- Show trip
- Add to bucket listRemove from bucket list
- Share
- May 3, 2025, 11:01 PM
- 🌙 11 °C
- Altitude: 13 m
NetherlandsOss51°44’47” N 5°33’25” E
Appelscha na Oss

Dis ons laaste opstaan in die rustige, mooie Appelscha. Dit was regtig 'n lekker omtspannende 2 dae hier.
Ons wil in die veenwoude gaan kyk na kraanvoëls voor ons suidwaarts keer. Daar is 'n uitkyktoring wat in die vorm van 'n 7 gebou is. Google Maps verstaan ons verkeerd of is sommer net aspris, maar hy lei ons eers na 'n verkeerde plek toe. Was 'n mooi trippie (bietjie noord) en 'n interessante eindpunt, maar geen 7 nie.
Ons krap kop en probeer 'n ander idee in Google se brein vasmaak en toe besluit hy ons moet weer terugdraai Appelscha toe en dan op 'n ander punt bietjie noord ry. Daar is nie veel wat aandui dat ons op die regte plek aangekom het nie, maar daar is nog 'n motor geparkeer en 'n geplaveide pad in die bos in. Ons waag toe maar die kans en stap deur 'n stil bos, eers harde pad en toe bospaadjie tot by die struktuur in die vorm van 'n 7.
Iets wat ons nou al agtergekom het, die Nederlanders gee nie om vir trappe klim nie, maar hulle voete moet beslis kleiner wees as myne. Die trappe is orals nogal smal en dan ook nog besonder steil. En om die draai raak die trappe kleiner aan die een kant, so jy moet 'n wye draai neem as jy jou hele voet op die trap wil neersit!
Bo gekom, moet ek eers asem skep voor ek ordentlik kan uitkyk oor die veenvlakte voor ek kan begin soek na kraanvoëls. Maar selfs nadat ek my asem teruggekry het, kon ek geen kraanvoëls vind nie - net wilde ganse op hierdie jagtog!
Af by die trappe is vir my erger as op, want dit voel die hele tyd vir my asof my voet nie inpas op die trap nie. Ek is so bang my voet gly en dan moet Truda bestuur en ons het nie die keuse uitgeoefen by Budget vir 'n tweede bestuurder nie!
Gelukkig haal ons albei ongeskonde die grond en loop ons die amper 1 km weer terug na die motor toe. Toe is dit regtig tyd vir suidwaarts draai. Ons ry die grootste gedeelte van die pad op sekondêre paaie en dit beteken dat daar min stukke is wat ons nie in dorpe of tussen plase ry nie. Dis baie interessant, maar neem heelwat tyd.
Ons kom min of meer middagete tyd aan in Giethoorn. Ons is ingerig vir padkos eet langs pad en hou stil in die Nationaal Park Weeribben-Wieden. Daar is 'n piekniekarea en gelukkig 'n oop tafel in die sonnetjie, want die luggie is maar koel. Dit voel amper soos 'n roadtrip deur die Karoo met wintervakansies, behalwe dat daar 'n yslike dam water voor ons lê!
Ons kom so in die middel van die middag in Nijmegen aan. Ons het gelukkig 'n parkeergarage ingevoer as ons mikpunt en daar is plek vir ons, so gou-gou is ons reg om Nijmegen ook so bietjie te verken.
Ons volg die wegwysers wat die geskiedkundige plekke aandui en stap direk na Mariënburg kapel. Hier is 'n uitstalling oor hoe Nijmegen geraak is in die Tweede Wêreldoorlog. Dit is ter ere van Vryheidsdag wat elke jaar op 4 Mei gevier word in Nederland. Dit is vanjaar die 80ste herdenking van die einde vd oorlog. Nijmegen is net soos Rotterdam ook geweldig beskadig, amper verwoes deur Duitse aanvalle. Na die oorlog was daar 'n groot tekort aan behuising en is noodwonings gebou. Hierdie wonings bestaan steeds, seer sekerlik bietjie opgegradeer, en is blykbaar heel gewild om te koop.
Vandaar is ons na die Stevenskerk. Dis egter onder restourasie of konstruksie en is nie toeganklik nie. Nie eens regtig vir foto's neem nie. Dit is in 'n binnehof en is so omsingel met ander geboue dat mens nie 'n mooi idee van die besonderse kerk kan kry nie.
Op die plein neffens die kerk is daar 'n samekoms van Palestynse ondersteuners. Vyf lede van die polisie hou 'n wakende ogie. Hulle is almal daar met hulle fietse - nie 'n polisiewa in sig nie!
Daar is allerhande stalletjies op die plein wat nou besig is om hulle ware op te pak vir die dag. Truda ondersteun een van hulle toe sy 'n mooi langbroek raakloop vir basies dieselfde prys as in SA. Voorwaar 'n Europese winskoop!
Ons koop draairoomys naby die parkeergarage en sit en eet dit in die sonnetjie voor ons die laaste skof aanvat na Oss. Hiervandaan is dit op groot paaie wat maklik ry, danksy my navigator en haar assistent (Google Maps). In 'n ommesientjie is ons by Hotel De Naaldhof, wat ons net die vorige aand bespreek het. Dit is 'n 4-ster hotel wat gewoonlik vér bo ons begroting is. Hulle het sekerlik die beleid, enige inkomste is beter as geen, en moes hulle pryse verminder het vir laat besprekings, want dit was die goedkoopste op Booking.com!
Boonop het hulle 'n kroegarea wat enige een van miljuisende kanale op hulle supergroot televisie kan wys. Op ons versoek wys hulle toe die Madrid Ope se damesfinaal vir ons - Aryna Sabalenka vs Coco Gauff. Gelukkig wen Aryna in skoon stelle en kan ons gaan aandete eet. Ons bestel elkeen 'n pizza wat toe meebring dat ons middagete vir die volgende dag ook uitsorteer is.
So kom die vol dag by 'n luukse (vir ons) hotel tot 'n einde.Read more
Traveler Knap gedaan!
Traveler Ek is nog 'n vakleerling wat leer by die meester! 🤩
Traveler Dankie Annette, so lekker gestap en getoer saam met julle 😃🚶😎🦆🌳🍕!
Traveler Bly jy geniet dit!