Satellite
Show on map
  • Day 7

    Batik, GWK kultuurpark en strand

    April 23, 2019 in Indonesia ⋅ 🌬 31 °C

    Ons het weer douvoordag gestap na Coco Supermarket om ons bus te kry. Die bus vat ons eerste na 'n silwerwinkel met die mooiste goed. Daarna ry ons na 'n Batik fabriek, dis mal interessant. Hulle sit met groot lappe voor hulle waarop patrone geteken is. Hulle vat dan 'n instrument wat lyk soos 'n tabakpypie en skep die gekleurde warm was in die deel waar die 'tabak' sou wees. Aan die onderkant van die 'tabakdeel' van die pyp (ek ken nie die regte terme vir die dele van 'n pyp nie) is daar 'n klein steeltjie wat basies net 'n druppel op 'n slag laat uitkom. Hulle teken dan met die dun puntjie op die patroon. Ek weet nie mooi presies hoe dit verder werk nie (hulle is Engels is nie goed genoeg om te verduidelik nie en die Engelse inligtingsblaaitjies op. Ek het maar 'n Spaanse een gevat vir Busta of Yusimi om dit vir my te vertaal as ek terug is). Van daar af het ons na GWK kultuurpark gegaan, waar ons rondgeloop, na die beelde gekyk, fiets gery, foto's geneem en 'n Indonesiese buffet middagete geëet het. Ons het ook 'n tradionele dansvertoning gaan kyk, waar hulle my en Annelia geroep het om saam 'n paar ander mense saam met hulle te dans. Daarna het die bus ons strand toe gevat en ons het bietjie geswem en kuier. Die see is blou, maar nie mooi helder nie. Die sand in die see is ook baie klipperig met skulpe en dit sak weg onder jou voete, so as jy in die water is begin jy so gou as moontlik swem. Daar is ook redelik strome, maar die water is lekker warm. Die bus het ons toe huis toe gebring, maar ons het nogal lank gery en almal was maar redelik moeg. Ek, Sharon, Annelia, Bea en Trix gaan eet toe by 'n Italiaanse restaurant want Bea en Annelia was moeg vir al die vreemde kos en het net 'n 'egte boere pizza' gesoek. Voor dit het ons vinnig ietsie gaan drink by Habitat, waar Sharon die charcoal latte gedrink het (waarvoor ons eintlik gegaan het, maar toe het hulle net voorraad vir een).Read more