Satellite
Show on map
  • Day 4

    Pad na Lake Kivu

    August 10, 2023 in Rwanda ⋅ ☁️ 25 °C

    Ons het weer verslaap vir die sonsopkoms, maar daar is baie berge en daar is altyd 'n bietjie mistigheid, so ons oortuig onsself dit sou nie 'n verskil maak nie. Ons gaan eet toe vir oulaas ontbyt by Nyungwe Nziza ecolodge en ry toe oppad na Lake Kivu. Die pad gaan deur die Nyungwe woud en ons sien 62 militêre mannetjies op die pad. Dit voel of daar gister meer was, maar dis nog steeds baie.

    Ons ry deur baie mooi landskappe... woud, teevelde, dorpies, ens. Hermien sê skielik 'daar lê hy, daar lê die lake', ek hoor 'lyk', want ons het nou net oor mediese goed gepraat, en soek oral 'n lyk en sy kan nie verstaan dat ek dit nie sien nie...
    Toe ons by Lake Kivu kom in die suide gaan drink ons 'koffie' by Maravilla Kivu Eco resort. Dis so rustig, met kamers, tente, roeibootjies, hangmatte en 'n restaurantjie. Agnes bedien ons en sy is baie vriendelik. Ons gaan stap toe rond tot teen die meer en ry toe weer verder. Oppad terug sien ons 6 manne dra iemand wat vol bloed is op 'n draagbaar - 4 dra hom en 2 stap langs die kant en ruil wanneer een van hulle moeg word. Hulle is gelukkig amper by die mediese sentrum.

    Ons ry toe tot by Cleo Lake Kivu Hotel, wat ongelooflik is. Daar is selfs 'n helipad en spa. Ons eet lekker hoender burgers en pak weer die pad verder aan. Ons het nog 2 ure se ry oorgehad. En 2 ure van Hermien wat sê dat alle klein tipe bokkies is boerbokke, ten spyte van Google en Viva wat sê dis verkeerd en ek wat vir haar foto's wys van hoe 'n boerbok rerig lyk. Sy sê 'ek weet ek is nie reg nie, maar ek gaan hulle boerbokkies noem'. En in dieselfde asem sê sy ék is hardkoppig omdat ek nie wil saamstem nie. Boerbokkies. Van alle goed.

    In elk geval... ons hardloop amper uit Diesel uit (nie rerig nie, daar was net 37km oor voor ons verblyf en die liggie het nog nie eers aangegaan nie), maar ons gooi weer Diesel in langs die pad. Die spoedgrens is steeds 60. Ek kan nie wag om weer my eie kar te ry teen onwettige spoed nie. Oe, en die polisie het ons afgetrek en al ons dokumente gekyk (verbaas dat ons van Suid-Afrika is), maar hulle was baie vriendelik en toe hulle sien als is reg was ons weer oppad.

    Ons kom toe net na 17:00 by Gisenyi aan en laai ons goed af by Maddys Kitchen, waar ons vanaand en môreaand slaap. Ons gaan stap toe in die pad af en kry 'n oulike plek, Saga Bay, waar ons 'n cocktail drink en ietsie eet. Daar is ook 'n hydropower station op die pad wat baie bruin water in die mooi skoon meer pomp. Ons stap terug in die donker, heeltemal veilig, en gaan nou slaap.
    Read more