A 11-day adventure by Marise Read more
  • 11footprints
  • 2countries
  • 11days
  • 110photos
  • 0videos
  • 5.9kkilometers
  • Day 11

    Koffie uitstappie en terug na SA

    August 17, 2023 in Rwanda ⋅ ⛅ 26 °C

    Ons staan weer vroeg op, want ons moet 7uur ry vir ons koffie uitstappie naby Muhanga (waar die Zipline is) en dis amper 2 ure se ry.

    Ons kom by Azizi Life Centre aan, wat die uitstappies reël. Hulle het 'n baie oulike winkeltjie waar hulle kuns verkoop wat deur die plaaslike vroue gemaak word. Hulle het 3 sulke winkels, in Byimana, Kigali en by die Diane Fossey sentrum. Hulle reël dan ook hierdie 'ondervindings' deur die plaaslike mense om vir hulle geld in te bring. Azizi Life is ook 'n nie-winsgewende organisasie. Bona wys vir ons als in die winkel en verduidelik hoe dit gemaak word en die geskiedenis van die verskillende kuns.

    Ons wag vir nog 2 mense wat saam met ons die koffie toer gaan doen, Amanda en Liam van New York, so ek en Hermien drink solank iets by die koffiewinkel. Toe hulle opdaag kry ons 'n inligtingsessie van hoe die toer werk. Ons gaan na die gemeenskaps'village' en hulle gaan vir ons wys hoe werk dit om koffie te maak. Hulle sê hulle moet ons net waarsku dat daar ongelukkig net 'n latrine is, wat beteken die toilet is net 'n gat in die grond met 'n geboutjie oor. Hermien hou summier op koffie drink. Ek het ongelukkig my hele drankie al klaar gedrink.

    Ons ry so 20 min na 'n klein 'dorpie' en parkeer daar. Oral is landerye met bome. Die plek waar ons bymekaar kom is af met die paadjie, en uit ondervinding weet ons... wat afgaan moet netnou weer opkom. Ons kom almal bymekaar by Angelique se huis - sy is vandag ons gasvrou en almal word voorgestel. Ons kry ook almal tradisionele lap met Afrika motiewe wat hulle tradisioneel dra. Bona en Ange, die twee gidse vertaal alles. Na almal voorgestel is gaan ons na buite en hulle wys ons hoe hulle patats afskil (met groot messe). Ons skil die patats want dis deel van die middagete. Amanda sê sy kan nie kosmaak nie, maar ons oortuig haar dat sy na haar trip in Afrika 'n restaurant in New York kan gaan oopmaak. Hulle wys ons ook die stofies wat 'n nie-winsgewende organisasie vir hulle beskikbaar maak, om in te kook. Hulle betaal dan 'n klein fooi tot dit afbetaal is. Saam met die stofie kry hulle 2 potte en 'n tipe pot wat die kos kan warm hou vir 'n ruk. Die stofie werk met hout, maar gebruik dit meer ekonomies. Die kamer waarin hulle kosmaak is egter pikswart van al die roet, maar hulle meen dit beskerm die lug want die rook gaan minder in die lug in.

    Ons kry toe elkeen 'n bottel vir water en stap af na die koffieboom plantasie. Daar is 'n pyp wat water uit 'n natuurlike waterbron bring. Ons sit die bottels daar dat ons dit later kan volmaak oppad terug huis toe. By die koffieplantasie pluk ons die rooi koffie'cherries'. En sit dit als in sakke en bakke. Ons kry toe water en stap terug op na die huisie toe. Hulle wys my hoe om die koffiekersies op my kop te dra.

    By die huis was ons die kersies en dan word dit met 'n klip oopgebreek op 'n ander klip deur dit met die kleiner klip te 'vryf'. Daarna word die koffiebone een vir een, met die hand, uit die skilletjie gedruk. Die skilletjies word dan later weer gebruik vir kompos. Die koffieboontjies word dan gedroog in die son - 1 week in die droë seisoen, 3 weke in die reënseisoen. Hulle bring vir ons bone wat reeds gedroog is en dit word dan, een vir een, met die hand, uit die droë doppie gehaal. Koffie mense beter hulle koffie waardeer. Dis baie werk.

