    April 19, 2019 in Indonesia ⋅ ☀️ 31 °C

    Ons skrik wakker van 'n klop aan die deur, net om buite te kom en ons ontbyt op die tafeltjie op ons stoep te kry - gesnyde vars vrugte en 'n hoender-rys gereg. Daarna vang ons 'n oggend slapie om die laaste bietjie jet lag af te skud (lê). 11:00 kom ons almal toe bymekaar by die swembad om die toer reëlings te hoor en almal te ontmoet. Ek en my ma vaar toe die strate in, opsoek na die markie (was dit nou vir jou 'n storie). Skaars 'n blok weg en die strate is toe vir 'n feesoptog (baie mooi kleure, musiek en klere). Ons loop aanvanklik by al die winkeltjies in, net om agter te kom, waar ons gedink het die einde is, is die hoek waar alles eers begin. Ons stap toe straat op en bargain en kyk en vat en beleef. Middagete eet ons Sate in 'n pub restaurant plek en drink vars waatlemoensap en 'n aarbei-piesang-yskoffie. Na 'n rukkie se stap gaan sit ons ons voete in die vissie-waters en gesels met die meisie wat daar werk. Sy werk van 07:00-21:00 op meeste dae en as sy af is slaap sy net. Sy het biologie studeer by die Universiteit, maar nie baie daarvan gehou nie - dit het so R6000 'n semester gekos. Ons stap, bargain, kyk, vat en beleef toe verder, tot ons besluit dis tyd om huis toe te gaan, maar ons weet nie presies hoe om daar uit te kom nie. Ons gaan eet toe fancy roomys by 'n plek sodat ons wifi kan kry (ok, nie net vir die wifi nie, maar ook vir die wifi). So 16:00, oppad terug kom ons op die eintlike Ubud market af (sit gesiggie wat homself in die gesig slaan hier). Ons begin toe met nuwe energie stap, bargain, kyk, vat en beleef en skaf toe nog 'n paar goedjies aan. Oppad terug verdwaal ons 'n straat of twee, maar kry darem weer ons rigting. Effens moeg kom ons by ons plek aan 'n halfuur voor ons moet stap na Cafe du Monyet ('n franse restaurant) waar ons platters met vleise, broodjies en souse kry. Ek en my ma drink die lekkerste dragonfruit sap. Ons en Sharon en Annelia stap toe weer Biah biah plus toe (die platters was bietjie min, maar ons wou nie franse kos by bestel soos die ander nie) en kry 'n roomys oppad terug huis toe. Moeg en warm klim ons toe (onwettig, want jy mag nie na 20:00 in die aand nie) in die swembad en gesels met die ander (wat ook onwettig daar is, want Suid-Afrikaners worry mos nie oor reëls nie). Nou sluit ons die dag af met 'n glasie Vanilla Spice Amarula wat ek al die pad uit duty free op my rug gedra het (dit was darem die moeite werd). Lekker verjaar liewe Pikkie, ons wens egter jy was by ons, dit sit 'n bietjie bitter aan die soet dag, maar ons sal opmaak met 'n geskenkie.Read more

  • Day2

    Eerste dag in Ubud

    April 18, 2019 in Indonesia ⋅ ☀️ 32 °C

    Ons het inge'book' by ons Bungalows en toe 'n vet middagslapie met die aircon aan gevat (wel, meer 'n middagslaap, want ons het eers 19:00 wakker geword - jet lag en so). Ons vaar toe die strate in (met die 100 000 Rupiah wat ma getrek het - so R100, en my 2 500 000, want as mens nie lees nie...) en gaan koop 'n 'lekker sagte wit broodjie' by die winkel (want dis mos die toppunt in my ma se lewe - 'sagte wit broodjies'). Ons het toe by Biah Biah Plus gaan eet. Hulle bedien al die kos op piesangblare. Piesang is ook die Indonesiese woord daarvoor. Ek lees toe so vinnig oor die invloed van Indonesië in Suid-Afrika en sien dat dit eintlik die Wes-Indies vroeër was en is waar kaap-malay vandaan kom. Daar is dus baie Afrikaanse woorde wat dieselfde hier is. Kos is baie goedkoop hier (dit kan seker duur wees ook by plekke) maar dis vrek lekker. Ons loop toe verder en oppad terug gaan ons vir 'n voet massering elk. Dis oop tot 23:00 - wel omtrent alles is tot dan oop (ek dink dis sodat mense middagslape kan vang in aircon, want dis maar lekker bedompig en warm hier). Nou is ons lekker moeg en gaan (weer) slaap.Read more

  • Day2

    Singapore

    April 18, 2019 in Singapore ⋅ 🌙 28 °C

    Na ma toe amper die MAC grimeer man met haar sak geslaan het in 'jy weet waar' toe sy haar sak van haar rug af haal en hy met 'n gepynigde gesig snak na asem, en ons bietjie rondgeloop en by die (baie teleurstellende) Shongololo lounge gesit het, is ons uiteindelik Singapore toe in 'n baie lang vlug (ek oordryf, want New York tot Johannesburg verlede jaar was 14 ure, maar steeds). Ma was al man down nog voor ons opgestyg het. Op Singapore aangekom, verken ons toe die lughawe - wat ongelooflik is! Dis super mooi met tuine oral, 'n sonneblom tuin op die dak, interessante winkeltjies en alles is baie modern en goed opgepas. Twee en 'n half uur vlug later, het ons by Bali aangekom waar ons bestuurder ons opgelaai het (was dit nou 'n storie om hom uit te ken!) en na Ubud View Bungalows gebring het.Read more