Uydu
Haritada göster
  • Gün 2

    Łodz en die pad na Gdansk

    5 Mayıs, Polonya ⋅ ☁️ 25 °C

    Ons het (nie so) vroeg opgestaan (nie). Anri gaan kry toe vir ons tertjies vir ontbyt by Hala forum terwyl ek klaarmaak en pak. Daar is twee lewendige skilpaaie in 'n tenk in die eetkamer van die boothuis. Interessant.
    Om die parkeerkaartjie betaal te kry is 'n groot tog. Hulle neem net kontant en alhoewel Hermien al hoeveel keer gesê het 'cash is king' het ek nog nie kontant getrek nie. Tussen die meisie by ontvangs en google maps, die verkeerde hotel en 45 minute se stap het ons uiteindelik kontant in die hand en is oppad.
    Pole is verskriklik mooi en groen en dis 'n heerlike sonskyndag. Ons eerste stop is 'n vulstasie, waar ons panini's en drinkgoed koop, voor ons verder ry na Łodz (uitgespreek Whoodz). Dis halfpad tussen Krakow (uitgespreek Krakoov) en Gdansk (gedaynsk). Ons parkeer en soek 'n parkeermeter maar dit werk nie en ons vertaling van die boodskap help nie regtig nie, so ons vat toe maar die kans en los die kar daar. Daar is 'n massiewe muurkuns geverf by die parkeerplek.
    Łodz is glo die 'lelike' stad in Pole en die pole hou nie van Łodz nie, maar ons dink dis baie mooi. Ons was wel net 'n paar ure daar en het in die bekende, toeriste straat tyd spandeer. Piotrkowska Straat is 4.2km lank en die langste straat in Pole, asook een van die langste handelstrate in Europa. Dis pragtig en ons ry op scootertjies van begin tot einde. Dit eindig by 'n standbeeld en kerkie met 'n plein. Net voor dit is 'n stegie wat vol spieëls geplak is in mosaïek van rose. Dit word roos plaza genoem en is gemaak deur die kunstenaar vir haar dogter Rosa wat herstel het van retinablastoom en is verteenwoordigend van die oog en sig.
    Ons stap af in die straat en kom af op die oulikste souvenir winkel, Folkstar, met die mooiste geskenkies in tradisionele folk patrone en kleure. My hele budget (en Anri s'n dink ek) is nou in daai winkel.
    Dit begin toe hard reën en ons vat scootertjies en ry terug na ons kar toe. Teen daai tyd het dit gelukkig opgehou reën en ons besluit ons kort roomys. Ons wil al draai roomys eet vandat ons hier aangekom het. En dit kom in reënboog horinkies.
    Van Łodz af ry ons Gdansk toe, maar dit reën redelik. Ver aan die linkerkant is daar 'n mooi sonsondergang en oral langs die pad is mooi geel Canola velde. Ons kom die aand in Gdansk aan en bly in 'n oulike hout huisie langs 'n sportveld. Net om die draai is 'n KFC wat ons vir aandete kry, maar die California wings is 'n definitiewe hoogtepunt. Ons gaan toe huis toe en gaan pak ons inkopies uit en gaan slaap.
    O, natuurlik moes ons petrol ingooi. Hoe dit hier werk... mens gooi dit in, gaan in die winkel en sê by watter pomp, en betaal... baie eerlik.
    Okumaya devam et