Satellite
Show on map
  • Day 7

    Gorillas!!!

    August 13, 2023 in Uganda ⋅ ☁️ 24 °C

    Vroeg uit die vere (dis nog donker toe ons opstaan), maar Uganda is 'n uur voor Rwanda (en SA). 7uur eet ons ontbyt en kry kospakkies vir die gorilla stap, want mens moet 'n sekere hoeveelheid kos en water hê om te mag gaan. Half 8 ry ons na die ingang van Ruhija, waar die stap begin.

    Ons het eers 8uur 'n inligtingsessie gehad - mens moet genoeg eetgoed en water, handskoene (sterk handskoene, sodat die brandnetels nie jou hand steek as jy skielik moet gryp êrens nie), 'n stapstok en 'n masker vat. Gorillas het 98.4% dieselfde DNA as mense en dieselfde liggaamstemperatuur, dus kan ons hulle maklik siek maak. Verder moet mens jou broek in jou kouse steek sodat die 'fire ants' nie kan opklim nie, veral hierdie tyd van die jaar want dis droog en hulle soek water. Mens kan 'n portier huur wat jou help dra aan jou goed, maar eintlik help hy jou deur die terrein en maak seker jy val nie (Martin was 'n champ en elke sent, of shilling, werd).

    Na die inligtingsessie het vrouens van die plaaslike gemeenskap gedans en -sing. Daarna is ons in groepe gedeel vir die stap. Ons gids was Goreth en ons het na die Kyogoriro gorilla familie gestap. Elke familie het so 8 tot 12 lede. Die gorillas waarheen ons gaan is almal 'habituated', dus gewoond gemaak aan mense. Hulle is steeds wild en doen wat hulle wil, maar elke dag besoek 'n toergroep hulle vir 'n uur (ja, hulle is so streng met die tyd). Hulle het wildbewaarders wat hulle 24 uur 'n dag volg en oppas want hulle word ge'poach'. Die gorillas hardloop glo na die wagte as hulle in gevaar is, want hulle weet hulle sal hulle beskerm.

    Ons het gery tot waar mens in die woud gaan en toe begin stap. Aan die voorkant en agterkant van die groep stap 2 gewapende wagte om ons te beskerm. Dis aanvanklik 'n redelike afdraende en dan raak dit skielik baie styl af met baie bosse en takke en plante oral, nie rerig 'n paadjie nie. Die 'trackers' laat weet vroeg in die oggend die gidse waar die gorillas is. As mens naby kom hoor hulle mens en dan kommunikeer hulle en die gidse met geluide, sodat hulle weet waarheen om te stap. Daar was 'n massiewe erdwurm en 'fire ants' op ons pad en ons is oor 2 stroompie. Die gorillas was heel onder.

    Dis ongelooflik. Mens kom redelik naby aan hulle. Een het vir Hermien begin storm, maar toe keer die wag haar. Daar was 2 babatjies, 5 volwasse wyfies en 1 silverback (die hoof mannetjie). As die gorillas bietjie onrustig begin raak, maak die wagte hulle kalm met geluide. Die silverback was net vinnig naby ons en het heeltyd weggeloop. Hy is glo nuwerig as silverback van die familie en is nog nie heeltemal 'habituated' nie. Die 2 babatjies het heeltyd gespeel en was nuuskierig so het na ons toe gekyk. Die volwasse wyfies het nie 'n saak nie. Hulle kyk nie eers as mens praat of beweeg nie. Hulle ignoreer ons heeltemal. Een van hulle het omtrent 2 meter van my af verby geloop. Die 'trackers' kap heeltyd die bosse oop sodat ons die gorillas kan volg en nader kom. Die wagte is baie streng, mens kry 'n waarskuwing as dit naby aan 'n uur is en dan begin mens terugstap.

    Dis natuuuuuuurlik weer 'n styl opdraende, want what goes down... Dis 400m 'elevation' gewees oor 3 km (Hermien se horlosie se stats). Mens kan 'n 'helikopter' laat kom om jou uit te haal, maar dit kos $300 minimum. Dis 12 mans wat mens op 'n draagbaar dra, 4 op 'n slag, en dan ruil hulle as hulle moeg raak. Dit gebeur glo so 2 keer 'n week dat iemand dit gebruik. Toe ons bo is kry ons sertifikate (my van is op elke manier moontlik verkeerd gespel, maar nou ja). Hermien gaan bespreek toe haar staptog vir môre en ons kom huis toe vir 'n lekker warm stort, waarvoor ons net 'n uur gou moes wag.

    Laatmiddag kom haal een van die mans wat by die blyplek werk, ons en vat ons na die Ruhija gemeenskap toe om te kyk hoe dit lyk en die winkeltjies te besoek. Al die kindertjies waai langs die pad.

    Terug by Ruhija camp kry ons aandete en gesels met 2 Franse toeriste wat môre die gorillas gaan kyk. Hulle bly in Parys en sê ons kan gaan kuier. Hulle sal ook nog Suid-Afrika toe kom. Na ons by die lekker vuur gesit het gaan slaap ons.
    Read more