Kanada en Alaska 2018

August - September 2018
Ouma is hierdie jaar 84 en wou nog altyd Alaska toe gaan. So nou gaan ons.
  • 19footprints
  • 4countries
  • 20days
  • 107photos
  • 0videos
  • 32.2kkilometers
  • 30.5kkilometers
  • Day 1

    Die reis tot in Kanada

    August 23, 2018 in Switzerland ⋅ ⛅ 25 °C

    Ons het 23 Aug gevlieg van JNB af om 19:25, nadat ek 15:30 eers ons paspoorte met Kanadese visas gekry het by die ambassade (met baie mooi praat en oortuiging). Gelukkig het tannie Sarie vir ouma, wat al van 11:00 op die lughawe sit, mooi opgepas. Hulle het ouma in 'n rolstoel gesit en oral heen gestoot, wat alles baie makliker gemaak het. Ons het al die lyne geskip en is eerste in die vliegtuie laat ingaan (die hele trip tot in Kanada). By JNB en Zurich het ons in die lounge gaan wag. Beide vlugte was omtrent 10ure elk. Alles het heel glad verloop.Read more

  • Day 2

    Ons kom by Bets-hulle aan

    August 24, 2018 in Canada ⋅ ⛅ 16 °C

    Die hele proses deur immigrasie in Vancouver was heel maklik. Ons moes net detail intik en foto's neem op 'n rekenaar en na sekuriteit gaan, waarna ons, ons bagasie gaan haal het en na die treinstasie ('Skyline' - werk basies soos Gautrein) is wat ons na die busstasie geneem het waar ons die bus gekry het na die Ferries toe. Oral langs die pad is blomme op die sypaadjies. Die mense was heeltyd hulpvaardig langs die pad en het ons gehelp met ons bagasie en geselsies aangeknoop. By BCFerries het ons die ferry gevat van Tsawwassen na Swartz Bay. Die ferry het ouma se verwagtinge oortref, in haar gedagtes het sy die prentjie van 'n hout 'vlot' gehad wat een kar op 'n slag oor die water neem, soos by Vic falls in Zimbabwe. Sy kon nie glo die groot 'gebou' gaan op die see ry en ons eiland toe neem nie. In die ferry het ons in die Pacific buffet restaurant gaan sit waar ons als mooi kon sien en lekker eetgoedjies kon geniet. Ons het ook orca's oppad gesien. Oral langs die 'pad' is eilande met huisies teen die see. By Swartz bay het Bets, Paul en Cordel ons kom kry. Baie drukkies en trane later is ons toe huis toe. 3 jaar is 'n baie lang tyd en dit voel nog steeds onwerklik om hulle te sien. Oppad huis toe het ons by Tim Horton's gestop vir 'n koffietjie en maple doughnuts en pastries. Amazing!!! Ons is toe na 'n 'lake' naby hulle huis waar mense glo salm vang. Hierdie was die eerste plekke waarheen hulle gegaan het toe hulle op die eiland gekom het. Ons is toe na hulle huis toe, wat tussen klomp bome en natuurskoon is. Chrissa het toe van die werk (ja, sy werk by 'n wynplaas, ek kan dit nie glo nie) af gekom en weer 'n tranedal veroorsaak. Paul het 'n vleisie gebraai en daarna het ons gaan slaap - pootuit, maar erg tevrede.Read more

