- Afficher le voyage
- Ajouter à ma liste de choses à faireSupprimer de ma liste de choses à faire
- Partager
- 20 avr. 2025, 08:00
- ☀️ 11 °C
- Altitude: 35 m
EspagneBarcelona41°23’7” N 2°9’31” E
Barcelona Dag 2

Soos gewoonlik staan Truda vroeg op, maar ek geniet die inlê bietjie te veel. Ons het nie gisteraand mooi beplan hoe laat ons moet wegtrek by die hostel om betyds te wees vir die 10:00 Free Walking Tour deur die oudste deel van Barcelona nie. Toe ek weer sien is dit halftien! Ons moet nog stap na die metro toe, metrokaartjies koop, uit-'figure' hoe om te ry om by die naaste metro uit te kom vir die wegspringplek van die staptoer en 'n halfuur is geensins genoeg tyd hiervoor nie.
Ek kanselleer ons bespreking op die internet en Truda boek ons weer vir 11:00. Nou vir 2-dag metrokaartjies, dan hoef ons nie verder te worry oor kaartjies vir publieke vervoer die hele tyd terwyl ons in Barcelona is nie. Ongelukkig sluip daar 'n foutjie in met my e-pos adres se intik tydens die koop en die kaartjies word nie afgelewer nie! Wat nou!
Gelukkig is daar 'n plek op hulle website waar jy kan sê jy het nie jou kaartjies gekry nie en dan stuur hulle dit weer. Joekaai, ramp afgeweer!
Die metro is wonderlik - al die aanwysings mooi duidelik, stasies is skoon en die treine kom absoluut op tyd daar aan. Die waens is ook nie oorvol mense nie en ons hoef nie onder iemand anders se armholte te staan om 'n greep op 'n vashouplek te kry nie.
Ons is hoog betyds vir die 11:00 toer!
Ons gids se naam is Jordan. Hy is oorspronklik van Houston in Amerika, maar woon al so 10 jaar in Spanje.
Ons was 16 mense in die groep, maar het bestaan uit 6 groepies mense wat van 6 verskillende lande kom.
By die grootste katedraal in Barcelona is daar 'n laaang tou mense wat wag om in te gaan. Die agterstes in die ry sal nie veel meer kan doen vir die dag as net Q nie! Daar is baie mense op die plein voor die kerk en 'n orkes maak musiek wat gepas is vir Paassondag. Jordan vertel van St Eulalie wie se beeld bo-op die kerktoring is. Sy was net 13 jaar oud toe sy wreed vermoor is deur Romeinse soldate omdat sy die goewerneur van die tyd openlik aangevat het oor sy vervolging van Christene. Jordan vertel vir ons die tradisionele storie dat sy doodgemaak is deur haar in 'n vaatjie met glasstukke te sit en by 'n afdraande afgerol is. (Wikipedia vertel egter 'n ander storie!)
Teen die een gebou is daar 'n kinderkuns uitbeelding van palm Sondag. Hulle het blykbaar inskrywings gevra van kunstenaars vir idees en oa het Picasso hierdie "kinderkuns" gestuur en is dit gekies.
Na die toer is ons lekker honger en ons stap deur die Park Citadela op soek na iets te ete. Daar is baie mense wat piekniek hou en sommer die rustigheid geniet, maar niks kos te kope nie. Ons sien ook oulike groen papegaaitjies wat die duiwe afknou om die stukkies afval te bekom.
Gaan eet lekker tapas by Bell Pepper restaurant. Dis 'n Spaanse restaurant, maar al die personeel is van Oosterse afkoms!
Besoek die museum van Barcelona se geskiedenis - want dis gratis. Dit is gebou op 'n perseel wat voorheen 'n vars vrugte- en groentemark was. Dié het in onbruik verval en toe hulle dit wou sloop om 'n publieke biblioteek te bou, kom hulle op antieke bouwerk af. Natuurlik kon hulle nie voortgaan met die biblioteek nie en uiteindelik word dit toe 'n pragtige museum. Mens loop op platforms en kyk af op die antieke strate en halwe geboue.
Jordan het gesê as mens nog nie kaartjies het vir die Sagrada Familia nie, sal mens nie vandag of môre kan inkom om binne-in te kan gaan kyk nie. Ons besluit dat om die buitekant te sien darem beter is as niks. Ons neem die metro van die Arc de Triomf (ja, hier is ook een!) stasie, maar maak 'n fout met die afklim. Gelukkig geen paniek, want ons het metrokaartjies vir 48h en dit kos ons gelukkig niks ekstra nie, net so bietjie tyd en daarvan het ons genoeg.
Daar is ongelooflik baie mense buite die kerk/katedraal. Duidelik baie mense wat ons filosofie deel tov die kaartjies... Daar is 'n hoë swart heining rondom die kerk. Die soort wat gewoonlik gebruik word om kwaaddoeners buite te hou, wat hier seker ook die geval is, maar beslis ook om toeriste te beheer. Die toegangshek word deur polisie beman. Terrorisme is seker maar ook een vd bedreigings waarmee hulle te doen kan hê.
Naby ons hostel is daar 'n selfoonwinkel. Ons besluit om tog maar 'n simkaart te koop met prepaid data en die vriendelike man in die winkel (lyk soos Pakistani!) help ons om aanlyn te kom.
Op dag 2 is ons hostel ook sommer baie nader as wat dit die eerste dag was met rugsakke op die rug. Gou-gou is ons tuis en kry ons voete 'n welverdiende ruskans. Samsung Health wens my geluk met my 'all-time steps record" vir 'n dag!En savoir plus
Voyageur Ek is bly om te sien julle het ook maar hobbels in die pad. Ek hou van jou skryfstyl. Ek beveel die Europese e-sim baie sterk aan.
Voyageur My foon was nie compatible nie! Ek wou een gekoop het.
Voyageur 😪