- Show trip
- Add to bucket listRemove from bucket list
- Share
- Apr 30, 2025, 11:56 PM
- 🌙 16 °C
- Altitude: 6 m
NetherlandsLisse52°14’58” N 4°32’39” E
Bollenstreek

Ontbyt is ingesluit by ons verblyf, so alhoewel ons nie gewoonlik ontbyt eet nie, gaan benut ons dit darem. Dit moet ons maar deursien tot so laat as moontlik.
Ons het fietse bespreek om te huur by Lemon Bike Lisse. Dit is nie baie ver van Keukenhof af nie. Ons beplan om 'n 15 km roete rondom Keukenhof te ry, want ons sien nie kans vir die menigtes in die bekendste tulpetuin van die wêreld nie. Ons kry fietse wat lyk na gewone dikwielfietse soos waarmee ek grootgeword het, maar dit het 7 ratte om te help wanneer die wind bietjie van voor druk. Hulle ry seepglad en maklik. Mens moet net kophou met al die voetgangers en ander fietse en bromponies wat ook dieselfde paadjie gebruik. Ons het gelukkig net paar keer 'n pad gekruis waar daar motors ook gery het.
Ons moes 'n paar kilometer ry voor ons regoor Keukenhof gekom het. Daar het rye en rye busse en motors gestaan. Ek dink nie daar was vir ons ook plek nie. Toe is dit kort-kort se stilhou om ons te verwonder aan die lande en plate tulpe en affodille. Ons vingers jeuk net om foto's te neem. Elke keer dink ek net hoe kan mens dit afneem sodat dit so mooi lyk soos wat dit in werklikheid is, maar dit is net nie moontlik nie!
As gevolg van die ongewone warm weer is baie blomme al afgesny, vroeër as normaalweg. So daar is lande waar dit lyk asof die bolle al uitgehaal is, ander lande waar die plante nog staan sonder blomme, lande waar die langste blomme afgesny is, maar die kortes oorgebly het en dan natuurlik dié wat nog vol in die blom is.
Iewers gaan ons van die fietsry pad af en ry tussen die lande op die boer se pad. Die eerste deel was nog lekker, want die grond was hard. Die laaste deel was egter dik sand en ek het momentum verloor en toe ook balans! So ek het so 'n stukkie Nederland by my eiendomsportefeulje gevoeg. Gelukkig het alles in "slow motion" op sagte sand gebeur, so geen skade aan my of die fiets nie. Moes net weer die handvatsel in lyn met die voorwiel draai. Truda het net voor dit afgeklim omdat sy meer insig gehad het van wat gaan gebeur! Ons stoot toe maar die fietse tot by die pad om 'n herhaling van my onnoselheid te voorkom.
Daar is toe net mooi 'n restaurant en ons dink dit is 'n goeie geleentheid om 'n badkamer te gebruik en sommer 'n glasie koeldrank te geniet. Dit is eers na ons deur die klubhuis gestap het dat ons besef dit is eintlik 'n gholfbaan! Hulle het ons darem vriendelik bedien! (Daar het 3 ooms afgeslaan terwyl ons gekyk het en 2 van hulle moes hulle balle uit die water uitvis. Truda sê dit lyk asof daardie "visstok" die stok is wat hulle seker die meeste gebruik tydens 'n rondte!)
Ons het iewers 'n verkeerde afdraai geneem, maar dit het nie gepla nie. Orals soos ons ry, sien ons net plate en plate tulpe van baie verskillende kleure. Soms is daar klomp kleure tulpe in een plaat, dan is dit tulpe bedoel vir pluk.
Ons vind gelukkig weer maklik vir Lemon Bikes en ek besef net ek sal my bobene bietjie moet oefen. Ek is dankbaar Nederland is so plat!
Weer verenig met ons SpaceStar, vra ons Google Maps om ons te lei na Hortus Botanicus in Leiden, of eerder na 'n parkeerarea naby aan die botaniese tuin. Ons kry een wat so 12 minute se stap weg is en ons val in die pad. Hierdie keer kry ons die parkeerplek maklik en sonder enige omleidings agv geslote strate.
By die tuin is die lekkerste, koelste drinkwater beskikbaar by 'n kraan net buite die ingang. Ons maak volle gebruik hiervan, want dit is 'n warm dag. Ons is bly om in te gaan by die tropiese glashuis, want dit uit die direkte son uit, maar na 'n tydjie is dit ook maar warm en bedompig. Mens besef dit veral met die uitstap aan die ander kant. Daar is 'n paar besonderse blomme van verskillende wêrelddele in die gladhuis. Hulle het ook meer as 6 000 verskillende orgideë in 'n paar verskillende vertrekke bymekaar.
Ons bly redelik in die koeler gedeeltes van die tuin en verkyk ons aan al die soorte plante wat ons nie ken nie. Truda herken darem so klompie, maar ek is "clueless" as dit by plante kom. Ons gaan .aak ook 'n draai by die groentetuin. Daar is ook sommige goed wat ons nie ken nie, maar selfs ek herken darem 'n klompie groente!
Ons loop ook vir Linnaeus raak, in elk geval sy borsbeeld. Truda ken hom al van lankal af! Hy is die een wat begin het met die metode van wetenskaplike naamgewing vir plante wat nou nog universeel gebruik word.
Ons het nie middagete gehad nie en gaan soek roomys vir 'n bederfie. Die kafeteria het glad nie roomys nie, maar darem bosbessie kaaskoek. Baie lekker!
Ek is lekker lam na die fietsry en rondloop in die son en ons moet nog die km of so terugstap motor toe. Ons vleg tussen die studente en toeriste deur en kom darem in een stuk by die parkeerarea. Om een of ander onverklaarbare rede wil die masjien glad nie enige een van 3 verskillende bankkaarte van my 'lees' nie. Gelukkig is daar 'n plek waar ons kontant kan betaal - die enigste parkeerplek waar ons nog 'n persoon teëgekom het. Al die ander het net onbemande masjiene!
By die hotel, is die eerste beskikbare parkeerplek omtrent 'n rugbyveld en 'n half van die voordeur af, maar nou ja! Ons gaan sommer aandete by die kroeg in die hotel eet, toast broodjie met ham en kaas en rooibostee. Hulle koffiemasjien word skoongemaak op daardie tydstip en ons kan nie ons eerste keuse kry nie. Gelukkig weet die outjie by die toonbank van rooibostee. Ons kry dit sonder melk, maar met heuning. Terwyl ons wag vir die toastbroodjies, speel ons 'n potjie Rummikub. Dis egter baie meer omslagtig as mens net 2 is in vergelyking met wanneer 4 mense speel.
Vandag was 'n absolute hoogtepunt. Geen foto kan reg laat geskied aan die mooiheid en weelde van die plate tulpe nie!
(App laat net 20 foto's per dag toe. Ek het nóg baie!)Read more
Traveler Weer eens skitterend!
Traveler Baie geluk met jou verjaardag, Annette🌷🌷🌷 Kyk net hoeveel blomme het jy gekry! Hoop jy en Truda gaan 'n heerlike dag saam geniet🍰🍰☕☕😊😊. Ons Hemelse Vader se seën op jou vir die nuwe jaar. !
Traveler Baie dankie! Ja, ek is omtrent bederf vanjaar. Én vanjaar verjaar ek ook in die lente soos jy (en Truda)!
Traveler 🌷🌷🌷🌷🌷🌷🌷😃!