traveled in 20 countries Read more South Africa
  • Day 11

    Koffie uitstappie en terug na SA

    August 17, 2023 in Rwanda ⋅ ⛅ 26 °C

    Ons staan weer vroeg op, want ons moet 7uur ry vir ons koffie uitstappie naby Muhanga (waar die Zipline is) en dis amper 2 ure se ry.

    Ons kom by Azizi Life Centre aan, wat die uitstappies reël. Hulle het 'n baie oulike winkeltjie waar hulle kuns verkoop wat deur die plaaslike vroue gemaak word. Hulle het 3 sulke winkels, in Byimana, Kigali en by die Diane Fossey sentrum. Hulle reël dan ook hierdie 'ondervindings' deur die plaaslike mense om vir hulle geld in te bring. Azizi Life is ook 'n nie-winsgewende organisasie. Bona wys vir ons als in die winkel en verduidelik hoe dit gemaak word en die geskiedenis van die verskillende kuns.

    Ons wag vir nog 2 mense wat saam met ons die koffie toer gaan doen, Amanda en Liam van New York, so ek en Hermien drink solank iets by die koffiewinkel. Toe hulle opdaag kry ons 'n inligtingsessie van hoe die toer werk. Ons gaan na die gemeenskaps'village' en hulle gaan vir ons wys hoe werk dit om koffie te maak. Hulle sê hulle moet ons net waarsku dat daar ongelukkig net 'n latrine is, wat beteken die toilet is net 'n gat in die grond met 'n geboutjie oor. Hermien hou summier op koffie drink. Ek het ongelukkig my hele drankie al klaar gedrink.

    Ons ry so 20 min na 'n klein 'dorpie' en parkeer daar. Oral is landerye met bome. Die plek waar ons bymekaar kom is af met die paadjie, en uit ondervinding weet ons... wat afgaan moet netnou weer opkom. Ons kom almal bymekaar by Angelique se huis - sy is vandag ons gasvrou en almal word voorgestel. Ons kry ook almal tradisionele lap met Afrika motiewe wat hulle tradisioneel dra. Bona en Ange, die twee gidse vertaal alles. Na almal voorgestel is gaan ons na buite en hulle wys ons hoe hulle patats afskil (met groot messe). Ons skil die patats want dis deel van die middagete. Amanda sê sy kan nie kosmaak nie, maar ons oortuig haar dat sy na haar trip in Afrika 'n restaurant in New York kan gaan oopmaak. Hulle wys ons ook die stofies wat 'n nie-winsgewende organisasie vir hulle beskikbaar maak, om in te kook. Hulle betaal dan 'n klein fooi tot dit afbetaal is. Saam met die stofie kry hulle 2 potte en 'n tipe pot wat die kos kan warm hou vir 'n ruk. Die stofie werk met hout, maar gebruik dit meer ekonomies. Die kamer waarin hulle kosmaak is egter pikswart van al die roet, maar hulle meen dit beskerm die lug want die rook gaan minder in die lug in.

    Ons kry toe elkeen 'n bottel vir water en stap af na die koffieboom plantasie. Daar is 'n pyp wat water uit 'n natuurlike waterbron bring. Ons sit die bottels daar dat ons dit later kan volmaak oppad terug huis toe. By die koffieplantasie pluk ons die rooi koffie'cherries'. En sit dit als in sakke en bakke. Ons kry toe water en stap terug op na die huisie toe. Hulle wys my hoe om die koffiekersies op my kop te dra.

    By die huis was ons die kersies en dan word dit met 'n klip oopgebreek op 'n ander klip deur dit met die kleiner klip te 'vryf'. Daarna word die koffiebone een vir een, met die hand, uit die skilletjie gedruk. Die skilletjies word dan later weer gebruik vir kompos. Die koffieboontjies word dan gedroog in die son - 1 week in die droë seisoen, 3 weke in die reënseisoen. Hulle bring vir ons bone wat reeds gedroog is en dit word dan, een vir een, met die hand, uit die droë doppie gehaal. Koffie mense beter hulle koffie waardeer. Dis baie werk.

    Middagete is toe gereeds en ons almal gaan eet in die huis, na ons hande gewas het in 'n skottel terwyl iemand van die water oor ons hande gooi. Middagete is patats met bone, groen piesang wat gaargemaak is met bone, bone en avo's. Hermien het dit geniet. Ek het net genoeg geëet om bedagsaam te wees. Ek het wel die avo's geniet. Ons gesels oor klomp goed. Dit kom toe uit in die gesprek dat hulle nie weet wat 'n yskas is nie. Ek google toe foto's en ons verduidelik wat dit is. Hulle vra waar hulle dit kan kry en ek kyk, maar dis baie duur in Rwanda. Hulle besluit toe hulle gaan dit in Suid-Afrika kom koop waar dit goedkoper is, en dit dan op hulle koppe terugdra Rwanda toe. Google maps sê dis net 29 dae se stap. Hulle het nie almal elektrisiteit nie, maar hulle gaan maak soos met die selfone en dit gaan laai by die mense wat elektrisiteit het en dit dan terugvat huis toe. Ons almal lag lekker vir al die planne, maar dit is 'n moeilike realiteit. Omdat dit so warm is kan hulle nie etes vooruit maak nie. Al die kos wat hulle maak vir 'n ete moet in daai ete opgeëet word, want dit sal nie meer reg wees teen die volgende ete nie. Hulle het ook nie in oorvloed nie, so kos kan nie gemors word nie. Hulle eet baie bone omdat hulle nie gereeld vleis kry nie, sodat hulle proteïene inkry. Ek kan nie help om te dink hoe ondankbaar ons is nie.

