Satellite
Show on map
  • Day 5

    Roadtrip na Banff

    August 27, 2018 in Canada ⋅ ☁️ 17 °C

    Ons het douvoordag opgestaan en ferry toe gegaan om 'n kar te gaan haal by die lughawe in Vancouver. Op die ferry het ons weer Pacific buffet breakfast geëet. Ouma is erg beïndruk met die ferry en ete storie. Volgens haar is dit die ideale manier om gaste te bederf as hulle kom kuier ('n trip op die ferry met 'n buffet), dis volgens haar volmaak. Sy beveel ook aan dat alle dokters oorlaaide pasiënte soontoe stuur vir ontspanning. Verder het sy besluit, sou ek haar per ongeluk daar los, gaan sy 'n werkie kry op die boot en heen en weer ry. Sy is gelukkig tans nog werkloos en van die boot af. Van die lughawe af het ons gery (aan die regterkant van die pad nogal - vir almal wat bang is, dis glad nie so erg nie, mense maak 'n baie groter ophef daarvan as wat dit verdien) tot in Revelstoke, waar ons so 23:30 aangekom het. Ons bly by Mulvehill en dit lyk baie mooi, maar ons sal more verken. Dis teen 'n meer en mens hoor die water. Oppad het ons by Bridal falls gestop en in die begin van die bos gestap, maar nie tot by die watervalle nie, want ons tyd was baie beperk. Ons het toe, oppad na Kamloops, by Fountainview academy aangegaan. Ouma is mal oor hulle musiek, so toe koop sy 'n cd en DVD en ons kry 'n toer van die plek. By Kamloops het ons kos gekry en ek het self (vir die eerste keer) petrol (of soos hulle sê, gas) in die kar gegooi. Ouma het gedink dis baie snaaks, want volgens haar was my gesig baie gespanne. Oe, mens kry ook drive thru banke/atm's hier. Ons het toe uiteindelik veilig in Revelstoke aangekom na baie ure, en is nou pootuit.Read more