• Day 4

    Montserrat

    April 21 in Spain ⋅ ☀️ 12 °C

    Ons was vandag op 'n uitstappie na Montserrat wat beteken "serrated mountain". Die berg het 'n hele klompie pieke en is in 1987 verklaar as 'n nasionale park. Dit laat my so bietjie dink aan Tafelberg in die sin dat dit baie toeriste lok net omdat dit dáár is. Daar is baie verskillende voetpaaie wat na die verskillende pieke toe lei. Sommige mense stap/draf van onder af tot bo by die klooster, ander ry met 'n kabelkarretjie, ander ry met 'n tandrattrein, party ry met motors of motorfietse en hope hope mense word met busse aangekarwei.
    Daar omtrent eindig die ooreenkoms met Tafelberg.

    By die klooster of eintlik vasgebou daaraan is 'n museum, 'n hotel, kafeteria, restaurant, curio shops, nog 'n hotel en wie weet wat nog alles! Omtrent alles by hierdie "hub" verwys na heiliges van een of ander aard, priesters uit die geskiedenis of die Virgin van Montserrat.

    Ons kies 'n paadjie wat hulle noem Via Crucis. Ons dog dit is maar net die pad wat lei na die groot kruis op een van die pieke, maar dit is toe 'n pad wat elke nou en dan 'n beeld het. Party beelde van Jesus, ander van nonne met kinders, ander van geestelikes vd Rooms-Katolieke kerk. Net sommiges het byskrifte en dan net in Spaans, so ons verstaan maar min.

    Ten spyte van die hordes mense, stap ons die eerste deel van hierdie Via in baie rustigheid en sien selfs 'n paar bergbokke wat lê en herkou net langs die paadjie.

    Later sluit ons paadjie aan by die hoofpad na die kruis toe en raak ons deel van 'n uitgerekte stroom mense op dieselfde pad. Ek is baie dankbaar dat ek die afgelope jaar 'n hele klompie km's op my kerfstok het, want die pad raak half steil op 'n stadium en 18 maande gelede sou ek nie kans gesien het om verder te gaan nie.

    Ons stap eers verby die kruis na 'n klein kerkie bietjie verder en sak op 'n bankie neer om asem te skep, sweet af te vee en middagete te geniet. (Truda hoef nie die eerste 2 goed te doen nie...)

    Nadat ons weer krag gekry het, begin ons met die terugtog. Ons gaan nie na die kruis toe nie, want dis makliker om dit van ver af af te neem.

    Ons stap nog bietjie rond om by nog uitkykpunte te gaan kyk of die uitsig daar anders lyk as die vorige een. Gelukkig vir digitale fotografie, want ek sou vandag baie films nodig gehad het as dít nog die heersende tegnologie was! (Baie foto's geneem met my kamera en nie met die selfoon nie.)

    Uiteindelik besluit ons genoeg is genoeg en ons begin die terugtog in die omgekeerde orde as vanoggend - tandrattrein tot onder, voorstedelike trein tot in Barcelona en dan metro tot by ons geliefde Urgell stasie, skaars 'n hanetree van ons hostel af. Ek is seker daai eerste dag was hy báie verder weg!

    Ons doen inkopies vir aandete en middagete môre by 'n plaaslike supermarkie. Môre vertrek ons per trein Madrid toe.
    Read more