  • Day 3

    Verken die eiland

    August 25, 2018 in Canada ⋅ ☁️ 14 °C

    Ouma het vroegoggend 'n stappie gevang in die tuin en die wêreld gaan verken. Paul het vir ons lekker ontbyt gemaak (dis altyd 'n bonus om by 'n chef te kuier). Ons het Bets-hulle se nuwe huis gaan kyk daarna. Daar is 'n massiewe boom wat hulle opsaag en meubels van gaan maak. Die boom het mierskade gehad onder en sou omval so toe moes dit afgekap word. Die huis is amper klaar. Dis 'n ongelooflike huis. Daar is nie woorde om dit te beskryf nie! Dis teen 'n dennewoud, wat grens aan die see. Die huis is bo-op 'n koppie, so mens se uitsig is die woud en see, en op 'n mooi dag, die berge in Amerika. Die huis is massief en erg mooi binne. Droomhuis. Ons het toe gery via 'n indiaan (first nations) village om Cordel se hokkie te gaan kyk. Dit was proewe vir die eiland span. Sy het so goed gespeel. Aandete was Wendy's burgers, want mens moet dit ten minste een keer eet terwyl mens in Kanada of Amerika is. Dit was nog lig tot amper 21:00 so ons het toe rondgery verby die strand na Sooke (die volgende dorp) en na stroompie toe om bere te soek, want ek wou 'n beer sien. Ons het net spore gesien uit die water uit, ongelukkig (volgens hulle, gelukkig). Langs die strand is oral voël beelde wat uit dryfhout gemaak is. Paul het ons gaan wys waar die salm gewoonlik inkom wanneer dit gereën het en hoe salm gewoontes werk. Daar is verskillende salm uit die Pacific. Die stroom waarheen ons gister was is waar Chum salm 'broei'. Hulle lewe net 4 jaar. Salm kom altyd terug na die stroom waar hulle gebore is om hulle eiers te lê en gaan dood na die eiers gelê is. Pienk salm kom net elke 2de jaar terug.Read more

  • Day 4

    Rustige eiland dag

    August 26, 2018 in Canada ⋅ ☁️ 15 °C

    Vandag was net 'n rusdag so voor die Banff toer begin. Cordel het vanoggend weer hokkie gespeel. Daarna het ons Mariet (tannie Jo se kleindogter) gekry vir 'n koffietjie in die stad na ons by die kinders se skool verby gery het. Paul het bobotie gemaak en ons het gou gaan ry na ete sodat ek kan gereed wees om more met die huurkar Banff toe te ry aan die regterkant van die pad. Ons het klomp bokkies gesien en 'n vinnige draai gemaak by die strand. Vandag was baie administratief en ek het die finale vlugte en aktiwiteite se reëlings afgehandel. More is dit vroeg opstaan en Vancouver toe om die kar te kry.Read more

  • Day 5

    Roadtrip na Banff

    August 27, 2018 in Canada ⋅ ☁️ 17 °C

    Ons het douvoordag opgestaan en ferry toe gegaan om 'n kar te gaan haal by die lughawe in Vancouver. Op die ferry het ons weer Pacific buffet breakfast geëet. Ouma is erg beïndruk met die ferry en ete storie. Volgens haar is dit die ideale manier om gaste te bederf as hulle kom kuier ('n trip op die ferry met 'n buffet), dis volgens haar volmaak. Sy beveel ook aan dat alle dokters oorlaaide pasiënte soontoe stuur vir ontspanning. Verder het sy besluit, sou ek haar per ongeluk daar los, gaan sy 'n werkie kry op die boot en heen en weer ry. Sy is gelukkig tans nog werkloos en van die boot af. Van die lughawe af het ons gery (aan die regterkant van die pad nogal - vir almal wat bang is, dis glad nie so erg nie, mense maak 'n baie groter ophef daarvan as wat dit verdien) tot in Revelstoke, waar ons so 23:30 aangekom het. Ons bly by Mulvehill en dit lyk baie mooi, maar ons sal more verken. Dis teen 'n meer en mens hoor die water. Oppad het ons by Bridal falls gestop en in die begin van die bos gestap, maar nie tot by die watervalle nie, want ons tyd was baie beperk. Ons het toe, oppad na Kamloops, by Fountainview academy aangegaan. Ouma is mal oor hulle musiek, so toe koop sy 'n cd en DVD en ons kry 'n toer van die plek. By Kamloops het ons kos gekry en ek het self (vir die eerste keer) petrol (of soos hulle sê, gas) in die kar gegooi. Ouma het gedink dis baie snaaks, want volgens haar was my gesig baie gespanne. Oe, mens kry ook drive thru banke/atm's hier. Ons het toe uiteindelik veilig in Revelstoke aangekom na baie ure, en is nou pootuit.Read more

