Turkye 2020

November - December 2020
Eerste reis post COVID 19 lockdown en Riekie se eerste oorsee trip.
  • 9footprints
  • 1countries
  • 13days
  • 54photos
  • 0videos
  • 1.7kkilometers
  • 600kilometers
  • Day 2

    SA na Turkye via Qatar

    November 22, 2020 in Turkey ⋅ ⛅ 8 °C

    Jaco het ons gaan aflaai by George lughawe. Reis in COVID tyd is interessant. Mens kan net drop & go. Dit was Riekie se eerste vlug ever. Sy wou skree, maar het na vele oortuiging, dit darem inwendig gedoen. En gin gedrink vir haar hoofpyn (groot oê gesiggie). By Johannesburg het Pikkie en Damian ons kom haal om Griekse kos te gaan eet by Emperor's palace. Riekie moet mos nie ge'dare' word nie, anders doen sy handstand walks in die parkeerarea. Met die incheck het alles glad verloop. Mens vul net 'n gesondheidsvorm in kan dan deurgaan. Die lughawe is tjoepstil. Vreemde tye. Meeste winkels was toe, so ons het in Shongololo lounge gaan sit. Van Johannesburg af het ons Qatar toe gevlieg, rondgeloop op die lughawe, 'n koffietjie gedrink en toe gaan stort in die lounge. Riekie neem ALLES af, want Annette het gesê sy moet 'want jy dink jy gaan alles onthou, maar jy gaan nie.' Van Qatar af het ons Istanbul toe gevlieg en so 19:00 geland. Na ons uiteindelik uitgefigure het hoe om 'n Istanbul kaart te koop het ons 'n bus gevat tot by Bostanchi stasie waar ons by Mamaray 'n moltrein gevat het tot by Sirkeci. Na ons met baie roltrappe op is het ons ons hotel geloop en soek. Almal langs die pad was baie vriendelik en het hetyd hulp aangebied. Selfs mense op motorfietse en karre het gestop en gevra waarna soek ons. Ons het uiteindelik 23:00 by die hotel gekom, maar is nou pootuit. Die hotel is oulik met interessante dekor en ontbyt word more in die tuin bedien.Read more

  • Day 3

    Dag 1 in Istanbul

    November 23, 2020 in Turkey ⋅ ☀️ 12 °C

    So, die tuin is nie werklik 'n tuin nie. Ons het wakker geword en reggemaak vir ontbyt wat in die 'tuin' bedien was. Dis 'n vertrek met glas mure met bome rondom - steeds mooi. Vir ontbyt het ons 'n omelet met verskillende broodjies, kase, vrugte en olywe gehad. Ons het vinnig die plekkies om die hotel gaan verken en turkish delight en baklava gekoop. Ons toergids, Perihan, het ons toe kom haal by die hotel en ons na Topkapi Palace, Hagia Sofia, Hippodrome en Blue Mosque toe gevat (Basilica cistern is toe agv COVID). Die geskiedenis en om dit te kan aanskou laat mens woordeloos. Dit kan glad nie beskryf word nie. Dis maar iets wat mens net self moet beleef. Die blou moskee word tans gerestoureer so mens kan ongelukkig nie als sien nie. O, en Riekie maak handstands op demand op enige plek vir foto's - sulke gehoorsame model. Perihan het ons ook gevat na 'n plek waar hulle turkse tapyte maak. Dit word met dubbelknope handgemaak en vat baie lank. Daar kan nie ooit 2 tapyte handgemaak word wat dieselfde lyk nie en die waarde vermeerder met tyd. Dis baie, baie duur. Hy het vir ons appeltee gegee en Riekie het op die Turkse tapyte gesit en appeltee drink terwyl die roep vir gebed van die moskee oor die luidsprekers gespeel het - 'n ware Turkse ervaring. Ons is toe Grand bazaar toe waar Perihan ons na 'n paar mense wat sy ken se winkels gevat het, onder andere 'n handsak handelaar wat in 'n agterpaadjie weggesteek is en bietjie verdag lyk, op sy beste, maar as mens binnekom is dit vol handsakke, ens, soos in 'n vertoonkamer. Riekie het gesê dit voel soos iets uit Taken 2. Hulle het egter vir ons lekker turkse koffie gegee. Ons het toe vir Perihan gegroet en ek en Riekie het toe by 'n restaurantjie by Grand bazaar geëet. Sy het 'n large wrap geëet en die man wat ons bestelling gevat het, het haar snaaks aangekyk en daarna gesê ons het seker nie meer plek vir nagereg ook nie. Ek het 'n hoender pide geëet. Dis amper soos 'n pizza met kaas en hoender, maar is in 'n bootvorm met omgekrulde kante. Ek het ook Ayran saam met aandete gedrink, wat basies yoghurt en water is, maar dit was nie baie lekker nie. Ons het toe teruggestap hotel toe via 'n paar winkeltjies. By een winkel het hulle vir ons granaat en safraan-, en mint en safraan tee gegee. Dit was erg lekker. Terug by die hotel het ons net opgevang en gesels tot 02:00 (groot fout, want ons moes weer 07:00 wakker wees).Read more

