Satellite
Show on map
  • Day 2

    Caesarea en mount Karmel

    October 3, 2022 in Israel ⋅ ☀️ 34 °C

    Ek het amper verslaap (ok, ek het. Ek het 06:23 wakker geword en moes 06:30 daar wees.) Daar was darem iemand wat meer verslaap het en later as ek was.
    Ons ry toe na Caeserea met 'n toerbus en gids. Die gids vertel vir ons langs die pad al die interessante goed van die omgewing, insluitende dat 'n woonstelletjie in Tel Aviv so $ 1 000 000 kos. Dis basies R 18 miljoen. Die goeie ding van Tel Aviv is dat almal saamwerk om die stad skoon te hou, selfs die voëls vlieg glo onderstebo. Hy vertel ons toe ook dat daar 'n bankroof was in Tel Aviv en die mense met gewere aangehou is. Toe hulle klaar is vra hy vir 'n man of hy gesien het dat die roof plaasgevind het. Die man sê ja en die rower skiet hom. Hy vra toe nog iemand en hy sê ook ja en word geskiet. Hy vra toe 'n derde ou. Die ou sê: "nee, maar my vrou het." Daarsy... daar is die toergrappie vir die dag.
    In elk geval... in Caeserea (waar Paulus en Pontius Pilates gebly het, en ook Herodus die Grote) het ons na die paleis van Herodus gaan kyk, wat 'n wonderwerk vir die tyd was. Dit was die eerste hawe wat gebou is waar daar nie 'n natuurlike baai is nie. Herodus se vrou, en later sy seuns, het beplan om hom dood te maak, maar hy het elke keer uitgevind en hulle laat doodmaak. Shame.
    Caeserea is die duurste area in Israel naas Tel Aviv, en het die enigste gholfbaan in Israel.
    Die arena in Caeserea is net gebruik vir drama omdat dit net in 'n halfmaan gebou is. Die onderste uitgange is gebruik vir die ryk mens, en die boonste uitgange is vir die armer mense gewees. Hulle het dit vomitorium genoem, want as die vertoning verby is 'vomit' die arena die mense uit.
    Dis als gebou met plaaslike sandsteen, maar sandsteen is nou beskermd in Israel, so mens kan dit nie net kap en gebruik nie.
    'n Doodskis is sekofekus genoem, wat beteken 'body eater'. Die jode het nie dadelik die lyke begrawe nie, maar 'gestoor' tot daar net bene oor is en dit dan begrawe. Hulle begrafplase is baie groot.
    Daar is baie piesangbome by Caeserea, en klomp mango en olyfbome op ander plekke. Landbou is baie belangrik in Israel en hulle het ook die drupstelsel ontwerp. Oppad na berg Karmel is 'n woud wat mensgemaak is. Daar is 'n organisasie wat geld skenk vir bome in Israel. Daar is reeds meer as 200 miljoen bome met die hand geplant.
    Karmel berg se naam is opgemaak uit 2 woorde - 'ka' en 'el' wat onderskeidelik beteken vineyard en God. Dit is waar die 450 baal profete doodgemaak is. Dit kyk basies uit oor die area waar die hele ou testament afspeel. Dit kyk onder andere uit oor Armageddon, wat baie gereeld in oorlog was. Daar is al 24 lae van stede opgegrawe.
    Daar bly 'n klomp mense wat aan die Druze geloof behoort, wat 'n geheime geloof is. Niemand kan hulle 'Bybel' kry of weet wat daarin staan tensy jy aan die geloof behoort nie. Hulle het ook kos wat eie is aan hulle.
    As mens uitkyk van berg Karmel af, is daar 'n landingstrook wat deur die weermag gebruik word vir vegvliegtuie. Die vliegtuie kan binne 3 minute in Sirië of Lebanon wees vandat hulle opstyg. Mens sien en hoor hulle heeltyd as jy op die berg is.
    Ons het deur Haifi gery oppad na Tiberias en gestop by die tuine van Baha'i. Dis 'n nuwe geloof wat gebasseer is op liefde, skoonheid en goeie dade. Die tuine is besonders.
    Ons het toe omtrent 'n uur gery na Tiberias, waar almal in Tiberias hostel bly. Daar was per ongeluk 'n kamer te min bespreek so toe sou Eleanor by 'n ander hotel gaan bly en sy wou nie oortuig word dat iemand anders daar gaan bly nie. Ek en Amorie en Ian het toe klein bietjie gejok. Ek het my goed uit my kamer gaan haal en hulle het vir Eleanor gesê daar was 'n fout, daar is 'n kamer vir haar. Ek het toe by die ander hotel gaan bly, met 'n sea view, want ek het 'n simkaart en ek het darem al so een of twee keer getravel. Sy kom van 'n klein dorpie af en hulle het haar reeds die eerste dag een keer op die bus verloor, haha. Dis ook sy wat verslaap het vanoggend, hahaha.
    More is Yom Kippur. Dis glo die superbowl van sabbatdae, volgens Chris, so alles is toe en mens moet al jou kos vir die volgende twee dae basies uitsorteer. Ek het op 'n scootertjie mall toe gery, maar daar is nie rerig kosplekke, behalwe take aways nie. En al die roltrappe gaan op, so ek is toe stuck op die boonste vloer, tot ek uiteindelik die hyser gekry het en afgegaan het. Ek en my scootertjie mission toe maar terug en langs die see af (die see van Galilea) en loop rond deur die markies en gaan eet vis en chips by 'n restaurantjie. Dis nie baie lekker vis nie, maar dis vars en kom uit die see van Galilea (wel, in my brein doen dit, maar mees waarskynlik doen dit regtig), so mens moet dit eet.
    Ek is toe hotel toe en het basies dadelik aan die slaap geraak (na my 3de stort vir die dag). Dis baie warm en bedompig, maar dankie tog vir aircon.
    Read more