    Na ete gaan ons weer na buite en moet nou die koffiebone 'roast' op die stofie. Mens sit dit net so droog in die pot en na 'n ruk word dit donker bruin en lyk vir die eerste keer soos die koffiebone wat ons ken. Dit ruik ook vir die eerste keer so. Die geroosterde bone word dan in 'n uitgeholde stomp gegooi en met 'n hout paaltjie fyn gestamp terwyl almal sing en dans. Baie jolig. As die koffie fyngemaal is word dit in 'n houer met kookwater gemeng en geskink deur 'n siffie. Dis baie sterk koffie. Hulle gee vir ons Kanada bekers en ons vra hoekom daar so baie kanada goed is, want 2 van die vroue dra kanada t-hemde. Daar is glo 'n vrou van kanada wat baie van Rwanda hou en goed bring as sy kom kuier.

    Ek wou nog die hele trip lank, en ek het elke dag in Hermien se ore gekla, self 'n piesang uit 'n boom pluk. Hermien het vir Bona gesê en Bona sê toe, na die koffie, ons moet gou buitentoe gaan. Hulle vat ons na die piesangbome en laat my toe 'n piesangpluk. Florida tik toe aan my skouer en gee vir my 'n sakkie wat sy vir my piesang gemaak het uit 'n piesangblaar. So spesiaal.

    Ons stap toe weer na bo by die kar en gaan laai vir Bona af by Azizi life centre. Die verkeer terug na Kigali is erger as wat ons verwag het en ons tel vir Richard op oppad lughawe toe dat hy ons gaan aflaai en die kar terugvat. Ons het omtrent 3 tot 4 ure gery na die lughawe. Richard het toe nie Hermien se deposito wat ons kontant vir die kar gegee het nie en Emmanuel sê hy sal dit met Western Union stuur (ek weet nie eintlik hoe werk Western Union nie - mens (ek) moet seker op een of ander stadium uitvind). Ek en Hermien begin toe deurgaan, maar die sekuriteitsman kom roep vir Hermien. Richard het toe 'n plan gemaak en die geld op 'n manier gekry. Ons gaan deur en vlieg elkeen met 'n hele ry sitplekke vir onsself. In Johannesburg vat hulle my bagasie en gee my kaap tas wat ek by Willem gelos het terug en ek kry my ma se paspoort en vlieg kaap toe vir ons visas.

    Wat 'n ongelooflike trip. Laat niemand weer bekommerd wees oor 'diep, donker Afrika' as ons van Rwanda of Uganda praat nie. Johannesburg (meeste van Suid-Afrika eintlik) is meer onveilig as hierdie lande. Ons het wel lekkerder kos.
    Read more

  • Day 10

    Terug na Kigali

    August 16, 2023 in Rwanda ⋅ ⛅ 26 °C

    Ons staan vroegerig op, want ons het 'n kanoe bespreek vir 7uur (hoekooooom?!) Hulle vat 'n bloekomboom en hol hom uit om die kanoe te maak. Ek en Hermien sukkel aanvanklik want ons draai omtrent net in die rondte, maar later kry ons dit uitgefigure. Sy is agter en is ons enjin en ek bestuur ons en doen die rigting (en foto's - harde werk, ek weet). Ons roei om die eiland (vlg haar horlosie omtrent 2,5km). Ons sien ook 'n bootjie met klomp kinders op wat skool toe gevat word - dis hulle bussie. Ons gaan eet toe 'n rolex. Dis 'n champatti met eier (amper soos 'n dun omelet) opgerol met tamatie aan die binnekant - hulle het nie avo nie. Dis nogal sout, maar heel lekker.

    Ons gaan swem gou vir oulaas. Hermien doen die trappies 10 keer want sy sê die water is te koud om te swem. Ek swem toe maar tot aan die oorkant, siende dat ek nie gister het nie. Ek en Hermien spring toe van die duikplankrige ding af tot in die meer. Dit vat baie oortuiging. Daai meter of wat is nogal intimiderend. Daarna gaan stort ons en kry weer die bootjie en Tom om ons oor die water te vat. Die kinders van die 'village' het in die stof op ons kar geskryf 'good'. Oral langs die pad kap hulle klippe uit die berg en kap die klippe fyner met die hand.

    Ons ry toe tot by die grens (Gatuna) - wat 'n mission. Daar staan verskriklik baie trokke. Ons kom darem op die einde verby hulle en stop by die 'one stop immigration centre'. Dis nou na ons eers al ons bagasie deur die scanner moes sit en hulle als deursoek het (maar eintlik maar halfhartig). In die immigrasie sentrum staan 2 lang rye, een vir 'depart Uganda' en een vir 'arrive Rwanda'. Daar is baie mense wat sulke Oos-Afrika kaartjies het waarop hulle net stamp en dan loop hulle. Ek dink dis 'n soort visum of iets wat maak dat hulle maklik deur die Oos-Afrika lande se grense kan beweeg. Terwyl ons in die 2de ry staan kom staan daar 'n (vermoedelik Kongolese) man agter ons en dis die eerste keer wat iemand langer as Hermien is. Na die 2 rye sorteer ons die kar se goed uit en toe is ons terug in Rwanda en kan verder ry.

    Ons ry toe Kigali toe en gaan sommer direk Kimironko markie toe, want dis al donker en ons is bang dit gaan toemaak en die verkeer is mal erg. Ons koop al die laaste goed wat ons nog wou koop. Die vroue wat klere maak sit sommer net daar en maak gou die klere. Ek vra toe vir Christine om vir my 2 scrub tops vir die hospitaal te maak. Sy vat my mates en maak die klere, maar sal dit sommer vanaand nog kom aflaai by die plek waar ons bly. Ek en Hermien gaan eet toe weer by Repub lounge. Ons eet weer die heuning en rissie hoender en peas tonze want dit is baie lekker. Daar is lekker live music en, wat lyk soos expats wat 'n verjaardag partytjie hou.

