- Show trip
- Add to bucket listRemove from bucket list
- Share
- May 6, 2025, 10:25 PM
- ⛅ 9 °C
- Altitude: 12 m
GermanyStadtgebiet Bremen53°6’24” N 8°50’42” E
Bremen

Vandag het ons baie rustig begin. Ons het besluit om op 'n bootvaart op die Weserrivier te gaan en hulle vertrek eers 11:00. Ons stap rustig af na die rivier toe en sien weer die mooi geboue van gister. Mens is sommer weer lus om hulle af te neem, want die lig val anders op hulle. Ons is voor 10 al onder hy die kaartjiekantoor en alhoewel daar 'n persoon en 'n hondjie binnekant is, maak geen venster oop vir sake nie. Ons staan eers bietjie rond, neem 'n paar foto's en gaan sit later maar op 'n bankie en wag. Gelukkig het ons ons "windbreakers" by ons, want die windjie wil deur murg en been sny.
Toe ons uiteindelik begin vaar besef ons dat al die kommentaar slegs in Duits gedoen word. Ons skakel die Google Translate app aan, maar daar is ander gesprekke rondom ons ook aan die gang en die vertaling is dikwels totaal gibberish. Soms kan ons darem die strekking van die kommentaar kry en dan is ek sommer opgewonde. Dit is 'n lekker vaart, maar dink nie ek sal dit aanbeveel as waarde vir geld nie. Toe ons afklim, sien ons daar is gelamineerde getikte bladsye met die kommentaar in Engels beskikbaar. Hulle het seker aan die begin die afkondiging daaroor in Duits gemaak!
Rasend honger en op soek na 'n WC slaan ons voete sommer vanself die rigting in na die markplein. Ons bestudeer die menu's by 'n paar restaurante om te sien of daar iets is wat ons wil eet teen 'n prys wat ons bereid is om te betaal. Ons kry een wat 'n Engelse ontbyt aanbied teen 'n billike prys én hulle het 'n WC. Die windjie is nog koel, so ons gaan binnetoe (af met die trappe) en gaan sit in 'n gerieflike hoekie op heerlike sagte stoele.
Én die ontbyt was heerlik!
Gevoed en versterk gaan soek ons die regte trem om te neem na die Universum Bremen. Dit is 'n wetenskapsentrum met interaktiewe uitstallings. Ons koop die kaartjie vir die trem op die trem, maar niemand kontroleer dit nie en dit lyk nie vir my of enigiemand anders vir hulle steur aan kaartjies nie! (Met die terugrit het ek gesien dat een persoon 'n kaartjie gescan het.)
Die Universum: ek kan dit nie genoeg aanbeveel nie. Ons was die laaste besoekers by die deur uit met toemaaktyd! Ons moes baie eerder die bootvaart gelos het en die hele dag hier spandeer het! Ons het net die 2 vloere wat gemoeid is met tegnologie en die menslike liggaam deurgewerk. Ons was glad nie eens op die 3de vloer wat gewy is aan die natuur nie. Om die waarheid te sê ons het nie eens 100% klaar gekry met die menslike liggaam nie toe die aankondiging kom dat hulle binnekort gaan toemaak nie.
90% van die uitstallings is interaktief. Meeste daarvan is een of ander speletjie wat 'n wetenskaplike feit ten toon stel en dan is daar 'n kennisgewing om die wetenskap te verduidelik.
Ons maak toe soos die locals en ry trem sonder om te betaal. Die eenrigtingkaartjie se prys was voldoende in ons geldeenheid om vir retoer te geld...
Die trem laai ons basies reg voor ons hotel af en ons gaan gou inkopies doen in die DM net onder die hotel. DM is 'n winkel soortgelyk aan ons Dischem. Daar is 'n stelsel van self checkout as jy dit verkies. Jy scan self die produkte en tap jou kaart om te betaal en daar gaan jy! Neem aan daar is 'n stelsel in plek om diefstal te keer!! Het dit in elk geval nie uitgetoets nie.😆
Môre moet ons vroegerig roer, want die trein na Hamburg kan ons nie verpas nie. Ons het nie 'n flexible kaartjie nie. Dis óf die regte trein óf 'n nuwe kaartjie koop en ons wil nie die tweede opsie nodig hê nie.Read more
Traveler Oulike vergelyking v d oester en walvis!🤩
Traveler
😃
Traveler
😀