• Day 15–17

    Noordwijk na Appelscha

    May 1 in the Netherlands ⋅ ☁️ 21 °C

    Laaste dag in die suidelike deel van Nederland. Hier is nog veel meer om te verken, maar Booking.com herinner ons aan ons volgende bestemming wat wag.

    Ons gaan eet eers ontbyt, want dis ingesluit by die verblyf en ons mors (of morsch) nie graag nie. Hierdie keer laat ons nie dat goeie etiket ons onder kry nie en pak ons 'n gesmeerde broodjie en vrug in vir middagete langs die pad.

    Ons eerste stop is in Haarlem. Ons vind ons pad na 'n parkeergarage, maar die hek weier om oop te gaan. Ons lees hulle inligtingsborde en besef dit is omdat daar geen plekke Vrij is nie. Ons soek maar 'n ander een op en kry vir Haarlemmer-Stroom. Ons bespreek en betaal online en volg Google Maps se aanduidings. Daar gekom is dit asof iemand gesê het "Open Sesame", want die paal lig vanself op en ons kan inry in die opelug parkeerarea in. Daar is heelwat meer plekke beskikbaar as die 13 wat online gewys het!

    Ons vra weer Google Maps se hulp, hierdie keer om te stap na die Corrie ten Boom museum. Ons weet eintlik ons sal nie kan ingaan nie, want ons het probeer bespreek, maar daar was geen openinge nie. Lyk my ons moes eintlik al 'n maand gelede die bespreking gedoen het! Gelukkig lei die blou stippellyn ons deur 'n klompie stil straatjies na die hart van ou Haarlem. Ons verwonder ons weer eens aan die groot kerk en ander geboue op die Groote Markt-plein. Ons gaan in by die kerk se winkel wat allerhande aandenkings en boeke verkoop en benut die geroesemoes in die winkel om ongevraagd hul toilet te gebruik. As mens op 'n klein begroting toer, help elke bietjie besparing!

    Ons verkyk ons so aan die winkels dat ons skoon verby die museum stap. Dit is 'n klein deeltjie van 'n groter gebou waar Corrie ten Boom en gesin voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog gewoon het. Haar pa het 'n winkel gehad op die grondvloer en hulle het op die eerste verdieping gewoon. Hulle het gehelp om Jode weg te steek en te beskerm teen die Duitsers.

    Uiteindelik is hulle gevang en Corrie, haar suster, 2 broers en hulle bejaarde pa is na verskillende konsentrasiekampe gestuur. Sy is al een wat oorleef het.

    Daarna, in 1946, het sy begin om deur die wêreld te reis as openbare spreker. Sy was 'n toegewyde Christen wat vertel het van haar werk met die vlugtelinge en die Nederlanders wat na die oorlog werkloos was en getuig van God se sorg. Sy was in 1953 ook in Suid-Afrika.

    Ons vind sonder moeite ons motor danksy ons goeie geheues! 😁
    Ook met die uitgaan by die parkeerarea sê iemand "Open Sesame" en die paal lig op sodat ons kan uitry. Moet iets te doen hê met die nommerplaat wat ons ingetik het toe ons die plek bespreek het!

    Toe is dit kophou met die verkeer en baie paaie en Google Maps se aanwysings om op die pad te kom na Den Oever via De Ewijksluis. Ons ry nog verby heelwat lande met tulpe wat nog vol in die blom staan. Die pad is egter te smal en besig of is 'n hoofpad, so dit is onmoontlik om stil te hou om foto's te neem. Toe ek reken ons is nou uiteindelik uit die geroesemoes en besigste paaie, toe is dit net omtrent nog 10 km na De Ewijksluis.

    Ons stop by die Langedijk, dit is maar 'n kanaal, waar 'n groep mense die warm weer geniet met 'n piekniek. Ons hou so entjie weg stil, want ons het mos ook darem 'n piekniek ingepak!

    By Ewijksluis kry ons 'n idee van die moeite wat gedoen word om te sorg dat Nederland beskerm is teen die aanslae vd Waddensee en meer spesifiek hoe die noordelikste dorpies die water van hul voorstoepe wegkeer!

    Dan gaan ons verder, eers oor kort Amsteldiepdyk en dan mettertyd ook oor die Afsluitdyk. Die Afsluitdyk is meer as 30 km lank en skei die Ijsselmeer van die Waddensee. Dit is 'n noodsaaklike beskerming teen vloede vir 'n groot deel van die "Neder"lande en is al in 1933 geopen vir verkeer. Dit bring ook natuurlik 2 provinsies, naamlik Friesland en Noord-Holland baie nader aan mekaar.

    Daar is rye op rye op rye windturbines in die Ijsselmeer opgerig. Ook soos ons suidwaarts begin ry na Appelscha, sien ons gereeld groot sonplase. Glo nie die Nederlanders ken van loadshedding nie! (Toe ek vir Marjan gevra het of sy weet wat loadshedding is, toe sê sy ja, dit is wat ons in SA het met die elektrisiteit!)

    Anita ontvang ons baie hartlik by De Posthoorn. Dit is 'n lekker ruim kamer met 'n kombuisarea en 'n heerlike sonnige stoepie wat ons tuiste is vir die volgende 2 dae. Ons vra vir Anita na 'n laundromat in die dorp en toe bied sy aan dat ons ons wasgoed sommer in haar masjien kan was. Sy het 'n staander waar ons dit kan ophang. Baie gaaf van haar, want my skoon klere is party nog net half-skoon. 😏

    Omdat ons 'n kombuisie het, kan ons in 'n supermark gaan kos koop. Ek vra vir liewe Google Maps aanwysings na die naaste kruidenierswinkel. Eers toe ons op pad is, besef ons ons is besig om na die volgende dorpie te ry. Gelukkig nou nie 'n dagreis ver nie, maar nogtans verstommend hoe Google mens somtyds kan mislei!

    Ons kry klompie benodigdhede en oa "Gegrilde kip en salad met yoghurtsous" oftewel hoenderslaai met 'n sousie. Smaak beter as wat dit klink!

    Ons skryf tot laat sodat ons nie sover agter raak met die joernale nie en toe ons die lig afskakel is dit al my verjaardag!
    Read more