    Daarna gaan ons Step town toe, waar ons slaap die aand, en my scrub tops kom toe net daar aan met 'n moto (die motorfietsies - in Uganda noem hulle dit boda-boda). Ons pak toe ons tasse reg en gaan slaap.
    Read more

  • Day 9

    Bunyoni meer

    August 15, 2023 in Uganda ⋅ ☁️ 24 °C

    Ons het vroeg opgestaan om gou ontbyt te eet, want ons wou nog een keer na die danse en gorilla inligtingsessie gaan luister, maar heelaas... ons was te laat. So ons maak toe rustig klaar en ry na Bunyoni meer, waar ons die aand by Paradise eco-resort gaan slaap.

    Silas whatsapp my in die oggend en sê ons het 2 opsies om daar te kom: ons kan die kar by Seeds of Hope parkeerarea los, dan kom haal hulle ons daar met 'n bootjie, maar dit kos $100 of ons kan tot by kakooko ry en die kar daar los, maar dis glo 'n lelike pad. Wel... wat is beter om 'n lelike pad mee te ry as 'n huur kar... ons kies toe díé uitdaging. Dit was 'n bietjie lelike en stowwerige pad, maar baie mooi uitsigte oor Bunyoni meer, so ons was nie spyt nie. Tom kom haal ons toe by Kakooko met 'n klein motorboot. Hy dra gelukkig ons tasse teen die styl afdraande af. Ons ry net tot oorkant 'n klein stukkie water tot by Itambira eiland, waar Paradise Eco-lodge is. Dis 'n nie-winsgewende organisasie en die familie het self die plek gebou.

    Daar is 'n restaurant op die boonste vloer, teen baie hoë trappe op, maar met 'n ongelooflike uitsig oor die meer. Oral is voëls (Bunyoni beteken die plek met baie voëls). In die boom voor die restaurant is 2 swartwoue (black kites) - hulle lyk soos arende. Daar is ook 'pied kingfishers' en suikerbekkies en nog baie ander voëls. Mens hoor net heeltyd al die voëls. Dis soos paradys. Ek en Hermien sit 'n rukkie op die dek en kyk uit oor die meer (ok, ja, ons het ons eintlik daar geplant vir 'n groot deel van die middag). Sy lees haar erge Kigali boek en ek moet 'n prent teken, maar doen dit nie.

    Later gaan stap ons om die eiland te verken, maar loop ons vas in huisies na omtrent 100m. Daar is 'n man wat 'kreef' vang en hy sal ons gaan wys as ons wil. Hy is ook 'n visserman. Ons besluit egter om eers te gaan swem. Onder op die swemdek kry ons 2 Italianers, maar hulle sê die water is te koud en die meer is diep (dis die 2de diepste meer in Afrika - Tanganyika meer is die diepste) so hulle is bang. Ek en Hermien spring toe maar in en swem na 'n swemdek oorkant die water (wel, sy het, ek het net so 2/3 daarheen geswem en terug).

    Na die swem het ons 'n historiese bootrit bespreek, so Tom en Boas kom haal ons weer met die motorbootjie. Hulle wys ons die grootste eiland (daar is 29 eilande in Bunyoni meer - ons bly op die 2de grootste een) en ook die kleinste eiland (Punishment island - waarna swanger meisies wat ongetroud is vroeër jare verban is om dood te gaan want hulle kon nie swem nie, of waar mans wat nie koeie kon betaal vir 'n vrou nie, 'n meisie kon gaan kies). Daar is ook 'n eiland waarheen melaatse mense gestuur is om hulle te isoleer. Dr Sharp het toe na die eiland gekom en 'n hospitaal en huisies gebou en hulle gedokter. Ons stop by hierdie eiland (dis die grootste eiland) en stap oor sy lengte. Aan sy bopunt is 'n ou kerkie, wat vandag deur studente gebruik word. Daar is ook skole en koshuise op die eiland (die ou hospitaal en melaatse huisies). Die eiland se naam is Sharp's island. Op 'n ander eiland is klomp rooibokke, waterbokke en 2 zebras.

    Terug by ons eiland gaan eet ons aandete (wat ons voor die tyd moes bestel, want hulle het minstens 'n uur nodig vir voorbereiding), wat uitsonderlik lekker was. Na ete gaan vang ons 'n vinnige aand swem, al is dit koud, en gaan slaap.

    PS die foto van die spikes is net om te wys hoe dit lyk. Dis wat ook oor die pad was oppad Bwindi toe.
    Read more

  • Day 8

    Ruhija

    August 14, 2023 in Uganda ⋅ ☁️ 22 °C

    Hierdie gaan 'n kort pikkewyn wees. Hermien het 'n 5ure hike gaan doen vroegoggend (maar natuurlik in 4ure klaargemaak). Ek het wakker geword en omgedraai en verder geslaap en toe ontbyt gaan eet.

    Ek het heel oggend vir die woud en die voëltjies gesit en kyk en bietjie admin gedoen. Toe Mien terug is het ons warm water gekry (na 'n uur) en toe gestort en moddermaskers wat ek van die dooie see in Israel gebring het aangesit en op ons stoepie gesit en ontspan. Daar is klein vlieënde goggatjies wat in klein gaatjies in die hout bly.

