- Show trip
- Add to bucket listRemove from bucket list
- Share
- Apr 22, 2025, 1:26 AM
- ☁️ 12 °C
- Altitude: 678 m
SpainMadrid40°25’3” N 3°40’7” W
Barcelona na Madrid

Ons trein na Madrid vertrek om 10:00 en mens moet 'n halfuur voor die tyd daar wees. Ons is nie heeltemal seker hoe lank dit ons sal neem om by die stasie te kom nie en ons wil nie gejaagd wees nie. So natuurlik begin ons hoog betyds. 08:20 sit ons rustig in die stasie en wag om te sien by watter hek ons moet deurgaan en van watter platform die trein gaan vertrek! 😁
Dit gee ons darem kans om boodskappe te stuur en op te vang met SA nuus.
Die "boarding" van die sneltrein is basies net soos dié van 'n vliegtuig. Ons gaan deur 'n sekuriteitspunt, staan in 'n ry en wag dat iemand jou boarding pass kontroleer.
Ons is in wa 11 saam met net paar ander mense - sitplekke 8A en 8B. (Later klim daar by ander stasie nog baie mense in.) Daar is baie spasie in die rak bo ons koppe, baie meer as in 'n vliegtuig s'n - ons rugsakke gly maklik in. Die sitplekke is lekker breed en gemaklik. Daar is selfs 'n kragpunt om jou foon te laai indien nodig. Die topspoed van die trein is 300 km/h, maar die spoed word heeltyd aangepas nav die omstandighede. Nog steeds is die reistyd minstens helfte in vergelyking met 'n motor/bus. Ek hou van treinry!
Teen 300 km/h flits die omgewing vinnig verby, maar ons sien baie boerderye. Ons het beslis in wingerdarea begin, maar later meer graan en vrugtebome. Ek kan net van een plek onthou waar ons skape gesien het, verder niks veeboerderye naby die spoor nie.
Terwyl ons ry, kry ek 'n e-pos om te sê agv tegniese kwessie is die trein met 20 min vertraag. (Ons het bietjie laat vertrek.)
Aangekom in Madrid wil ons 'n bus neem na ons hostel. Google Maps verduidelik watter bus/busse die ding sal doen. Maar om die regte busstop op te spoor en seker te maak ons neem die regte bus in die regte rigting was meer as waaartoe ek en Truda in staat was. Ons besluit om eerder te stap. Volgens Maps is dit net 15 min en ons het teen daardie stadium seker al 15 min spandeer aan soek na die bus!
Dit is presies hoekom ons metro verkies bo busse! By metro's is daar geen onsekerheid watter lyn of watter rigting om te gaan nie. Jy het 'n kaart (map) en kan presies sien watter lyn waarheen gaan en waar jy sal moet oorklim en die aanwysings in die stasies is (meestal) baie duidelik.
Die meisie wat ons inboek in die hostel is baie goed. Sy verduidelik alles wat ons moet weet én oor sou wonder baie mooi volledig. Ons het 'n kamer met bunkbeddens en deel 'n badkamer met nog 'n kamer of 2.
Ons skep bietjie asem voor ons besluit om 'n bustoer deur die stad te neem. Ons koop die kaartjies sommer online, maar ek lees nie sorgvuldig nie en die search engine optimiser funksies van Madrid Bustour is beter as die Hop On Hop Off bustoer s'n!
Met die afstap na die (enigste) beginpunt vd die bustoer, koop ons vir ons koffie by 'n koffie-kiosk. Ons moet queue, want die jong man se produk is baie gewild!
Daar is 2 opsies vir die bustoer - "modern or historic" Madrid. Ons beplan om die twee toere oor 2 dae te doen, want die kaartjie is geldig vir 24 uur. Halfpad deur sê ek vir Truda klink my ons is op die modern Madrid toer, want die kommentaar oor die geboue en parke en ou stadspoorte is maar min en kort. Agterna hoor ons dit was die "historic" tour! Gelukkig is daar ook 'n "walking tour" ingesluit in die kaartjie. Ons hoop om uiteindelik darem waarde vir geld uit hulle te melk.
Op pad terug koop ons by 'n supermark aandete, yoghurt, melk en báie lekker druiwe uit Suid Afrika. By die hostel is 'n gemeenskaplike kombuis en yskas vir gaste se gebruik.
'n Dag vol emosionele oppe en affe en jaag en wag en wonder oor goed en satisfaksie kom tot 'n einde. 'n Tipiese dag van reis in 'n land wat jy nie ken nie en afhanklik is van ander vir vervoer!Read more
Traveler Pragtige foto's, Annette. Sjoe, ek is skoon moeg vir julle part as ek lees wat julle alles vandag vermag het 😃. Julle blyplek lyk baie mooi netjies, met alles wat nodig is. Daardie laaste aanhaling is klassiek! Lekker slaap
Traveler Ons slaap beslis lekker na die baie stap elke dag!
Traveler 😃