Satellite
Show on map
  • Day 9

    Dag 9 - Antalya na Kaş

    August 14, 2022 in Turkey ⋅ ☀️ 30 °C

    Aangesien ons nog moes Kaş toe ry, het ons besluit om eerder ons eie toertjie uit te werk as om 'n toer te bespreek by Antalya. Ons het bietjie navorsing gedoen en toe ons roete beplan. Ons het begin by die Upper Duden Waterval, wat hoër op in die stad is. Dis baie mooi daar en daar is 'n paadjie dat mens agter die waterval self ook kan ingaan. Hulle het ook twee pragtige pappegaaie waarmee mens foto's kan neem. Een blou en een rooi. Ons het daar ook sommer vir ons Turkish Pancakes bestel, wat hulle daar vars sit en maak. Dis rerig besonders lekker! Van daar af is ons na Kursunulu Waterval. Die water daar is so turquoise kleur en mens kan al die duisende visse en so deur die water sien! Ek is daar in net my plakkies, min wettend dat mens 'n hele op en af staproete moet doen om weer by die uitgang uit te kom. Ek het darm oorleef. Perge was toe ons volgende stop. Dit is 'n Romeinse stad wat hulle besig is om op te grawe en te herbou. Paulus het ook volgens Handelinge die stad twee keer besoek in sy leeftyd. Dit is nogals 'n belewenis as mens hier stap en besef dat dieselfde mense in die Bybel ook hier was. Van daar af het ons gou na Lower Duden Waterval gaan kyk, wat dieselfde rivier as die Upper Duden Waterval is, maar die Waterval val in die see in. Dis ongelooflik mooi! Dit was 'n ongelooflike warm dag en mens kan nie van Antalya af weggaan sonder om tenminste een keer in die see te swem nie. Ons is toe stand toe vir 'n vinnige swem. Die hele strand bestaan uit klippies. Dis so gerieflik, want anders as sand gee jy een skud en jy en jou handdoek is skoon! Die water was ongelooflik en ons het die swem heeltemal te veel geniet! Om op klippies te loop en uit die see uit te probeer kom, is wel meer uitdagend as sand, dit sak soveel meer en vinniger weg onder 'n mens. Van daar het ons toe weer die lang pad aangedurf na ons volgende bestemming, Kaş. Die pad is so mooi, dit volg heeltyd die kus en mens kyk amper heeltyd oor die see uit. Ons verblyf was baie cute en die ou noem dit "Hobbit Home". Dis op 'n klein klein plasie (In Suid Afrika sou ons sommer sê dis n plot, maar okay, plasie) in die middel van die dorp. Ons skoonklere is besig om uit te hardloop en ons jaag toe nou rond opsoek na 'n plek om dit te was. Ons kom toe op die een plek af, maar hulle vra ons R30 per item wat ons wil was. Na ons amper beswyk het aan 'n hartaanval is ons en ons vuilklere toe eerder opsoek na kos. Nog 'n hartaanval situasie. Die meeste eet plekke is op die hawe... So so mooi! Toe ons daar stop, sien ons daar is 'n laudromat en die ou sê ons kan moreoggend ons klere bring. Dankie tog! Ons stap toe deur opsoek na kos. In Turkye vertoon al die eetplekke hulle spyskaarte by die ingang waar mens dan kan sien wat hulle bied en hoe die pryse lyk, voor mens besluit of mens wil ingaan of nie. Hartaanval nommer twee het toe vir ons gewink. Die gemiddelde ete wat ons gesien het was tussen R300-R500 per ete. Ons, ons honger mage en vuil wasgoed klim toe weer summier in die kar. Ons kry toe nie 'n ander eetplek nie en stop toe maar by die supermark en koop 'n paar goedjies om ons eie kos te maak. Ons Hobbit Huis se toerusting is bietjie beperk en ons maak toe maar die beste wat ons kan. Magie vol, ogies toe...
    Al ons liefde en groete...♡
    Read more