  • Day 6

    Banff en die mere

    August 28, 2018 in Canada ⋅ ☁️ 12 °C

    Ons het rustig opgestaan en ontbyt geëet by die plek waar ons gebly het. Ouma het 'n stappie gevat en foto's gaan neem. Daar was 'n plaag van muskiete toe ek my kop by die deur uitsteek, so ek het net gehardloop, foto's geneem en terug gehardloop. Daarna het ons gery na Lake Louise, foto's geneem en verder gery na lake Minnewonka, waar ons op 'n cruise gegaan het. Die kleur van die water is turquoise agv die gletsers. Dis een van die grootste mere in Banff, omtrent 28km x 1km x 80m. Na die cruise het ons na Sulphur mountain gegaan waar ons met die Gondola gery het tot bo-op die berg. Die natuur was al die pad asemrowend. Ons het toe gekom tot in Calgary, waar ons vanaand en moreaand slaap.Read more

  • Day 7

    Gletser en skywalk

    August 29, 2018 in Canada ⋅ 🌧 3 °C

    Ons het vroegoggend gery sodat ons betyds kan wees vir ons 12:45 gletser avontuur op mt Athabasca. Ons het met 'n bus gery tot by die 'all-terrain vehicles'. Daar is 24 van hulle in die wêreld. 22 is by mt Athabasca en 2 is op Antarktika. Die gletsers beweeg heeltyd, tussen 'n cm en 'n meter 'n dag. Die wrywing met die aarde maak dan 'rock flour' wat veroorsaak dat al die mere so turquoise is soos dit saam met die water afloop. Ons het gery met die all-terrain vehicle tot op die gletser en daar afgeklim en rondgeloop. Dit was baie glad, so ouma het foto's geneem en toe weer ingeklim. Hoër op op die gletser het die wind gewaai en dit was 'n reënerige dag, so dit was baie koud en nat... maar die moeite werd. Daar is gate in die gletser waar water val ('n mill) wat tot 100 meter diep kan wees, maar dis baie mooi. Die donker dele op die foto's wat lyk soos die onderkant van die berg by die gletsers is eintlik ys. Bome het net 30-60 groei dae per jaar by die gletsers so bome van omtrent 400 jaar oud lyk nog na jong boompies. Na die gletsers het ons die skywalk gaan doen. Dis 280m hoog met 'n glas dek. Die dek kan 2 boeing 747's se gewig hou, of 'n paar duisend bere of 'n paar miljoen eekhorings. Daar is baie bome wat doodgaan a.g.v. miniature beetles. Daarna is ons Sylvan lake toe en het by dr Elsabé-hulle gekuier. Sy het ons die dorp gewys, haar kliniek en noodeenheid en daarna het hulle die lekkerste salm gemaak vir aandete. Ouma meen dit was die hoogtepunt van die dag. Ons het nog niks wilde diere gesien nie, maar ons hou maar nog ons oë oop.Read more

  • Day 8

    Reis missions

    August 30, 2018 in the United States ⋅ ☁️ 19 °C

    Lang dag. Mens moet glo vroeër in-check by die lughawe as wat mens jou bagasie ingee hier. Wat ek nie geweet het nie. Ons is toe letterlik 6 min laat daarvoor omdat ons die huurkar moes teruggee en nie die plek kon kry nie en moet toe ons vlug skuif. Daar is toe net plek vir 1 op die volgende vlug na Victoria. Ons vlieg toe Vancouver toe, net om uit te vind die ferries na Seattle (vanwaar ons vlieg na Alaska) werk nie vandag nie. Ons kry toe gelukkig 'n vlug van Victoria na Seattle, maar arme Betsie het al ons goed by die huis gelaai en ons opgetel by die Vancouver ferry en direk lughawe toe gevat, waar ons vinnig ons goed moes oorpak en in-check. Ons het met 'n klein vliegtuigie gevlieg Seattle toe, maar dis baie oulik en ek hou meer van dit. Van Seattle af het ons toe gevlieg na Anchorage waar ons 'n regte geel taxi gery het tot by ons verblyf. Ek sit 'n paar bonus foto's op van Banff, want vandag was net reis.Read more