    Laatmiddag het ons gestap na die plek waar ons eet, en daar boekgelees tot ete. Cylia het ook bietjie met ons kom gesels. Sy doen baie vir die gemeenskap en het projekte en al sulke goed. Sy is baie oulik.

    Ons is die enigste mense hier vanaand. Raai wat sien ek by my bed toe ons kom slaap... ja, dieselfde duisende gaatjies in die hout. So daar is goggatjies in my bed. Baie Peaceful Sleep later, en dis darem die laaste nag.

    Hier is 'n paar ekstra foto's. Alles word met die hand ingevul, selfs ons sertifikate en als by die grens. Die uitsig uit die kamer. Ons vrugte. Drinkgoed. Die voëltjies. Die 2de laaste een is saam Cylia en die laaste een is die gogga gaatjies.
    Read more

  • Day 7

    Gorillas!!!

    August 13, 2023 in Uganda ⋅ ☁️ 24 °C

    Vroeg uit die vere (dis nog donker toe ons opstaan), maar Uganda is 'n uur voor Rwanda (en SA). 7uur eet ons ontbyt en kry kospakkies vir die gorilla stap, want mens moet 'n sekere hoeveelheid kos en water hê om te mag gaan. Half 8 ry ons na die ingang van Ruhija, waar die stap begin.

    Ons het eers 8uur 'n inligtingsessie gehad - mens moet genoeg eetgoed en water, handskoene (sterk handskoene, sodat die brandnetels nie jou hand steek as jy skielik moet gryp êrens nie), 'n stapstok en 'n masker vat. Gorillas het 98.4% dieselfde DNA as mense en dieselfde liggaamstemperatuur, dus kan ons hulle maklik siek maak. Verder moet mens jou broek in jou kouse steek sodat die 'fire ants' nie kan opklim nie, veral hierdie tyd van die jaar want dis droog en hulle soek water. Mens kan 'n portier huur wat jou help dra aan jou goed, maar eintlik help hy jou deur die terrein en maak seker jy val nie (Martin was 'n champ en elke sent, of shilling, werd).

    Na die inligtingsessie het vrouens van die plaaslike gemeenskap gedans en -sing. Daarna is ons in groepe gedeel vir die stap. Ons gids was Goreth en ons het na die Kyogoriro gorilla familie gestap. Elke familie het so 8 tot 12 lede. Die gorillas waarheen ons gaan is almal 'habituated', dus gewoond gemaak aan mense. Hulle is steeds wild en doen wat hulle wil, maar elke dag besoek 'n toergroep hulle vir 'n uur (ja, hulle is so streng met die tyd). Hulle het wildbewaarders wat hulle 24 uur 'n dag volg en oppas want hulle word ge'poach'. Die gorillas hardloop glo na die wagte as hulle in gevaar is, want hulle weet hulle sal hulle beskerm.

    Ons het gery tot waar mens in die woud gaan en toe begin stap. Aan die voorkant en agterkant van die groep stap 2 gewapende wagte om ons te beskerm. Dis aanvanklik 'n redelike afdraende en dan raak dit skielik baie styl af met baie bosse en takke en plante oral, nie rerig 'n paadjie nie. Die 'trackers' laat weet vroeg in die oggend die gidse waar die gorillas is. As mens naby kom hoor hulle mens en dan kommunikeer hulle en die gidse met geluide, sodat hulle weet waarheen om te stap. Daar was 'n massiewe erdwurm en 'fire ants' op ons pad en ons is oor 2 stroompie. Die gorillas was heel onder.

    Dis ongelooflik. Mens kom redelik naby aan hulle. Een het vir Hermien begin storm, maar toe keer die wag haar. Daar was 2 babatjies, 5 volwasse wyfies en 1 silverback (die hoof mannetjie). As die gorillas bietjie onrustig begin raak, maak die wagte hulle kalm met geluide. Die silverback was net vinnig naby ons en het heeltyd weggeloop. Hy is glo nuwerig as silverback van die familie en is nog nie heeltemal 'habituated' nie. Die 2 babatjies het heeltyd gespeel en was nuuskierig so het na ons toe gekyk. Die volwasse wyfies het nie 'n saak nie. Hulle kyk nie eers as mens praat of beweeg nie. Hulle ignoreer ons heeltemal. Een van hulle het omtrent 2 meter van my af verby geloop. Die 'trackers' kap heeltyd die bosse oop sodat ons die gorillas kan volg en nader kom. Die wagte is baie streng, mens kry 'n waarskuwing as dit naby aan 'n uur is en dan begin mens terugstap.

    Dis natuuuuuuurlik weer 'n styl opdraende, want what goes down... Dis 400m 'elevation' gewees oor 3 km (Hermien se horlosie se stats). Mens kan 'n 'helikopter' laat kom om jou uit te haal, maar dit kos $300 minimum. Dis 12 mans wat mens op 'n draagbaar dra, 4 op 'n slag, en dan ruil hulle as hulle moeg raak. Dit gebeur glo so 2 keer 'n week dat iemand dit gebruik. Toe ons bo is kry ons sertifikate (my van is op elke manier moontlik verkeerd gespel, maar nou ja). Hermien gaan bespreek toe haar staptog vir môre en ons kom huis toe vir 'n lekker warm stort, waarvoor ons net 'n uur gou moes wag.

    Laatmiddag kom haal een van die mans wat by die blyplek werk, ons en vat ons na die Ruhija gemeenskap toe om te kyk hoe dit lyk en die winkeltjies te besoek. Al die kindertjies waai langs die pad.

