- Show trip
- Add to bucket listRemove from bucket list
- Share
- May 12, 2025, 8:13am
- ☀️ 9 °C
- Altitude: 22 m
DenmarkMogenstrup55°10’39” N 11°51’36” E
Kopenhagen, Næstved na Faxe

Laaste opstaan in die kokon in Kopenhagen. Ons motor staan gelukkig nog veilig in die parkeerarea agter die stadsaal. Die luukse motor se kattebak is lekker groot en ons rugsakke pas gemaklik daarin. Anders as met die SpaceStar in Nederland waar dit net reg ingesit moes word om in te pas.
Ons gaan kyk eers na die Kaktus Torings in Kopenhagen voor ons die stad se stof van ons voete afskud. Hulle het sulke stekelrige punte, nes 'n kaktus.
Die Reader's Digest Condensed weergawe van die res van die dag is: ons ry tot by Stevns Klint, kyk uit oor die afgrond, ry na die huis van Leon (oud-leerder van Truda) en sy gesin naby Næsved, kuier, eet, kuier baie lekker, gaan eet roomys by Karrebæksminde, verken die stranddorpie, ry na Faxe en oornag in die motor buite die hostel.
Die langer weergawe is dat ons die eerste mense die oggend by Stevns Klint is. Die plekkie is 'n besoek waardig agv die hoë afgrond na die see toe - amper soos by die "white cliffs of Dover" in Engeland. Daar is 'n klein kerkie, wat etlike eeue oud is, op die uiterste punt van die afgrond gebou. Die prediker steek amper sy hand oor die afgrond wanneer hy die seën uitspreek.
Daar is sulke horisontale swart strepe in die rotse wat blykbaar stukkies van 'n asteroïede bevat wat 65.5 miljoen jaar gelede die aarde getref het en toe daar vasgevang is. Believe it or not?! Dit bly 'n asemrowende uitsig wat 'n mens daar het.
Ons stap weer in die vriesende windjie terug na die motor toe en ek verkyk my aan die "koster" met sy kortbroek. Hy dink seker dit is 'n lieflike lentedag in Denemarke!
Ons maak staat op Google Maps om ons te lei tot by Leon en Sara se huis in die omgewing van Næstved, redelik suid op dieselfde eiland van Denemarke as waar Kopenhagen ook is. En Google stel nie teleur nie, ons kry maklik die huis.
(Terloops Denemarke bestaan uit 1 419 eilande waarvan net 443 name het. Moet nou ook nie dink dat Næstved se naam op 'n "d" eindig as jy dit uitspreek nie - dit is eerder Nesville. Ook Odense word uitgespreek as o-ense. Weet nie wat die Dene teen die letter "d' het nie!!)
Leon was in die skool in Monument Park toe Truda daar skoolgehou het. Blykbaar 'n model leerder! Hy en sy vrou Sara woon nou al so 8 jaar in Denemarke. Hulle het 2 seuntjies van 5 en 3 jaar oud. Hulle het ons genooi vir middagete en Sara het vir ons 'n egte Deense ete voorgesit, nl smørrebrød. Dit is rogbrood met verskillende "toppings" soos gerookte salm, herring, lewerpatee, koue vleis en hardgekookte eier met garnaaltjies. Dit was eersteklas! Ons het lekker gesels, veral oor hulle lewe hier in Denemarke en die baie voordele wat hulle ontvang van die regering in vergelyking met Suid-Afrika. Ons het ook bietjie gaan stap in die area en gaan kyk hoe dit lyk by die kinders se skooltjie. Die skoolgronde is sommer oop op die Sondag en die kinders kan daar gaan speel. Daar het later maatjies ook aangekom en saam gespeel.
Later die middag het ons gaan roomys eet by Karrebæksminde, 'n stranddorpie sowat 25 min van hulle huis af. Die kinders se fietse bly sommer voor die agterdeur staan, geen probleem met diefstal hier nie! Ons het gaan kyk hoe die karavaanpark lyk en sommer so draai op die strand gemaak en al langs die mensgemaakte kanaal geloop by Karrebæksminde. Die kanaal is gegrawe sodat bote vrag kan gaan aflaai by Næstved sonder om heel om die eiland Enø te vaar.
Toe ons groet is dit seker al amper 20:00, maar die son sit nog hoog. Ek het nie besef dit is al so laat nie! Ons waardeer dit dat Sara en Leon hul kosbare Sondag (Moedersdag nogal) aan ons afgestaan het en ons só gasvry ontvang en onthaal het!
Ons laat weet die hostel in Faxe via Booking.com dat ons nog kom, maar dat ons nog 30 min weg is. Sien daar is 'n boodskap dat indien mens na 16:00 inboek kan 'n mens die sleutel van jou kamer kry in die key dropbox by die voordeur. Die pinkode vir die box is in die bevestigings e-pos van die bespreking. So ons is gerus, geen probleem nie. Daar aangekom soek ek die pinkode in die bespreking. Daar is 'n pinkode, maar dit is die een van Booking.com, maar nou ja, miskien gebruik hulle dieselfde een. Probeer die kode, probeer weer met 'n hashtag, met 'n asterisk, probeer weer met hastag aan die begin, maar al wat beweeg is my moedelose gevoel - glad nie die dropbox se deurtjie nie!
Ons probeer die hostel bel, ons stuur boodskap via Booking.com, ons stuur e-pos, ons gaan voel aan al die deure, klop aan die Private deur, maar niks help nie. Ons het nie 'n kamer vir die nag nie! Al genade is om maar in die motor te slaap.
Ons gaan soek 'n garage met kleedkamers, maar loop ook daar 'n paar bloutjies. Al wat oorbly is om maar 'n veldtie te doen, warmer aan te trek, die sitplekke agteroor te laat sak, die boodskap van Angus Buchan te luister en aan die slaap te probeer raak voor die motor afkoel. Party van ons was meer suksesvol met die laaste deel as die ander een!
Ons het so 2 keer deur die nag die motor se enjin aangeskakel om weer bietjie warm lug in die motor te kry, maar dit was maar koud vir my. Gelukkig het ons die luukse motor gekry (dalk was dit die rede daarvoor) so ons het nie ongemaklik gelê nie en kon darem bietjie geslaap kry!Read more
Traveler
😯
Traveler
❤️ sjoe, baie mooi!
Traveler 🤩
Traveler
❤️