Satellite
Show on map
  • Day 3

    See van Galilea, Kapernaum, ens.

    October 4, 2022 in Israel ⋅ ☀️ 33 °C

    Ons het die oggend bymekaar gekom en bus toe gegaan, wat ons na die plek gevat het waar ons die bootjies moes kry om op die see van Galilea uit te vaar. Die bootjies is gebou in replika van hoe dit in Jesus se tyd gelyk het. Galilea is eintlik 'n meer en die see was seepglad, maar die berge rondom die see vorm 'n natuurlike tregter en dit veroorsaak die golwe in 'n storm. Dis 'n ongelooflike ervaring om so op die see van Galilea uit te vaar, letterlik waar Jesus die storm stilgemaak het.
    Daar is ook 'n boot wat omtrent 2000 jaar gelede gesink het, wat ontdek is, maar dit was nog nie oop om daarna te kyk toe ons daar was nie.
    Die see van Galilea se watervlak daal (en ook die Dooie see s'n) omdat mense letterlik met tyd die water opdrink.
    Die bootjie het geseil tot by Kapernaum nasionale park (dis nie dieselfde plek as waar Jesus gebly het nie). Ons het toe na die Berg van Saligsprekinge gegaan, waar doktor Theuns vir ons dit gelees het uit die Bybel en bietjie verduidelik het. Die deel waar mense gesit het teen die berg, wat 'n natuurlike amfiteater maak, het gebrand en daar is nou klomp piesangs geplant, want die Jode het geen erg aan Christen goed nie. Chris sê hulle het 'n vorige keer afgeloop en getoets, mens kan als hoor as iemand van onder af staan en praat.
    Van hier af gaan ons na Kapernaum, waar Jesus gebly het. Daar is 'n kerk gebou, met glasvloere, bo die oorblyfsels/uitgrawings van Petrus se skoonma se huis, waar hulle die verlamde man deur die dak laat sak het. Chris sê mens wonder hoe het Petrus se ma gevoel oor al die mense in haar klein huisie en die volgende oomblik breek hulle die dak oop en dis net stof en modder oral, want die dakke is van riete en modder gemaak daai tyd. Iemand in die bus vra, toe ons nog oppad is, hoe weet ons waar is Petrus se skoonma se huis. Iemand anders sê toe: "kyk net vir die stukkende dak."
    Toe ons daar aankom het ons eers almal gaan sit en uitkyk oor die see van Galilea (in die koelte - die plek is BAIE warm) terwyl Chris vir ons verduidelik. Hy lees toe 'n stukkie oor die apostels en verduidelik hulle karakters. Levi was 'n tollenaar en almal het tollenaars gehaat, want hulle het vir die romeine gewerk, maar ook vir hulleself ekstra geld ingesamel, so die volk het gevoel hulle buit hulle eie volk uit. Die romeine het hulle gehaat want hulle was jode, so al wie hulle vriende was was ander tollenaars. Petrus was 'n visserman, maar hy het 'n redelike wisselvallige, passievolle geaardheid gehad. Johannes en Jakobus was baie humeurig. Ens. So Jesus het 12 'misfits' gevat om sy apostels te maak. Hulle sê, van die geaardhede, Paulus was 'n dopper en Petrus beslis 'n charismaat.
    Omdat Yom Kippur vanaand begin tot môreaand gaan die paaie more gesluit wees en mense gooi letterlik die karre met klippe, want niks wat vuur maak mag gebruik word op Yom Kippur nie. Ons kan dus nie more Nazareth toe gaan nie, so ons planne verander toe en ons gaan dadelik Nazareth toe. Ons ry toe net verby tabga, waar Jesus die broodjies en vissies vermeerder het.
    In Nazareth is ons na die kerk van aankondiging, waar hulle vermoed die area is waar die engel aan Maria verskyn het om vir haar te sê sy is swanger. Dis 'n baie mooi kerk. Nazareth is op 'n ashoop gebou, en dis ook hoekom Nathanael in die Bybel vra: "kan enigiets goed van Nazareth kom?"
    Ons mis obviously die trippie na Nazareth village, waar hulle vir mens wys hoe hulle in daai tyd gelewe het. Nazareth bly redelik oop tydens Yom Kippur want dis hoofsaaklik moslems en christene wat daar bly, maar ons gaan nie daar kan uitkom nie.
    Oppad terug stop ons in Kana, waar Jesus die water in wyn verander het. Ons stap toe na die kerk toe waar hulle vermoed dit gebeur het (Chris sê hulle kan nie rerig enige van hierdie plekke presies pinpoint nie, maar dis min of meer waar hulle vermoed dit gebeur het).
    Van daar af het ons teruggegaan Tiberias toe en almal het 'n bietjie gaan rus en mekaar vroegaand by die 'strand' (dis net klippe) gekry om aandete saam te eet en te swem. Die water is so lekker warm en helder. Meeste mense is al weg, toe daar 'n Afrikaanse gesin aankom met hulle kinders. Ons begin gesels en kom toe agter dis Chris se niggie. Ons vat hulle toe saam terug herberg toe en kuier op die dak tot laataand.
    Yom Kippur maak alles doodstil. Als is toe. Letterlik alles. Niks voertuie mag ry nie, die ATMs werk nie, die scootertjies werk nie, selfs die TV sê dis Yom Kippur.
    Read more