    Terug by Ruhija camp kry ons aandete en gesels met 2 Franse toeriste wat môre die gorillas gaan kyk. Hulle bly in Parys en sê ons kan gaan kuier. Hulle sal ook nog Suid-Afrika toe kom. Na ons by die lekker vuur gesit het gaan slaap ons.
    Read more

  • Day 6

    Deur die grens na Uganda

    August 12, 2023 in Uganda ⋅ ☁️ 23 °C

    Ons het vroeg opgestaan en klaargemaak, sodat ons kan ry om die kar 10uur in Musanze te kry, maar toe ons wil ontbyt bestel is hulle nog nie daar nie en ons vra toe maar dat hulle 'n mes en kookwater bring (ons het darem nog ons vrugte van die markie en Hermien het beskuit gebring en ons het koffie gekoop... dis Rwanda). Na ontbyt pak ons en ry Musanze toe.

    Maak nie saak waar mens ry nie, dit vat vrek lank want die spoedgrens is 60km/h en oral is trokke en fietse en mense. Daar is ook 'n deel waar die hele stuk klein kraaltjies is uit klippe gestapel. Baie mense is deftig aangetrek met die mooiste lappe en Bybels in die hand, besig om kerk toe te stap. Ons lees dat 11% van Rwanda SDA is en dus Saterdag kerk toe gaan. Dis grootendeels 'n Christen land met heelwat mense wat christenskap saam met hulle tradisionele geloof beoefen. Die meerderheid mense is egter katolieke.

    By Musanze is ons bietjie vroeg, so gaan drink gou 'n koffietjie terwyl ons wag en sien weer mense wat ons by Nyungwe gesien het. Richard bring toe net voor 11 die kar en ons ry na die grenspos. Ons nuwe kar is 'n silwer Kia Sportage en ons doop hom Silverback. By die grenspos laat hulle ons maklik deur van Rwanda se kant af (hulle haal die kar van hulle sisteem af, of so iets) en ons gaan deur na Uganda. Mens kan duidelik die verskil in die twee lande sien, maar die Engels is baie beter in Uganda.

    Als verloop relatief glad (hulle haal ons selfs uit die ry en laat ons voor staan om eerste gehelp te word) totdat hulle ons vra vir Visas (wat ons daar kan koop, omdat ons van Suid-Afrika is). Hulle aanvaar egter net kontant, waarvan ons nie genoeg het nie ($50 elk) en hulle ATM werk nie. Hulle het ook nie 'n kaartmasjien nie. Ons moet toe op 'n bankie sit en wag terwyl hulle probeer uitvind wat om te doen. Hulle is gelukkig baie vriendelik. Na 'n rukkie kom die doanebeampte terug en sê ons moet gaan geld trek in Kisoro en terugkom, maar hy het nog ons paspoorte. Hy sê toe een van ons kan gaan, maar ons vra of ons altwee kan gaan, maar dan los ons my paspoort by hom (Hermien moet haar paspoort hê, want sy bestuur). Hy sê dis reg. Ons ry toe tot by die checkpoint, maar die mannetjie daar sê die paspoort is nie gestamp nie en ons het nie 'n gate pass nie. Ons verduidelik vir hom alles mooi (sy Engels is bietjie meer op Rwanda se standaard as Uganda s'n - Rwanda is eerder Frans as Engels in daai sin). Sy sê toe ons hoef nie te worry oor die paspoort nie, ons moet net 'n gate pass gaan kry. Ons gaan toe terug en kry 'n gate pass en ry toe Kisoro toe (17 minute aan 10km). Die eerste ATM werk nie, maar die wag is 'n vrou met 'n massiewe geweer (ook vriendelik). Ons ry toe verder af in die pad en trek geld by Stanbic bank (die tekentjie lyk soos Standard bank). Daar sit ook 2 wagte buite die bank.

    Geld getrek, ry ons terug grenspos toe. Hulle laat ons vriendelik terug by die hek in. Ons gaan betaal die visa fooi en ontmoet 'n paar Grieke wat met min of meer dieselfde probleem sit.

    Ons ry toe om by Ruhija kamp te kom in Bwindi woud, waar ons vanaand slaap, want ons moet nog ons permitte vir more se gorillas kry. Ons ry mooi binne die spoedgrens (50km in die woongebiede, 80 op die oop pad) want mense sê daar is oral polisie wat mens vang en omkoopgeld wil hê. Daar was nie so baie nie, maar dalk rus hulle bietjie op Saterdae. Ons ry nog so lekker, toe daar skielik massiewe 'spike strips' in die pad is en die pad toegemaak is. Gelukkig sien ons toe polisie uit 'n tentjie kom, en hy laat ons deur, sonder om enige iets te vra. Ons albei se harte het so 'n slag of twee gemis. Dit was toe net die ingang na 'n ander woud, waardeur ons moet ry.

    Uiteindelik in Bwindi woud, word dit grondpad met 'n redelike afgrond. Hier is die spoedgrens 40 en dit lyk nie na die heel lekkerste pad op aarde om te ry as dit reënseisoen is nie. Gelukkig is dit nou droog. Die plantegroei is baie welig en lyk anders as Nyungwe.

    Ons kom toe hy Rahija Community Rest Camp aan, waar ons die volgende 3 aande slaap, en ontmoet vir Cylia, die bestuurder. Sy is so oulik en help ons met alles en om ons permitte vir môre te reël. Hulle het 'n sjef wat kom vra wat ons vanaand wil eet... hoender met aartappels of groente met aartappels. Hy is 'n gekwalifiseerde sjef wat internasionale, sowel as plaaslike disse kan maak (die disse was uhm lekker, maar nie internasionaal nie). Hulle gee ook ontbytopsies, want ons moet 7uur eet dat ons 8uur by die inligtingsessie van die gorillas kan wees. Hulle pak ook vir ons 'n middagete/snack box want mens kort eet en drinkgoed omdat mens nie weet hoe lank jy gaan stap voor jy hulle kry nie.

