- Show trip
- Add to bucket listRemove from bucket list
- Share
- May 5, 2025, 9:57pm
- 🌙 10 °C
- Altitude: 9 m
GermanyBremen53°4’53” N 8°48’47” E
Apeldoorn na Bremen

Ons staan maar vroegerig op, want ons wil geen kans waag om ons trein te verpas nie. Ons het gereël dat hulle ontbyt vir ons inpak sodat ons dit op die trein kan eet. Elkeen van ons kry 'n kardoessak met 'n wegneemhouer in, yoghurt, 2 vrugte, 'n botteltjie lemoensap en 'n verseëlde stukkie ontbytkoek. Ons vra of ons dalk koffie ook kan kry om saam te neem, want ons moet omtrent 'n uur sit en wag op die stasie. Sy gaan maak vir ons heerlike koffie mét melk, maar weer eens sou ek nog omtrent 'n kwart koppie daar kon inpas!
Ons stap rustig stasie toe en is toe regtig omtrent 'n uur voor vertrektyd op die perron. Ons besef gou koffie alleen gaan ons nie warm maak nie. Daar is 'n yswindjie wat die aanvoelbare temperatuur baie verlaag. Ons trek maar ons reënbaadjies aan om as windbreakers te dien.
Gelukkig is die trein op tyd en kan ons aan boord stap in 'n lekker warm treinwa in. Dit is sowat 3 ure tot na Osnabruck in Duitsland, waar ons moet oorklim op 'n ander trein vir die laaste stukkie na Bremen. Ons wou eintlik joernaal skryf, maar dit is lekker om uit te kyk en te sien hoe die landskap verbyvlieg. Ons eerste dorp in Duitsland is Bad Bentheim. Dit wil ook sommer lyk asof die wêreld nie meer heeltemal so plat is as wat dit in Nederland was nie. Ons raak nuuskierig oor die ingepakte ontbyt én honger en besluit om 'n ietsie te eet. (Daar was 3 gesmeerde broodrolletjies in die wegneemhouer.)
By Osnabruck moet ons omtrent 'n halfuur wag vir die trein na die noorde. Ons besef dat ons so 6 jaar gelede ook op Osnabruck se stasie gewag het vir 'n trein. Toe het ons van Berlyn af gekom en moes daar oorklim op 'n streekstrein wat ons na Halle moes neem. Dit was vir die grasbaan tennistoernooi waar ons die eerste en enigste keer vir Roger (Federer) in lewende lywe sien speel het. Hierdie keer het ons darem, anders as daai keer, al ons bagasie met ons!
Die rit van Osnabruck na Bremen is net 'n halfuur en dit vlieg verby - nes die landskap.
Bremen het 'n groot Hauptbahnhof en dis nie maklik om te weet watter kant om uit te stap sodat jy op die beste plek is om verder te gaan nie. Soos Murphy dit wil hê, stap ons eers aan die verkeerde kant uit. So dit beteken "backtrack", uit by die stasie en daai kant is daar seker 8 stelle tremspore waaroor ons moet gaan om stad se kant toe te kan stap.
Ons hotel is net oorkant die stasie, maar daar het 'n trem voor sy naam gestaan so ons kon dit nie sien nie. Dus vir ekstra oefening het ons eers om die blok gestap om dit uiteindelik op te spoor. Google Maps en kort afstande stap, werk nie maklik nie! Ons is bietjie vroeg om in te boek, maar gelukkig is daar al 'n kamer beskikbaar. Net betyds vir middagete en die res van die lekker ingepakte "ontbyt".
Ons beplan om deur die ou stad van Bremen te gaan stap. Daar is nie 'n begeleide toer beskikbaar teen 'n bekostigbare prys nie en die audioguide toere het almal een of ander invalshoek soos escape rooms of skattejag of so iets.
Ons besluit val op die SmartGuide app wat mens lei na 17 punte in die stad en dan geskryfde of audio teks het met inligting oor daardie punt. Ons internetspoed is net baie stadig in die stad en dit frustreer my baie. Ons besluit later om maar die audio te los en eerder die teks te lees.
Daar is in elk geval baie meer as 17 interessante plekke in Bremen en ek loop en verkyk my aan al die indrukwekkende en mooi en stokou geboue rondom ons. Dan is daar natuurlik ook die standbeelde wat aandag trek - die bekendste een is sekerlik die een van die Vier stadsmusikante van Bremen.
Een van die punte op die staptog is die Schnoor distrik. Dit is die oudste distrik in die stad. Die naam kom van 'n woord wat beteken "snoer" of "tou". Dit verwys eintlik daarna dat daar toue en nette gemaak is in die distrik, masr deesdae ook omdat die rye mooi huisies en geboue soos 'n halssnoer ingeryg is. Daar is party gangetjies waar mens amper met jou skouers aan weerskante kan raak, terwyl ander darem breed genoeg is vir 'n motor alhoewel motors nie toegelaat word in hierdie area nie.
Later is my voete al deurgeloop en ons gaan sit 'n rukkie op een van die bankies wat uitkyk oor die Weserrivier. Daar lees ons sommer al 6 die oorblywende punte op die toer se info voor ons hulle op die terugtog gaan opsoek.
Nadat ons al die punte op die toer afgetiek het, gaan soek ons lafenis - en goeie koffie - by Starbucks. Hulle het 'n special op 'n grande latte saam met 'n cinnamon roll. Net mooi reg vir aandete! Heerlik!
Daarna is dit een reguit pad terug hotel toe, sonder enige moeite of Google Maps. Basies 12000 treë gestap op ons eie toer. Dus net stort en in die bed, joernaal skryf en vinnig droomland toe.Read more
Traveler Jy het 'n gawe om te skilder met woorde, Annette! Dankie, ek het vandag se reis saam met julle geniet😃. Beste wense vir die nuwe dag se avonture in Duitsland
Traveler
Pragtig en baie spesiaal 😃😃
Traveler
😄