  • Day 9

    Seward en die gletsers

    August 31, 2018 in the United States ⋅ ☀️ 15 °C

    Cristina van Mexico het ons by Qupqugiaq opgelaai en gevat na waar die bus ons gekry het. Sy is die Lyft bestuurder gewees - dit werk basies soos uber. By die bus het hulle ons tasse ingelaai en ons het gery na Seward (mens sê dit soos Stuart sonder die eerste T). Ons het ingecheck vir ons gletser toer en toe bietjie rondgeloop in die winkeltjies. Die gletser toer het 11:00 begin en ons het net na 17:00 teruggekom. Ons het orcas, seeleeus, puffins en see-otters gesien. Vir middagete het hulle buffet Salm en Primerib gegee, net na ons deur die gulf of Alaska is. Na ete het ons by die gletsers aangekom en rond gedobber en gesien hoe 'n paar klein stukkies 'calve'. Daar was 'n groot stuk wat besig was om af te breek, maar dit het te lank gevat. Die hele toer lank het 'n park 'ranger' (Lynne) kommentaar gelewer en inligting gegee. Hulle het toe margaritas (en ook sonder alkohol) bedien wat met gletser ys gemaak is. Die shuttle het ons toe gekry en gebring na die Windsong Lodge waar ons vanaand slaap.Read more

  • Day 10

    Sled dog en Alaska railroad

    September 1, 2018 in the United States ⋅ ☀️ 14 °C

    Ons het begin met 'n lekker laat oggend. Ons het 10 uur met die shuttle ingegaan dorp toe en bietjie rondgeloop. 11 uur het ons toer begin met 'n klein bietjie geskiedenis oor Seward en toe is ons Idadaride toe, waar Seavey se Iditarod sleehonde is. Sy pa en sy seun ry ook. Hy, Mitch Seavey, het in 2017 die resies gewen, en ook die wêreldrekord gebreek. Hy het die meer as 1000 myl in 8 dae, 3 ure en 47 minute klaargemaak. Hulle slaap saam met die honde buite en maak kyk alles van elke hond deur elke keer wat hulle stop. Die honde is Alaska huskies, nie siberian huskies soos wat almal ken nie. Hulle is vinniger en kleiner as siberian huskies. Hulle oorsprong, omtrent 30 generasies terug is van straathonde uit Seattle wat gestuur is om werk te doen. Die resies word gehardloop met maksimum 14 honde en mag nie vervang word nie, so as hulle seerkry of siek word, word hulle uit die span gehaal. Hulle oefen nou al vir volgende jaar se resies in Maart. Die Seaveys is baie bekend en het vir 6 jaar in 'n ry gewen. Na die honde het ons middagete by Resurrection restaurant geëet en daarna is ons Exit Glacier toe. Oppad daarheen het ons 'n arend in haar nes met kleintjies gesien. Ons het ook 'n swart beer in die pad gesien. By exit glacier het ons gestap tot mens die gletser mooi kan sien en toe het ons teruggery en deur Seward gery. Daar word omtrent elke jaar 'n groot 'mural' geverf en Seward is bekend daarvoor. In 1964 was daar 'n baie groot aardbewing, 9.2. Dit is glo die tweede grootste een wat nog aangeteken is. Daarna was daar 'n tsunami in Seward en geen huise mag nou teen die water gebou word nie. Ons is toe met die alaska railroad trein terug Anchorage toe. Ons het baie gletsers gesien, een volkaan, 2 takbokke en waar 'n dorpie was wat met die aardbewing heeltemal weggesink het. Ons het ook naby Anchorage vinnig beluga walvisse gesien. Almal op die toer het ouma gelove en noem haar grandma. Sy het die een vietnamese meisie amper met die stapstok geslaan toe sy iets anders wil doen, toe sê die meisie 'whoa, grandma, I only met you now'. Ouma se blus is uit so slaap sy al.Read more