Satellite
Show on map
  • Day 15

    Dag 15- Istanbul en Princess Island

    August 20, 2022 in Turkey ⋅ ☀️ 29 °C

    Ons was vroeg uit die vere, aangesien ons 8 uur by die Toergids plek moes wees. Half 8 sit ons toe nou gereed in hulle venstertjie en wag... En wag... En wag... Teen kwart voor 9 kom daar 'n vroutjie en sluit die plek oop. Hulle het nie kommunikasie met mekaar gehad nie, sy het nie geweet ons moes gaan toer nie en het toe nou 'n paar oproepe gemaak en 'n rukkie later hop ons op ons bus. Albei van ons nog lekker moeg, slaap ons terwyl al die ander mense opgelaai word en Damian hoor iemand Afrikaans praat. Hy dink dis seker sy drome en slaap verder... By die boot aangekom, gaan sit ons toe nou en wag weer om te vertrek, die Turke is nogal tydsaam. Ons beoog 'n oom en tannie en besluit ons dink hulle is Afrikaans en van Suid-Afrika af. Toe ons uiteindelik begin beweeg, vertel die vroutjie oor die mikrofoon vir ons klomp interessanthede soos ons verby die geboue ry en daar kom mense met 'n pappegaai verby om mee foto's te neem. Ons het twee eilande besoek. Toe ons by die eerste een kom, is ons toergids sommer weg. Hier dog ons ons kry 'n begeleide toer van die eiland, maar toe nou nie. Ons gesels toe nou met die oom en tannie wat ons besluit het van Suid-Afrika af kom, wat toe nou van Kaapstad is. Ons loop toe en gesels 'n rukkie met hulle, ons toergids kom verby en sê hoe laat ons weer op die boot moet wees en daar gaan hy weer. Ons gaan toe eers ons eie pad, koop die lekkerste broodjie wat ons deel en loop bietjie rond. Damian het toe 'n bietjie gaan swem daar tussen die rotse en ek wag toe maar daar op die droeë rotse, nie lus vir al die admin wat saam swem gaan nie. Daarna gaan sit ons by 'n restaurantjie wat ons belowe hulle het die lekkerste kos en wat wat. Eintlik het ons hulle net gekies vir 'n badkamer, sodat Damian uit sy swemklere kon klim. Ons besluit toe ons gaan 'n kalamarie deel, want ons kry nou nou middagete op die boot. Bestel die R120 kalamarie en is toe nou heeltemal verbaas toe daar letterlik 6 ringe opdaag, niks chips of enige iets anders nie. Dit was definitief ook nie baie lekker nie, so ons eet toe maar lang tand en gaan terug boot toe. Toe ons in die eetsaal sitplek soek, nooi die Suid-Afrikaners ons om by hulle te sit. Ons gesels toe nou so lekker deur middagete, dat ons op die volgende eiland gaan sit en ietsie saam drink en toe die hele pad terug ook saam sit en gesels. Voel amper of hulle nou al jare lange vriende is! Groot inspirasie vir ons, want mens kan die liefde tussen hulle sien, volgende jaar al 30 jaar getroud en ook 'n paartjie wat in skool begin uitgaan het! Na die trippie klaar was, kry ons vir ons Binbin's naby die hawe en jaag huistoe. Ek sukkel maar bietjie met die dingetjie en al die mense en verkeer en Damian het die tyd van sy lewe! By die huis is ons toe nou so uitgeput en warm na die dag, dat ons 19:00 aan die slaap raak. Ons word toe so 22:00 weer wakker, want blykbaar is dit 'n ding om 22:00 op 'n Saterdagaand die trappe van die gebou se teëls af te kap en oor te teël. Gelukkig slaap die plek mos nooit nie en ons trek aan en loop na 'n restaurant vir aandete. Dit was 'n Rooftop restaurant, met die mooiste uitsig, waar ons toe nou so lekker kuier dat ons eers 01:30 weer huistoe is en toe weer dadelik in die kooi is!
    Al ons groete en liefde♡
    Read more