    Ons gaan eet 19:00 aandete en kan ons fone, ens. daar charge, want die kragopwekker is dan aan. Die kamp het net sonkrag, en die kragopwekker van 19:00 - 22:00. Daar is drade vir krag, maar die regering het nog nie krag voorsien nie. Ons moet ook sê wanneer ons wil stort, want hulle maak water warm in 'n donkie en dit moet dan vir daai tydgleuf na ons kamer gelei word. Dis ontsettend mooi waar ons bly, letterlik in die woud, met die mooiste uitsig. Ons het 'n huisie met 2 groot dubbelbeddens en 'n lekker badkamer, met 'n hout balkon. In die eet 'area' maak hulle 'n lekker groot vuur in die middel want dis effens koud. Ons raak toe aan die gesels met 'n duitse gesin wat vir 3 weke in Uganda toer.

    Ons kom maak toe ons goed reg vir more se stap en kom slaap, want dis vroeg opstaan môreoggend.
    Read more

  • Day 5

    Rustige dag langs Kivu meer

    August 11, 2023 in Rwanda ⋅ ⛅ 25 °C

    Hermien het die oggend begin met 'n draf (dis malligheid). Ek het ook eventually opgestaan en toe het ons gaan ontbyt eet. Hierdie mense hou van omelette. Hermien sê sy dink dis al wat hulle ken. Hier is so baie avo's en ander goed, maar hulle maak net omelette.

    Ons stap toe langs die meer op tot by die publieke 'strand', waar Ironman die vorige naweek aangebied is. Ons stap toe na die Serena hotel langs die strand, want die mense op die strand oorval mens met bootrit en foto aanbiedinge. Die Serena hotel is deftig. Ons dink toe ons gaan net 'n cocktail drink en besluit wat om verder te doen, maar hulle kom bedien ons toe op die gras onder reg by die water. Ons bly toe maar 'n bietjie langer en eet ietsie en lees boek en ontspan. Hulle het super lekker tempura vis en samoosas. Ek en Hermien sê heeltyd 'nog 'n harde dag in diep, donker Afrika'.

    Vandaar kry ons moto's (motorfietsies) om ons ATM toe te vat dat ons kan kontant trek om by die supermark en toeriste winkeltjie iets te koop. Die 'middestad' is nogal besig. Ons stap af tot onder, waar ons die goed koop en toe 2 moto's kry om ons na 'n ander strand, 7 km weg, te vat. Dis 'n baie mooi pad met baie kronkels en draaie. Hulle laai ons af by 'n plek en die sekuriteitswag bel iemand om ons te kom haal en op 'n bootrit te vat.

    Ons kry toe 'n uur en half bootrit, wat ons vat 'n klein en groter eilandjie, die metaangas 'plant', en ook na die warmwaterbron, want dis 'n vulkaniese land. Die warm water het 'n paar jaar gelede vir 6 dae heeltemal opgedroog toe 'n vulkaan êrens anders 'n uitbarsting gehad het. Die arme bestuurder van die warmwaterbron het toe elke dag gaan bid dat sy water terugkom. Dit het darem. Daar is 2 'baddens' waarin mense sit, en jy kan masserings kry. Hulle sê die minerale is goed vir 'n mens, maar die water lyk maar bietjie vuil vir my. Ons mag nie die mense in die baddens (moddergate met sandsakke om) afneem nie, maar Hermien het skelm.

    Ons het nie genoeg kontant by ons gehad nie, maar die bootmannetjie ry toe ook op 'n moto saam ons na die ATM toe (dit was vooraf bespreek, hy het geweet ons het nie genoeg kontant nie). Ons stap toe deur 'n markie, maar dit was donker en almal begin oppak, so ons kry weer 2 moto's en ry tot by ons huisie.

    Ons was nie vreeslik honger nie, so bestel sommer net hoender bruchette's (sosaties) by ons blyplek en wag 2 ure daarvoor, maar dit was darem lekker.

    Gigi Gorilla (ons kar) het darem 'n rusdag gehad. Môre gaan ons Uganda toe, maar ons moet karre ruil met 'n kar wat deur die grenspos mag gaan, maar die ou by wie ons huur het nou laat weet die kar gaan eers later beskikbaar wees, maar ons wil vroeër ry want ons wil nie in die aand ry nie. Ons sien maar more wat gebeur.
    Read more

  • Day 4

    Pad na Lake Kivu

    August 10, 2023 in Rwanda ⋅ ☁️ 25 °C

    Ons het weer verslaap vir die sonsopkoms, maar daar is baie berge en daar is altyd 'n bietjie mistigheid, so ons oortuig onsself dit sou nie 'n verskil maak nie. Ons gaan eet toe vir oulaas ontbyt by Nyungwe Nziza ecolodge en ry toe oppad na Lake Kivu. Die pad gaan deur die Nyungwe woud en ons sien 62 militêre mannetjies op die pad. Dit voel of daar gister meer was, maar dis nog steeds baie.

    Ons ry deur baie mooi landskappe... woud, teevelde, dorpies, ens. Hermien sê skielik 'daar lê hy, daar lê die lake', ek hoor 'lyk', want ons het nou net oor mediese goed gepraat, en soek oral 'n lyk en sy kan nie verstaan dat ek dit nie sien nie...
    Toe ons by Lake Kivu kom in die suide gaan drink ons 'koffie' by Maravilla Kivu Eco resort. Dis so rustig, met kamers, tente, roeibootjies, hangmatte en 'n restaurantjie. Agnes bedien ons en sy is baie vriendelik. Ons gaan stap toe rond tot teen die meer en ry toe weer verder. Oppad terug sien ons 6 manne dra iemand wat vol bloed is op 'n draagbaar - 4 dra hom en 2 stap langs die kant en ruil wanneer een van hulle moeg word. Hulle is gelukkig amper by die mediese sentrum.

