Satellite
Show on map
  • Day 9

    Bunyoni meer

    August 15, 2023 in Uganda ⋅ ☁️ 24 °C

    Ons het vroeg opgestaan om gou ontbyt te eet, want ons wou nog een keer na die danse en gorilla inligtingsessie gaan luister, maar heelaas... ons was te laat. So ons maak toe rustig klaar en ry na Bunyoni meer, waar ons die aand by Paradise eco-resort gaan slaap.

    Silas whatsapp my in die oggend en sê ons het 2 opsies om daar te kom: ons kan die kar by Seeds of Hope parkeerarea los, dan kom haal hulle ons daar met 'n bootjie, maar dit kos $100 of ons kan tot by kakooko ry en die kar daar los, maar dis glo 'n lelike pad. Wel... wat is beter om 'n lelike pad mee te ry as 'n huur kar... ons kies toe díé uitdaging. Dit was 'n bietjie lelike en stowwerige pad, maar baie mooi uitsigte oor Bunyoni meer, so ons was nie spyt nie. Tom kom haal ons toe by Kakooko met 'n klein motorboot. Hy dra gelukkig ons tasse teen die styl afdraande af. Ons ry net tot oorkant 'n klein stukkie water tot by Itambira eiland, waar Paradise Eco-lodge is. Dis 'n nie-winsgewende organisasie en die familie het self die plek gebou.

    Daar is 'n restaurant op die boonste vloer, teen baie hoë trappe op, maar met 'n ongelooflike uitsig oor die meer. Oral is voëls (Bunyoni beteken die plek met baie voëls). In die boom voor die restaurant is 2 swartwoue (black kites) - hulle lyk soos arende. Daar is ook 'pied kingfishers' en suikerbekkies en nog baie ander voëls. Mens hoor net heeltyd al die voëls. Dis soos paradys. Ek en Hermien sit 'n rukkie op die dek en kyk uit oor die meer (ok, ja, ons het ons eintlik daar geplant vir 'n groot deel van die middag). Sy lees haar erge Kigali boek en ek moet 'n prent teken, maar doen dit nie.

    Later gaan stap ons om die eiland te verken, maar loop ons vas in huisies na omtrent 100m. Daar is 'n man wat 'kreef' vang en hy sal ons gaan wys as ons wil. Hy is ook 'n visserman. Ons besluit egter om eers te gaan swem. Onder op die swemdek kry ons 2 Italianers, maar hulle sê die water is te koud en die meer is diep (dis die 2de diepste meer in Afrika - Tanganyika meer is die diepste) so hulle is bang. Ek en Hermien spring toe maar in en swem na 'n swemdek oorkant die water (wel, sy het, ek het net so 2/3 daarheen geswem en terug).

    Na die swem het ons 'n historiese bootrit bespreek, so Tom en Boas kom haal ons weer met die motorbootjie. Hulle wys ons die grootste eiland (daar is 29 eilande in Bunyoni meer - ons bly op die 2de grootste een) en ook die kleinste eiland (Punishment island - waarna swanger meisies wat ongetroud is vroeër jare verban is om dood te gaan want hulle kon nie swem nie, of waar mans wat nie koeie kon betaal vir 'n vrou nie, 'n meisie kon gaan kies). Daar is ook 'n eiland waarheen melaatse mense gestuur is om hulle te isoleer. Dr Sharp het toe na die eiland gekom en 'n hospitaal en huisies gebou en hulle gedokter. Ons stop by hierdie eiland (dis die grootste eiland) en stap oor sy lengte. Aan sy bopunt is 'n ou kerkie, wat vandag deur studente gebruik word. Daar is ook skole en koshuise op die eiland (die ou hospitaal en melaatse huisies). Die eiland se naam is Sharp's island. Op 'n ander eiland is klomp rooibokke, waterbokke en 2 zebras.

    Terug by ons eiland gaan eet ons aandete (wat ons voor die tyd moes bestel, want hulle het minstens 'n uur nodig vir voorbereiding), wat uitsonderlik lekker was. Na ete gaan vang ons 'n vinnige aand swem, al is dit koud, en gaan slaap.

    PS die foto van die spikes is net om te wys hoe dit lyk. Dis wat ook oor die pad was oppad Bwindi toe.
    Read more