  • Day 4

    Dag 2 in Istanbul

    November 24, 2020 in Turkey ⋅ ☀️ 11 °C

    Annette verjaar!!!!! Ons het wakker geword en gaan ontbyt eet - dieselfde as gister. Perihan het ons toe kom haal en ons is met die trein na die nuwe paleis, Dolmabahçe, en clock tower toe. Die paleis is asemrowend en kan, weereens nie in woorde beskryf word nie. Die grootste kandelaar, wat 4 ton weeg, is in die paleis, en dit het iets soos 1500kg goud gevat om die goud aan die binnekante te verf. Ons het ook die harem besoek, waar sultan se 20 vroue gebly het. Die dekor is ongelooflik. Mens mag egter nie foto's neem nie. Ons is van daar af na Bosphorus waar ons met 'n ferry gery het langs die ou Europese deel, die nuwe Europese deel en die Asiese deel. Daar is 2 kastele langs die Bosphorus wat uiteindelik gelei het tot die verowering van Istanbul (Konstantinopel in daai tyd). Die duurste huise in Turkye word ook langs die Bosphorus aangetref (ongeveer 128 miljoen dollar). Daar is ook 'n militêre skool wat een jaar geen studente gegradueer het nie omdat hulle almal by Gallipoli oorlede is. Na die boot toer is ons Spice bazaar toe, waarna ons ons bagasie gaan haal het en lughawe toe is om Cappadocia toe te vlieg. In Cappadocia het die karmens ons by die lughawe kom oplaai en na die kantoor toe gevat. Riekie bly toe sommer in die kar sit, maar die tipe ding vat mos lank, so sy het bietjie begin stres, want sy weet nie waar hulle my heen gevat het nie en dis aand. Ek het toe darem teruggekom en ons is toe daar weg, met ons manual-gedrewe kar oppad Güreme toe. Ons het langs die pad 'n truck stop gekry en met baie beperkte taalgebruik het die omie vir ons kaasbroodjies gemaak. Die gesprek het so afgeloop...
    Ek: do you have food?
    Hy: eat?
    Ek: yes
    Hy: bread?
    Ek: yes please
    Hy: cheese? En toe klomp turkse goed
    Ek: just cheese please
    Hy: ok.
    Einde.
    Ek drink toe 'n fermented hot (nie in temperatuur nie, maar in chilli) black carrot tea. Moenie.
    Ons ry toe tot by ons hotel, Erenbey cave hotel, waar ons in 'n grotkamer bly.
    Read more