    Ons ry toe tot by Cleo Lake Kivu Hotel, wat ongelooflik is. Daar is selfs 'n helipad en spa. Ons eet lekker hoender burgers en pak weer die pad verder aan. Ons het nog 2 ure se ry oorgehad. En 2 ure van Hermien wat sê dat alle klein tipe bokkies is boerbokke, ten spyte van Google en Viva wat sê dis verkeerd en ek wat vir haar foto's wys van hoe 'n boerbok rerig lyk. Sy sê 'ek weet ek is nie reg nie, maar ek gaan hulle boerbokkies noem'. En in dieselfde asem sê sy ék is hardkoppig omdat ek nie wil saamstem nie. Boerbokkies. Van alle goed.

    In elk geval... ons hardloop amper uit Diesel uit (nie rerig nie, daar was net 37km oor voor ons verblyf en die liggie het nog nie eers aangegaan nie), maar ons gooi weer Diesel in langs die pad. Die spoedgrens is steeds 60. Ek kan nie wag om weer my eie kar te ry teen onwettige spoed nie. Oe, en die polisie het ons afgetrek en al ons dokumente gekyk (verbaas dat ons van Suid-Afrika is), maar hulle was baie vriendelik en toe hulle sien als is reg was ons weer oppad.

    Ons kom toe net na 17:00 by Gisenyi aan en laai ons goed af by Maddys Kitchen, waar ons vanaand en môreaand slaap. Ons gaan stap toe in die pad af en kry 'n oulike plek, Saga Bay, waar ons 'n cocktail drink en ietsie eet. Daar is ook 'n hydropower station op die pad wat baie bruin water in die mooi skoon meer pomp. Ons stap terug in die donker, heeltemal veilig, en gaan nou slaap.
    Read more

  • Day 3

    Nyungwe reënwoud

    August 9, 2023 in Rwanda ⋅ ☁️ 20 °C

    Ons het opgestaan met die mooiste uitsig. Ontbyt is ingesluit by ons verblyf, so na ontbyt het ons klaargemaak en Uwinka visitor centre toe gery (vir 45min aan 34km). Die lorries ry vinnig en gaan oor in die ander baan om die draaie. Ons het ook bobbejane gesien langs die pad, maar hulle lyk maar soos in SA.

    Hermien wil hê ek moet sê sy is gesond. Sy is nie. Sy is wel beter, en in haar element na vandag se stappery.

    By Uwinka betaal mens vir toegang en dan vir die Canopy toer en vir 'n gids. Ons kry darem afslag omdat ons van Afrika is, maar dis nog steeds maar duur. Mens mag nie loop sonder 'n gids nie. Daar is ORAL militêre mannetjies wat die woud beskerm. Hulle werk 12 uur skofte en bly ook in die woud. Die geld gaan gelukkig vir hulle werkskepping en bewaring van die woud, so dis nie so erg nie.

    Ons kry toe 'n gids (nie ek of Hermien kan haar naam onthou nie, maar sy is 26, baie oulik en het in die woud grootgeword). Sy doen tot 5 keer 'n dag die roetes, en as haar gaste wil draf, draf sy saam. Sy doen ook maratonne.

    Ons besluit (hmmmmm, ek wonder altyd van voor af hoekom ek vriende is met super fikse mense) toe om die canopy toer en daarna nog 'n 3 en 'n half ure hike te doen. Die Umuyove (dis die kinyarwanda woord vir Mahogany) roete is omtrent 5,5km lank en gaan verby 'n waterval en baie mahogany bome, wat massief en baie oud is (die militêre mannetjies beskerm hulle veral, want dis baie duur hout). Ons drink lekker water by die waterval en sien silwerapies en bergapies. Hermien maak seker dat ons elke 50 min klokslag snackies en water kry, want sy ken van endurance (ek nie). Die stap is wel baie af en baie op. En die laaste km tap ek uit en ry op 'n 'moto' - dis die motorfietsies.
    Voor die Umuyove stap ons eers na die canopy en loop oor die canopy walkway. Dit is in 2010 gebou en is ongeveer 70 m bo die grond so mens loop bo die bome en het die ongelooflikste uitsig. Dit bestaan uit 3 hangbrûe wat in totaal omtrent 200m lank is. Al die brûe word 2 keer 'n dag volledig nagegaan om te kyk dat als reg en veilig is.
    Nyungwe woud is ongeveer 970 vierkante km groot (een van die grootste en oudste beskermde reënwoude in Afrika) met 'n reënval van omtrent 2000mm 'n jaar.

    Hermien word Miena Mahogany gedoop deur ons gids, want sy dink sy is so lank soos 'n mahogany boom.

    Na ons stappie deel ons 'n hoender quesadilla by die koffiewinkeltjie in Uwinka en gaan dan huis toe. Dis gelukkig Mien se bestuur dag so ek vang 'n lekker nap tot sy skielik rem vir 'n lorrie wat letterlik in ons baan is, en later weer vir 'n trop bobbejane in die pad.

    By Nyungwe Nziza Ecolodge, waar ons slaap in die tent, en daar net koue water in die stort by die ablusieblokke is, gee hulle vir ons 'n sleutel van een van die kamers en sê ons kan daar warm gaan stort. Lafenis! Daarna gaan eet ons en kom slaap. Willem stick ons vir aandete vir vrouedag (cuuuuuute - dankie Willem).

