Ons het vroeg opgestaan en klaargemaak, sodat ons kan ry om die kar 10uur in Musanze te kry, maar toe ons wil ontbyt bestel is hulle nog nie daar nie en ons vra toe maar dat hulle 'n mes en kookwater bring (ons het darem nog ons vrugte van die markie en Hermien het beskuit gebring en ons het koffie gekoop... dis Rwanda). Na ontbyt pak ons en ry Musanze toe.
Maak nie saak waar mens ry nie, dit vat vrek lank want die spoedgrens is 60km/h en oral is trokke en fietse en mense. Daar is ook 'n deel waar die hele stuk klein kraaltjies is uit klippe gestapel. Baie mense is deftig aangetrek met die mooiste lappe en Bybels in die hand, besig om kerk toe te stap. Ons lees dat 11% van Rwanda SDA is en dus Saterdag kerk toe gaan. Dis grootendeels 'n Christen land met heelwat mense wat christenskap saam met hulle tradisionele geloof beoefen. Die meerderheid mense is egter katolieke.
By Musanze is ons bietjie vroeg, so gaan drink gou 'n koffietjie terwyl ons wag en sien weer mense wat ons by Nyungwe gesien het. Richard bring toe net voor 11 die kar en ons ry na die grenspos. Ons nuwe kar is 'n silwer Kia Sportage en ons doop hom Silverback. By die grenspos laat hulle ons maklik deur van Rwanda se kant af (hulle haal die kar van hulle sisteem af, of so iets) en ons gaan deur na Uganda. Mens kan duidelik die verskil in die twee lande sien, maar die Engels is baie beter in Uganda.
Als verloop relatief glad (hulle haal ons selfs uit die ry en laat ons voor staan om eerste gehelp te word) totdat hulle ons vra vir Visas (wat ons daar kan koop, omdat ons van Suid-Afrika is). Hulle aanvaar egter net kontant, waarvan ons nie genoeg het nie ($50 elk) en hulle ATM werk nie. Hulle het ook nie 'n kaartmasjien nie. Ons moet toe op 'n bankie sit en wag terwyl hulle probeer uitvind wat om te doen. Hulle is gelukkig baie vriendelik. Na 'n rukkie kom die doanebeampte terug en sê ons moet gaan geld trek in Kisoro en terugkom, maar hy het nog ons paspoorte. Hy sê toe een van ons kan gaan, maar ons vra of ons altwee kan gaan, maar dan los ons my paspoort by hom (Hermien moet haar paspoort hê, want sy bestuur). Hy sê dis reg. Ons ry toe tot by die checkpoint, maar die mannetjie daar sê die paspoort is nie gestamp nie en ons het nie 'n gate pass nie. Ons verduidelik vir hom alles mooi (sy Engels is bietjie meer op Rwanda se standaard as Uganda s'n - Rwanda is eerder Frans as Engels in daai sin). Sy sê toe ons hoef nie te worry oor die paspoort nie, ons moet net 'n gate pass gaan kry. Ons gaan toe terug en kry 'n gate pass en ry toe Kisoro toe (17 minute aan 10km). Die eerste ATM werk nie, maar die wag is 'n vrou met 'n massiewe geweer (ook vriendelik). Ons ry toe verder af in die pad en trek geld by Stanbic bank (die tekentjie lyk soos Standard bank). Daar sit ook 2 wagte buite die bank.
Geld getrek, ry ons terug grenspos toe. Hulle laat ons vriendelik terug by die hek in. Ons gaan betaal die visa fooi en ontmoet 'n paar Grieke wat met min of meer dieselfde probleem sit.
Ons ry toe om by Ruhija kamp te kom in Bwindi woud, waar ons vanaand slaap, want ons moet nog ons permitte vir more se gorillas kry. Ons ry mooi binne die spoedgrens (50km in die woongebiede, 80 op die oop pad) want mense sê daar is oral polisie wat mens vang en omkoopgeld wil hê. Daar was nie so baie nie, maar dalk rus hulle bietjie op Saterdae. Ons ry nog so lekker, toe daar skielik massiewe 'spike strips' in die pad is en die pad toegemaak is. Gelukkig sien ons toe polisie uit 'n tentjie kom, en hy laat ons deur, sonder om enige iets te vra. Ons albei se harte het so 'n slag of twee gemis. Dit was toe net die ingang na 'n ander woud, waardeur ons moet ry.
Uiteindelik in Bwindi woud, word dit grondpad met 'n redelike afgrond. Hier is die spoedgrens 40 en dit lyk nie na die heel lekkerste pad op aarde om te ry as dit reënseisoen is nie. Gelukkig is dit nou droog. Die plantegroei is baie welig en lyk anders as Nyungwe.
Ons kom toe hy Rahija Community Rest Camp aan, waar ons die volgende 3 aande slaap, en ontmoet vir Cylia, die bestuurder. Sy is so oulik en help ons met alles en om ons permitte vir môre te reël. Hulle het 'n sjef wat kom vra wat ons vanaand wil eet... hoender met aartappels of groente met aartappels. Hy is 'n gekwalifiseerde sjef wat internasionale, sowel as plaaslike disse kan maak (die disse was uhm lekker, maar nie internasionaal nie). Hulle gee ook ontbytopsies, want ons moet 7uur eet dat ons 8uur by die inligtingsessie van die gorillas kan wees. Hulle pak ook vir ons 'n middagete/snack box want mens kort eet en drinkgoed omdat mens nie weet hoe lank jy gaan stap voor jy hulle kry nie.
Ons gaan eet 19:00 aandete en kan ons fone, ens. daar charge, want die kragopwekker is dan aan. Die kamp het net sonkrag, en die kragopwekker van 19:00 - 22:00. Daar is drade vir krag, maar die regering het nog nie krag voorsien nie. Ons moet ook sê wanneer ons wil stort, want hulle maak water warm in 'n donkie en dit moet dan vir daai tydgleuf na ons kamer gelei word. Dis ontsettend mooi waar ons bly, letterlik in die woud, met die mooiste uitsig. Ons het 'n huisie met 2 groot dubbelbeddens en 'n lekker badkamer, met 'n hout balkon. In die eet 'area' maak hulle 'n lekker groot vuur in die middel want dis effens koud. Ons raak toe aan die gesels met 'n duitse gesin wat vir 3 weke in Uganda toer.
Ons kom maak toe ons goed reg vir more se stap en kom slaap, want dis vroeg opstaan môreoggend.Read more
Traveler African bureaucracy!!! 🙈