Satellite
Show on map
  • Day 3

    Nyungwe reënwoud

    August 9, 2023 in Rwanda ⋅ ☁️ 20 °C

    Ons het opgestaan met die mooiste uitsig. Ontbyt is ingesluit by ons verblyf, so na ontbyt het ons klaargemaak en Uwinka visitor centre toe gery (vir 45min aan 34km). Die lorries ry vinnig en gaan oor in die ander baan om die draaie. Ons het ook bobbejane gesien langs die pad, maar hulle lyk maar soos in SA.

    Hermien wil hê ek moet sê sy is gesond. Sy is nie. Sy is wel beter, en in haar element na vandag se stappery.

    By Uwinka betaal mens vir toegang en dan vir die Canopy toer en vir 'n gids. Ons kry darem afslag omdat ons van Afrika is, maar dis nog steeds maar duur. Mens mag nie loop sonder 'n gids nie. Daar is ORAL militêre mannetjies wat die woud beskerm. Hulle werk 12 uur skofte en bly ook in die woud. Die geld gaan gelukkig vir hulle werkskepping en bewaring van die woud, so dis nie so erg nie.

    Ons kry toe 'n gids (nie ek of Hermien kan haar naam onthou nie, maar sy is 26, baie oulik en het in die woud grootgeword). Sy doen tot 5 keer 'n dag die roetes, en as haar gaste wil draf, draf sy saam. Sy doen ook maratonne.

    Ons besluit (hmmmmm, ek wonder altyd van voor af hoekom ek vriende is met super fikse mense) toe om die canopy toer en daarna nog 'n 3 en 'n half ure hike te doen. Die Umuyove (dis die kinyarwanda woord vir Mahogany) roete is omtrent 5,5km lank en gaan verby 'n waterval en baie mahogany bome, wat massief en baie oud is (die militêre mannetjies beskerm hulle veral, want dis baie duur hout). Ons drink lekker water by die waterval en sien silwerapies en bergapies. Hermien maak seker dat ons elke 50 min klokslag snackies en water kry, want sy ken van endurance (ek nie). Die stap is wel baie af en baie op. En die laaste km tap ek uit en ry op 'n 'moto' - dis die motorfietsies.
    Voor die Umuyove stap ons eers na die canopy en loop oor die canopy walkway. Dit is in 2010 gebou en is ongeveer 70 m bo die grond so mens loop bo die bome en het die ongelooflikste uitsig. Dit bestaan uit 3 hangbrûe wat in totaal omtrent 200m lank is. Al die brûe word 2 keer 'n dag volledig nagegaan om te kyk dat als reg en veilig is.
    Nyungwe woud is ongeveer 970 vierkante km groot (een van die grootste en oudste beskermde reënwoude in Afrika) met 'n reënval van omtrent 2000mm 'n jaar.

    Hermien word Miena Mahogany gedoop deur ons gids, want sy dink sy is so lank soos 'n mahogany boom.

    Na ons stappie deel ons 'n hoender quesadilla by die koffiewinkeltjie in Uwinka en gaan dan huis toe. Dis gelukkig Mien se bestuur dag so ek vang 'n lekker nap tot sy skielik rem vir 'n lorrie wat letterlik in ons baan is, en later weer vir 'n trop bobbejane in die pad.

    By Nyungwe Nziza Ecolodge, waar ons slaap in die tent, en daar net koue water in die stort by die ablusieblokke is, gee hulle vir ons 'n sleutel van een van die kamers en sê ons kan daar warm gaan stort. Lafenis! Daarna gaan eet ons en kom slaap. Willem stick ons vir aandete vir vrouedag (cuuuuuute - dankie Willem).

    Hermien se stats (van haar Garmin af):
    ons het 15000 treë geloop,
    afstand was 8,25km,
    elevation 550m.
    Read more