  • Day 5

    Lugballon en fairy chimneys

    November 25, 2020 in Turkey ⋅ ⛅ 5 °C

    Ons skrik toe 05:50 wakker en moet 06:20 klaar wees vir die lugballonrit. Ons het alweer na 01:00 gaan slaap agv kletsery. Die Flower balloon company het ons kom haal en ons het gesien hoe 'slaan hulle die ballon op'. Ons het toe gery met die lugballon (dit was vrek koud) oor Cappadocia met sonsopkoms. Dit was asemrowend. Nie iets wat mens kan beskryf nie. Na die lugballon is ons terug hotel toe vir ontbyt, wat baie indrukwekkend was. Die toergids het ons na ontbyt kom haal vir North Cappadocia tour. Ons het eerste die open air museum gaan besoek waar daar klomp duiwe hokkies in die klip gekap is. Hulle het dit gedoen om die ekskrement te verkoop vir bemesting. Daar is ook oral grotte wat as kerke gebruik is in die Bybelse tyd, wat nog die storie van Jesus, ens geverf het teen die dakke en mure. Daar was 'n tydperk wat die kerk die mense verbied het om mense te teken, so baie van die prente se gesigte is uitgekrap. Dis ongelooflik om daar te kon loop en te kon ervaar. Daarna is ons na nog 'n kerk, Tokalı, toe, wat nog baie prente het en insig gee in die lewenstyl van daardie tyd. Ons het middagete gaan eet by die toermaatskappy se hotel omdat al die restaurante toe is met lockdown, en net wegneemetes kan gee. Eduardo is van Puerto Rica, maar werk in VSA. Hy was saam met ons op die toer - ons was die enigste 3 wat Engels praat, so ons het oral saam geloop en foto's geneem. Ons was by nog 'n paar plekke waar ons die fairy chimneys kon sien. Dis gemaak deur vulkaan aktiwiteit en jare se erosie. Die middag het ons 'n plek besoek waar hulle keramiekwerk doen. Hulle het vir ons gewys hoe hulle dit doen en ek kon toe probeer om self 'n pot te maak. Die arme man wat verduidelik het moes net heeltyd my pot red, want hy het maar baie wobbelrig uitgekom. Die 'fabriek' is al 4 generasies in hulle familie en als word op die tradisionele manier gemaak. Van daar af het ons na 'n wynkelder gegaan omdat Cappadocia bekend is vir wyn, maar hulle kon ons nie regtig baie wys nie, agv lockdown. Terug by die hotel, het ons Pottery hoender kebab bestel by Dibek restaurant, wat hulle kom aflewer het. Die kos word in 'n kleipot gaargemaak en dan oopgekap en uitgegooi voor ons. Dit was baie interessant.Read more

  • Day 6

    Roadtrip na Antalya

    November 26, 2020 in Turkey ⋅ ☁️ 4 °C

    Ons het vroeg opgestaan in die yskoue en op die dak van die hotel gaan sit om te kyk hoe die lugballonne (nie) opstyg. Die weer was ongelukkig nie goed genoeg vir lugballonne nie so hulle het toe nie opgestyg nie. Ons neem toe maar net klomp foto's op die dak. Na ontbyt het ons gepak en gery na Antalya, want dis 7 ure se ry. Ons het by 'n ondergrondse stad aangegaan, maar dit was toe - seker agv lockdown? Naby Konya het ons gaan kyk na die Saltanhanı waar mense gestop en oorgebly het met hulle diere en goedere op die 'silk route'. Ons het toe net verder gery tot by Antalya, oor groot berge met sneeu. In die stad was daar weer meer verkeer en mense ry maar sleg, eintlik maar net soos in Gauteng. Riekie maak of sy stres en nie wil kyk nie en sy sê sy het haar naels afgekou agv stres (maar sy jok - dit het gebreek toe sy haar tas van die band afhaal in die lughawe), haha. Sy sê, toe ons net in die stad inry, 'en hier... f@k my brein uit', as sy moes ry. In Antalya het ons by La Cactus hotel aangekom, en na ons ons goed afgelaai het, see toe gegaan en gaan koffie en straatkos koop en langs die strand geëet. Daar is 'n lekker buite gym en klomp oulike plekkies langs die strand. Ons het darem bietjie vroeër gaan slaap... 00:30.Read more

