Satellite
Show on map
  • Day 4

    Yom kippur en die ambulans

    October 5, 2022 in Israel ⋅ ☀️ 33 °C

    Ons het lekker laat geslaap en so 09:30 begin stap in Tiberias. Vandag was 'n rustige dag, want ALS is nog toe agv Yom kippur. Dis dooooodstil en als is verlate.
    Ons het eers gestap na Crusader Fortress, wat oorblyfsels van 'n kasteel is. Die soldate (krygsmanne - crusaders) was almal oppad na 'n ander geveg toe die prinses laat weet hulle moet terugkom want hulle is omring deur Saladin (of so iets... my geskiedenis is baie feitelik hier). Haar man sê toe hulle moet aangaan en nie terugdraai nie, maar die hoof van die leër besluit toe dat hulle moet terugdraai en die 'fortress' gaan beskerm. Hulle het nie genoeg water gehad nie en het gedehidreer en is toe almal doodgemaak in die geveg.
    Van daar het ons gestap na die Scots Hotel. Dit is aanvanklik begin as 'n hospitaal en later 'n kraam hospitaal en nou is dit 'n hotel. Daar is baie geskiedenis aan, maar ek kan nie als onthou nie, behalwe dat die hospitaal almal wou help, ongeag geloof of ras of enigiets.
    Ons is toe af na die Suidelike muur van die stad, wat deur storms verwoes is, maar daar is nog stukke wat staande is. Als Suid van die muur is nuwer ontwikkeling. Ons het toe teruggegaan en 'n middagslapie gaan vang (meer soos 'n middagslaap want ek het tot omtrent 16:00 geslaap, maar dis mos vakansie).
    Die res het toe in die see gaan swem, maar ek het eers 19:00 na hulle toe gegaan. Dit was die een oomblik nog doodstil en die volgende oomblik was daar karre en mense oral. Ons het afgestap promenade toe en wou langs die pad kos koop, want ons het gedink die winkels sal dan al oop wees. Die winkels maak toe eers omtrent 'n uur later oop, maar 'n ou wat sy deur oopgemaak het het gesê hy sal ons help, so ons koop toe klomp chips, roomys en koeldrank en gaan sit op die promenade en eet saam, terwyl Chris vir almal wyn in glasies gee en ons oor die laaste paar dae reflect. Doret voer die katte (daar is 'n hele paar rondloper katte), en oom Gerrie sê sy moenie die katte voer nie. Sy sê toe vir oom Gerrie: "hulle eet darem al self".
    Ons stap toe terug en besluit ons wil gin gaan drink by 'n restaurantjie. Ons besluit toe sommer om te eet ook. En soos almal verbykom raak ons tafel al groter. Die mense is baie snaaks en ons kuier lekker.
    Oppad terug, toe ek amper by my hotel is, bel Amorie en sê oom Gerrie sweet en voel benoud en het drukking op sy bors. Ek gaan toe soontoe en Betsie, die ander dr, is darem reeds daar. Ons gee toe vir hom 'n ativan, want hy is maar angstig. Chris het 'n bloeddruk meter wat wys dat oom Gerrie se bloeddruk baie hoog en sy pols laag is. Ek stap toe af ambulansstasie toe, want ons kan nie 'n EKG of enigiets doen nie, so ek en die ambulans gaan toe herberg toe en die EKG wys dat hy 'n hartaanval het. Ek en die ambulans en oom Gerrie piekel toe hospitaal toe waar hulle 'n angiogram doen en stent insit en hy moet vir 3 dae in die hospitaal bly. Almal sê heeltyd dis 'n baie goeie hart hospitaal, so oom Gerrie is in goeie hande. Hy is rustig en voel baie beter na die stent. Die sekuriteit bel vir my 'n taxi terug hotel toe en nou gaan ek slaap.
    Read more