• Dag 9 - Bittersoet

    October 8 in Bosnia and Herzegovina ☁️ 23 °C

    Dis die laaste behoorlike dag in Bosnia. More begin die terugtog huistoe.

    Ons Tito's Bunker kaartjies was in SA al bespreek en ons tel hulle op in misreen.

    Gaan lees sommer self die geskiedenis van ARK D-0 (Atomska Ratna Komanda). Soos die res van die stories hier klink dit amper onwerklik. Vir my is dit die lewendige uitbeelding van die gesegde "Hoping for the best, but expecting the worst". Ek is bly ons kon deur dit stap en ek is bly die bunker het nooit tot sy reg gekom nie.

    Brunch is varsgebakte 'slang pie' en koffie langs die pad. Ek soek nog weer n vark op n spit.

    Langs die pad trek ons af vir n oomblik se rus. Dis platteland en boerdery. Oral is klein stalletjies vol kool. Ek wonder wie koop dit alles, of moet hulle alles self opeet.

    Onder in die veld is n vrou besig om kool met n kruiwa te oes. Die klein dogtertjie saam met haar begin nader kom. Eers op drafstap, dan meer huiwerig. Dit lyk of sy wil omdraai. Tog kom sy nader. Vier blink motorfietse weeg meer as haar vrees. Sy is mooi, bietjie deurmekaar en vuil. Ons maak haar hande vol lekkers en haar oë glimlag. Met haar Hello Kitty skoene en Frozen broek kon sy netsowel in afrikaans gedroom het, maar sy lewe n ander storie, in n ander taal , op n ander plek. Heel waarskynlik n moeiliker een as waaraan ons gewoond is, maar ek is seker haar drome is dieselfde as my eie vlaktemeisie sn.

    Sy waai drie keer entosiesties terug soos ons wegry. Ek hoop dit was vir haar n goeie dag.

    Die Bertus winkel vereis n vinnige omdraai en foto. Die winkel eienaar vind dit erg amusant toe hy hoor hoekom ons dit afneem. Hy sê Bertus beteken 'Noble One' of so iets 🤣

    Ons boek in by Central Jajce Apartments. Ons gasvrou is verbaas. South Africa? Were you born there?? Are you serious?? Sy het iets anders verwag en skud sommer my hand drie keer van blydskap.

    Ek stap vanaand met my eie gedagtes deur Jajce, Bosnia se laaste koninklike hoofstad.

    Iewers hier het die Ottomanne in 1463 vir koning
    Stjepan Tomašević permanent van sy eie kop verlos.

    In 1943 tydens die tweede wêreldoorlog, hier iewers, het Tito en sy manne fondamente van die nuwe federale Joego-Slawië gelê.

    Die fort staan verlig in die agtergrond. Hy het dit alles gesien. En vanaand sien hy my op die bankie in die straatlig.

    Dis my laaste aand in Bosnia Herzegovina. Heel waarskynlik die laaste van my lewe. Ek probeer diep kyk en alles onthou. Ook die gevoel. Die strate is stil, die seisoen amper verby en die winter is aan die kom.

    By Restoran Kristal sit vier Bosnia ooms en kuier met koffie en rakija. Almal lyk amper dieselfde, almal in swart geklee. Ek wonder of hulle ooit selfone besit. Dalk is dit beter as ek hulle nie kan verstaan waaroor hulle praat nie.

    Op die bankie waar ek nou sit het n ou tannie met haar inkopies en tradisionele drag vyf minute gelede sit en wag. Sy lyk ouer as my ma, sy lyk alleen.

    In die vensters sit paar toeriste en kuier. Wanneer ek om die blok stap sien ek n middeljarige vrou agter in die kombuis, besig om hulle kos voor te berei. Sy moet al moeg wees.

    In die cobblestone straat onder n straatlig neem twee tiener meisies instagram fotos. Hulle lag. Tyd is vriendelik as jy 17 is.

    In n agterstraatjie lê n wolfhond en slaap. Ek los hom alleen en draai liewers om. Miskien verstaan hy nie voetsek nie.

    Twee jong manne is voor die moskee diep in hulle geloofs tradisies. In hulle toewyding is baie om te leer.

    Ek soek nog paar persentjies maar sukkel om die regte goed te kry. Die winkel waar ek instap kon netsowel Wonderstore in Nylstroom gewees het. Die chinese groet vriendelik en ek stap liewer uit.

    Iewers in die dorp eet drie Suid Afrikaners hulle laaste aandete in Jajce. Ek hoop hulle drink meer as een bier. Ek hoop ook hulle staan ook n oomblik stil oppad huis toe.

    Ek wil alles onthou, elke detail, maar ek weet ek gaan nie en is daar n goeie rede daarvoor.
    Read more