    Hermien se stats (van haar Garmin af):
    ons het 15000 treë geloop,
    afstand was 8,25km,
    elevation 550m.
    Read more

  • Day 2

    Zipline drones en die pad na Nyungwe

    August 8, 2023 in Rwanda ⋅ ☁️ 25 °C

    Hermien is siek. Sy sê sy is gesond. Maar sy jok. Sy drink darem (van) die medisyne wat ek vir haar gee. In elk geval... ons het opgestaan en ontbyt geëet by Step Town. Die vrugte is super lekker hier. Ons het net roosterbrood bestel en ons avo van gister se markie op die brood geëet.

    Ons ry toe oppad na Nyungwe woud, waar ons vanaand deurbring. Dis net 190 km, maar vat ongeveer 5 ure volgens Google Maps. Ons besef baie vinnig hoekom dit so is. Die spoedgrens is 60 km/h en vir klein dele van die pad 80. Daar is verskriklik baie karre, motorfietsies, trokke, fietse en nog wat op die pad. Ek het ook (natuurlik) ons eerste boete vir die trip gekry (vermoedelik). Die polisie het glo 'n fluitjie geblaas vir my. Ek het die geluid gehoor, maar nie besef dis wat gebeur nie, en aangery. Oh well.

    By Muhanga het ons gestop by Zipline. Dis 'n mediese drone sentrum. Hulle het ons aanvanklik nie laat ingaan nie, omdat ons nie 'n afspraak gehad het nie, maar die vriendelike hekwag gee toe 'n nommer wat ek kan bel om te hoor of ons kan ingaan. Ons praat toe met Charity en sy sê sy sal ons by die hek kom haal en 'n toer gee van die plek. Sy is 'n mediese tegnoloog en kom van Rwanda af.

    Zipline is ongelooflik. Ons was in verwondering. Dis deur 'n Amerikaner ontwerp, maar word in Rwanda aanmekaar gesit. Hulle noem die stasies waar als gebeur 'n nes, en die drones word voëlname gegee. Tans word hulle swaeltjies genoem en kan ongeveer 1.5kg se produkte op 'n slag vlieg. Die eerste nes was die een in Muhanga, maar daar is nou al 'n hele paar neste in verskeie lande.

    Bloedprodukte, noodmedisyne, of selfs geskeduleerde medisyne, asook veearts medikasies, word gevlieg na mediese fasiliteite oor die land. Daar is net 'n paar areas wat nie bereik kan word nie, so hulle produkte word dan na die naaste fasiliteit gevlieg. Die bestellings kom in as nood, roetine (vervanging van produkte wat gebruik is) of geskeduleerde bestellings. Vir nood produkte moet die bestelling binne 5 minute verpak wees en binne nog 5 minute gestuur wees. Dit word dan binne 50 minute (vir die verste plek) met 'n valskermpie laat val, volgens koördinate en die drone kom terug na die nes. Hy word dan met baie akkuraatheid deur 'n vangtou gevang aan sy stert. As die drone ongeveer 'n minuut weg is kry die nes 'n sein en word liggies rooi sodat mens nie naby die vangnet kom nie. Sodra hy dan gevang is gaan haal die drone hanteerders die drone af en haal sy vlerke af, herlaai die battery en haal die voorkant (wat van styrofoam gemaak is) af en maak dit reg vir die volgende vlug. Die batterye vat so 40 min om te herlaai as hulle basies leeg is. Die drones word uit 'n launcher geskiet, wat amper soos 'n groot kettie werk. Charity sê die drones vlieg 24 uur 'n dag, in alle weer, maar as die weer te sleg is draai die drone om en kom terug nes toe. Dit kan ook in die lug gehou word vir 'n tydjie as daar lugspasie is waar dit skielik nie kan vlieg nie, hulle noem dit holding space. Daar is 'n groot holding space naby die nes, waar klomp drones kan vlieg as te veel gelyk terugkom, en hulle kom land dan een-een, afhangende van wie se battery die laagste is. Daar is 35 drones en hulle vlieg omtrent 250 produkte 'n dag. Mens kan dit nie indink nie.

    Ons ry toe verder na Nyungwe Nziza Ecolodge, teen slakkepas. Die GPS laat ons eers in 'n klein straatjie afdraai, wat vol klein winkeltjies is, maar ons draai gelukkig om en volg die pad verder tot by Nyungwe. Ons slaap in 'n tent vanaand en daar is net koue water vir stort, maar hulle sal more vir ons 'n sleutel gee vir een van die huisies sodat ons warm kan gaan stort. Daar is egter 'n groot groep mense van Frankryk wat op motorfietse deur die land toer en hulle slaap vanaand hier, so die huisies is redelik vol.
    Ons is 2400m bo seespieël, en kan dit voel, veral met die gehoesery. Hermien klink soos 'n ou roker. Ons drink toe 'n lekker glasie witwyn op die dek en kyk uit oor die reënwoud en luister na al die geluide. Baie rustig.
    Ons gaan eet aandete by die restaurantjie en Mien bestel die grootste vis van mens se lewe. Maar dis 'n baie lekker vis. Ek eet 'n hoender sosatie en groente. Daar hardloop ook 'n groot(erige) spinnekop oor die vloer, waarvoor die een Franse meisie doodbang is, en die ander Franse meisie hom uitvat met 'n papier. Hermien sien ook 'n rot agter die tv inhardloop, maar oh well, dis afrika.
    Nou gaan ons slaap sodat ons hopelik vroeg môre wakker is om die sonsopkoms te kyk.
    Read more

Join us:

FindPenguins for iOSFindPenguins for Android