    Middagete is toe gereeds en ons almal gaan eet in die huis, na ons hande gewas het in 'n skottel terwyl iemand van die water oor ons hande gooi. Middagete is patats met bone, groen piesang wat gaargemaak is met bone, bone en avo's. Hermien het dit geniet. Ek het net genoeg geëet om bedagsaam te wees. Ek het wel die avo's geniet. Ons gesels oor klomp goed. Dit kom toe uit in die gesprek dat hulle nie weet wat 'n yskas is nie. Ek google toe foto's en ons verduidelik wat dit is. Hulle vra waar hulle dit kan kry en ek kyk, maar dis baie duur in Rwanda. Hulle besluit toe hulle gaan dit in Suid-Afrika kom koop waar dit goedkoper is, en dit dan op hulle koppe terugdra Rwanda toe. Google maps sê dis net 29 dae se stap. Hulle het nie almal elektrisiteit nie, maar hulle gaan maak soos met die selfone en dit gaan laai by die mense wat elektrisiteit het en dit dan terugvat huis toe. Ons almal lag lekker vir al die planne, maar dit is 'n moeilike realiteit. Omdat dit so warm is kan hulle nie etes vooruit maak nie. Al die kos wat hulle maak vir 'n ete moet in daai ete opgeëet word, want dit sal nie meer reg wees teen die volgende ete nie. Hulle het ook nie in oorvloed nie, so kos kan nie gemors word nie. Hulle eet baie bone omdat hulle nie gereeld vleis kry nie, sodat hulle proteïene inkry. Ek kan nie help om te dink hoe ondankbaar ons is nie.

    Na ete gaan ons weer na buite en moet nou die koffiebone 'roast' op die stofie. Mens sit dit net so droog in die pot en na 'n ruk word dit donker bruin en lyk vir die eerste keer soos die koffiebone wat ons ken. Dit ruik ook vir die eerste keer so. Die geroosterde bone word dan in 'n uitgeholde stomp gegooi en met 'n hout paaltjie fyn gestamp terwyl almal sing en dans. Baie jolig. As die koffie fyngemaal is word dit in 'n houer met kookwater gemeng en geskink deur 'n siffie. Dis baie sterk koffie. Hulle gee vir ons Kanada bekers en ons vra hoekom daar so baie kanada goed is, want 2 van die vroue dra kanada t-hemde. Daar is glo 'n vrou van kanada wat baie van Rwanda hou en goed bring as sy kom kuier.

    Ek wou nog die hele trip lank, en ek het elke dag in Hermien se ore gekla, self 'n piesang uit 'n boom pluk. Hermien het vir Bona gesê en Bona sê toe, na die koffie, ons moet gou buitentoe gaan. Hulle vat ons na die piesangbome en laat my toe 'n piesangpluk. Florida tik toe aan my skouer en gee vir my 'n sakkie wat sy vir my piesang gemaak het uit 'n piesangblaar. So spesiaal.

    Ons stap toe weer na bo by die kar en gaan laai vir Bona af by Azizi life centre. Die verkeer terug na Kigali is erger as wat ons verwag het en ons tel vir Richard op oppad lughawe toe dat hy ons gaan aflaai en die kar terugvat. Ons het omtrent 3 tot 4 ure gery na die lughawe. Richard het toe nie Hermien se deposito wat ons kontant vir die kar gegee het nie en Emmanuel sê hy sal dit met Western Union stuur (ek weet nie eintlik hoe werk Western Union nie - mens (ek) moet seker op een of ander stadium uitvind). Ek en Hermien begin toe deurgaan, maar die sekuriteitsman kom roep vir Hermien. Richard het toe 'n plan gemaak en die geld op 'n manier gekry. Ons gaan deur en vlieg elkeen met 'n hele ry sitplekke vir onsself. In Johannesburg vat hulle my bagasie en gee my kaap tas wat ek by Willem gelos het terug en ek kry my ma se paspoort en vlieg kaap toe vir ons visas.

    Wat 'n ongelooflike trip. Laat niemand weer bekommerd wees oor 'diep, donker Afrika' as ons van Rwanda of Uganda praat nie. Johannesburg (meeste van Suid-Afrika eintlik) is meer onveilig as hierdie lande. Ons het wel lekkerder kos.
    Read more