- Show trip
- Add to bucket listRemove from bucket list
- Share
- May 9, 2025, 9:07pm
- ☁️ 13 °C
- Altitude: 17 m
DenmarkCopenhagen55°40’33” N 12°34’28” E
Kopenhagen

Eerste wakkerword in 'n kokon, maar geen metamorfose vir my nie! Dit is maar nog dieselfde ek wat dié dag saam met Truda gaan aanpak in Kopenhagen.
Ons gaan vandag op 'n kanaalvaart en dan op 'n gratis (tip-based) begeleide staptoer van die stad. Die vaart is 10:40 en die staptoer begin 15:00. So ons vind rustig ons pad na die nuwe hawe, Nyhavn, van waar die boot vertrek. Kort-kort stop ons om eers 'n foto of 3 te neem van iets wat ons interesseer. Nogtans moet ons 'n ruk wag om aan boord te gaan vir die bootvaart.
Ons beweeg uit die sloep uit wat Nyhavn genoem word en vaar in die groter hawegebied in. Ons gaan verby die teaterkompleks, die operahuis en Maersk se hoofkwartier en natuurlik nog ander geboue wat ek nou nie meer op die naam kan noem nie! Ons bekyk ook die koninklike jag wat al in 1930 gebou is en nog splinternuut lyk. Daar is ook meer skepe van die Deense vloot sigbaar as wat die SA Vloot as seewaardig kan beskou. Blykbaar is die Deense vloot ouer as die British Royal Navy. Hulle het eeue lank oorlog gevoer teen Swede om hule grondgebied te beskerm. Die 2 nasies is darem deesdae op goeie voet met mekaar.
Na die draai deur die hawe en verby die koningspaleis draai ons in by Christian se kanaal. Dan volg ons 'n doolhof van kanale wat ons neem verby gewone mense se blyplekke en 'n klompie huisbote. Heelwat van die bote is vir altyd daar vasgevang, want ons vaar onderdeur 'n klompie baie lae brûe. Die arme gids het al sy dae om die mense betyds te laat plat sit en nie die brûe te probeer raak nie. Hy gaan op 'n stadium na agtertoe om een spesifieke oortreder persoonlik aan te spreek. Truda sê sy weet hoe hy voel, sy het vir sulke kinders skoolgehou. 🤣
Na die bootvaart stap ons na die Little Mermaid bronsbeeld toe wat in die hawegebied op 'n rots is. Sy is sinoniem met Kopenhagen en ons wil haar nie mis nie. Dit is egter 'n retoer trippie van omtrent 3.4 km om haar te sien en sy word nie verniet "Little" genoem nie. Daar is baie ander toeriste wat ook die moeite gedoen het om vir haar te gaan kyk. Ons het darem ook die koninklike paleis van nader te sien gekry op die staptog.
Teen hierdie stadium is dit al middagete tyd en ons loop en soek na 'n plek wat ons smaak en sak sal pas. Ons kom so halftwee by 'n plekkie verby wat sê dat hulle pizza verkoop teen 69 DKK van 11:00 tot 14:00. Ons is nog betyds en bestel een pizza om te deel. Dit is 'n Italiaanse plekkie, maar daar is nie 'n Italianer in sig nie. Die Oosterling het egter die regte resep en die pizza was heerlik!
Toe moet ons wikkel na die Råthuspladsen, oftewel stadsaalplein, vir die staptoer. Hoogbetyds meld ons aan by die man met die groen sambreel en sy jonger kollega. Hy sê ons kan nog binne-in die stadsaal gaan kyk, dit is oop vir die publiek, ons moet net betyds weer terugkom. So ons volg sy raad en is heel betyds weer terug. Ons sien heelwat paartjies wat regstaan om te trou daar binne. Blykbaar word daar elke 7 minute iemand in die eg verbind in die stadsaal.
Ons is nogal 'n groot groep en ek was seker hulle gaan ons in 2 deel, maar die ouer man met die groen sambreel los ons almal by die jonger gids en verkas - met sambreel en al. Na hy ons vertel het hy is eintlik 'n Argentyn wat al reisgids was in Ysland, Noorweë, Swede en nou in Denemarke en een en ander oor die verhouding tussen Denemarke en Swede lei hy ons oor die plein. Hy sê nog ewe ons moet die pad kruis en indien ons nie almal kan oorkom op die groen lig nie, sal hy wag sodat ons almal saam kan aangaan. Dit was omtrent die laaste wat ons hom gesien het. Ons kruis die pad saam met die ander groeplede en wag aan die oorkant om te sien waar die groep is, maar niks en niemand lyk bekend nie en dit wemel van mense. Ons stap vinnig aan om hulle te probeer inhaal, maar besef dit kan nie wees nie. Ons draai weer terug om te kyk of ons hulle nie dalk per ongeluk verbygegaan het nie. Niemand bekends nie! Ons vleg ons pad weer vorentoe en drafstap om hulle te probeer inhaal by 'n moontlike volgende stop, maar tevergeefs. Uiteindelik moet ons maar erken ons het iets reggekry wat ons nooit gedink het moontlik is nie! Ons het nog voor die tweede stop die gids en groep van so 20+ mense verloor! 🤣
Ons gaan sit en drink koffie om onsself te troos en sien net oorkant die koffiewinkel is 'n Museum of Illusions. Ons koop net daar en dan kaartjies online. Party vd uitstallings het ons ook by die Universum in Bremen gesien, maar daar is ook heelwat nuwes en interessantes. Ons spandeer 'n pret uur of twee in dié museum.
Toe is dit terug hostel toe vir 'n aandete van yoghurt en muesli en 'n energy bar vir elkeen.
Na ons joernale op datum gebring is, is dit tyd vir terugkruip in die kokon.
Môre kry ons weer ons eie wiele.Read more
Traveler Skitterend! Jy is darem maar ʼn yster!!
Traveler Annette, jy het waarlik 'n gawe om die reisverhaal in woorde so te skilder, dat ek die situasies sien gebeur en dit saam beleef 😃! Dankie vir lekker saamreis vandag 🍕🚉🚝.
Traveler Ek sou die geskarrel bittergraag wou sien!