  • Day 7

    Rustige dag in Antalya

    November 27, 2020 in Turkey ⋅ ⛅ 17 °C

    Ons het opgestaan en gaan draf langs die see, waarna ons ontbyt gaan eet het. Ons het besluit om 'n rustige dag te vat na ons 'besige skedule' die laaste paar dae (haha). Ons het toe gaan swem in die see. Die water is so helder jy kan jou voete sien en dis lekker warm. Riekie het in die son bly lê (en geslaap op die strand) en ek het goed gaan uitsorteer by die hotel. Umit (die hoteleienaar) sê toe ek moet gaan kyk hoe lyk dit op die dak. Hy het aangebied om vir ons aandete op die dak te bedien. Die res van die dag het ons net rondgeloop en winkels besoek. 17:00 het ons gaan aandete eet (na ek uiteindelik my weg uit die parkeerplek kon vind en teruggaan hotel toe). Op die dak, bedien hulle vir ons klomp lekker kos (hulle eet baaaaie brood hier) en Umit wys ons hoe om tradisionele (ek is nie doodseker hoe tradisioneel drank in 'n, hoofsaaklik, Moslem land is nie, maar ons het dit so aanvaar) Rakı te drink. Dit proe soos liquorice en verander van kleurloos na wit as mens water bygooi (ja, ek het gesê dis 'n alkoholvrye jaar behalwe 'n glasie sjampanje by troues, maar daar was geen troues nie agv Covid, so ek het hierdie my uitsondering gemaak). Ons het weer langs die strand gaan stap en daarna kamer toe gekom en girls night gehou met gesig-, hand- en haarmaskers.Read more

  • Day 8

    Old city en roadtrip na Pamukkale

    November 28, 2020 in Turkey ⋅ ☀️ 13 °C

    Ons het opgestaan en ontbyt gaan eet, maar moes wag vir ons klere wat gewas is voor ons kon ry. Toe dit uiteindelik terug is het ons na die hek van Hadrian gegaan en rondgeloop in die ou stad, wat verskriklik mooi is. Van daar af is ons na Düden watervalle in die stad. Die watervalle het grotte agter hulle, wat in 'n oorlog gebruik was as 'n weermag basis omdat mens dit nie kan sien as jy voor die watervalle staan nie. Ons het toe verder gery en langs die pad by 'n restaurant gestop wat net sampioendisse bedien. Riekie het sampioen küfte geëet en ek het sampioenkerrie geëet - van die lekkerste kos op ons trip. O, en daar was natuurlik sampioenbrood ook. Ons het laatmiddag by Pamukkale aangekom en besluit om nie verder te ry nie, maar eerder hier te bly vanaand en more die soutbaddens te verken. Lekker vroeg aandjie.Read more

  • Day 9

    Pamukkale en Ephesus

    November 29, 2020 in Turkey ⋅ ☁️ 14 °C

    Ons het wakker geword en ontbyt gaan eet in die restaurant areatjie op die boonste vloer van die hotel. Dis omring met vensters en kyk uit op die soutbaddens. Daar was 'n lugballon wat mense oor die soutbaddens vat. Ons het toe gestap na die ingang, maar agv lockdown maak hulle eers 11:00 oop. Riekie het al die rondloper honde aangeneem en hulle volg haar oral terwyl sy met hulle praat en vir hulle maniere leer - in Afrikaans nogal. Ons gaan pak toe ons goed en laai dit in die kar. 11:00 kon ons darem ingaan. Mens moet jou skoene uittrek om op dit te loop, maar jou voete vries af en dis nat. Van die poele is lekker warm en ander is yskoud. Aan die bokant lê die ruïnes van Hierapolis, met 'n hamam en 'n swembad wat die bron van die water van die baddens is, met stukke pilare en ander ruïnes op die bodem. Ons het rondgeloop en Riekie moes weer oral op haar hande staan vir foto's. Op een plek het die sekuriteitswag gekom en haar ook kom afneem - baie snaaks. Ons het toe afgegaan en geswem in een van die poele en toe teruggegaan en gery na Ephesus. Rondom middagete was ons al lekker honger, maar oral waar ons indraai is die plekke toe. Ons stop toe op die ou einde by 'n vulstasie met 'n restaurantjie. Die oom agter die toonbank kan nie Engels praat nie en roep toe iemand anders. Ek dink elke besigheid het iemand wat hulle kan roep om Engels te praat, want dit gebeur gereeld. In die vertoonyskas is net klomp vleis stews. Ons vra toe of hulle Pide het, want dis omtrent al wat ek kon onthou en daar is nie 'n manier wat mens daai Turkse menu sonder prentjies kan verstaan nie. Hulle het nie Pide nie, maar op die ou einde kry ons toe lekker kebabs. O, Annette sê my stories is nie so snaaks soos altyd nie, maar dis so moeilik, want die hele trip het basies bestaan uit lag en kos. Ek kan nie dink watter snaakse goed om te sê nie. Behalwe dat ons besluit het 'merhaba', wat 'hallo' beteken, kan gebruik word vir alles. So ons antwoord op enige vrae is merhaba. Daarsy Annette... dit was een van ons top grappies - is nog steeds. In elk geval, ons ry toe verder en kom laatmiddag aan by Ephesus. Dis uitgrawings van die stad aan wie Paulus die brief van Efesiërs geskryf het. Mens se brein kan dit nie begryp, as jy daar sit, in die amfiteater wat 24 000 mense kan vat, en afkyk op 'n hele marmerstraat met marmer pilare wat lei na die dorp, en dis werklik nie. My brein is te klein vir die omvang daarvan. Al die pilare het patrone wat uitgekerf is - sekerlik met die hand - wat alles dieselfde lyk, maar nie presies dieselfde groottes nie. Daar is ook die biblioteek van Celsus en die kerk van Maria - die eerste kerk in die stad. Dis iets wat mens self moet beleef om te waardeer. Ons is na donker daar uit en was die enigste mense oor. Ons gaan toe na die blyplek waar ons die vorige aand sou bly, Ephesus Palace in Sirinçe, en kry 'n massiewe kamer, met 4 beddens. Die spieël in die badkamer is ook die venster na buite, so as jy die 'spieël' oopmaak kyk jy uit op die straat.Read more

  • Day 10

    Terug Istanbul toe

    November 30, 2020 in Turkey ⋅ ⛅ 13 °C

    Ons sou via Troy terug gery het, maar die kar moes vanaand terug wees so ons sou heeldag net ry. Ons besluit toe om terug te ry Istanbul toe en die volgende 2 dae net rustig daar te spandeer. Oppad terug trek ek ons af by 'n stil, groot parkeerplek, want Riekie moet darem een keer in haar lewe aan die regterkant van die pad bestuur... mens weet nooit wanneer mens dit weer nodig het nie, dan kan jou brein dit solank verwerk. Ek wens ek kon die video post... priceless. Terug in Istanbul kry ons 'n baie oulike plek op die 8ste vloer, met 'n mooi uitsig van die stad. Ons vat die aand die kar terug, maar was dit nou 'n storie. Die GPS het ons 3 keer op 'n pad wat nie bestaan nie laat afdraai en dan moet ons basies om die hele lughawe ry. Soveel so dat ons petrol ook toe nou op raak en ons 'n vulstasie moet kry. Die vulstasie is in die taxi hemel, soos ons dit genoem het, want oral waar jy kyk is net taxi's. Dit het ook 'n goeie 3 keer se om ry gevat voor ons die vulstasie se ingang kry. Uiteindelik het ons petrol in die kar gekry en die lar by die regte plek gekry en is huis toe om te gaan slaap.Read more