Satellite
Show on map
  • Day 8

    Masada, Qumran en Dooie see

    October 9, 2022 in Israel ⋅ ☀️ 30 °C

    Die bus het ons opgetel by die Damascus hek, naby Palms hostel. Frankie en Mari het saamgekom en dit was so lekker om op te vang oppad.
    Ons het langs die dooie see gery tot by Masada. Ons moes net eers 'n gids langs die pad oplaai, want mens mag nie in die nasionale parke in Israel gaan sonder 'n gids nie, dan word mens beboet. Mens kan egter 'n 'silent guide' kry, wat nie rerig iets sê nie en net saamry. Ons het 'n silent guide gehad. Hy was nie silent nie. Hy was eintlik baie oulik en het heeltyd vir ons goed vertel met oorgawe. Ek het vir Chris gevra hoekom hy nie ook so entoesiasties is nie, haha, maar hy sê die man gaan hom moeg maak.
    By Masada het 'n paar mense die berg opgestap (dis malligheid), maar nie voordat Frankie eers sy waterbottel in die model van Masada in die middel laat val het en Frikkie (eintlik Pierre) dit moes red nadat sekuriteit toestemming gegee het nie. Die res van ons het kabelkar gery tot bo, meeste mense het dan afgestap en sommiges het met die kabelkar afgery ook. Dis baie ver af. Ons bene was lekker jellie aan die einde en dit was verskriklik warm.
    Masada is 'n stad wat Herodus die Grote bo-op die berg gebou (laat bou) het. Dit was baie 'grand' vir die tyd. Daar was paleise en plekke waar die werkers gebly het. Daar was amper 1000 mense wat op die berg gebly het.
    Masada is gebou om hulle veilig te hou. Die Romeine het probeer om Masada in te val, maar kon dit nie regkry vir 3 jaar nie. Hulle het eindelik 'n 'ramp' gebou en deur die muur gebreek. Die Jode in Masada wou nie weer in ballingskap geneem word nie en het besluit om almal 'selfmoord' te pleeg. Hulle het mekaar doodgemaak, siende dat dit verbode is om selfmoord te pleeg in die Joodse geloof. Die enigste mens wat homself sou doodmaak is die laaste persoon om lewendig te bly. Hulle het ook als afgebrand behalwe die kosstore, om te wys dat hulle nie dood is omdat hulle nie kos gehad het nie. Hulle is rebelle genoem.
    Die volgende oggend, toe die Romeine die stad binnekom, was almal dood behalwe vir 2 vroue en 5 kinders wat hulle in 'n 'cistern' gekry het, wat die storie vertel het. Die Romeine het als toe net so gelos.
    Met die opgrawings het hulle klomp skerwe van potte gekry met die mense se name op uitgekerf. Daar is 'n gesegde tussen die Jode wat lei 'Masada will not fall again', so hulle gaan nie weer oorgee nie.
    Van daar is ons na Qumran, waar hulle omtrent 900 van die oorspronklike skrifrolle ontdek het in omtrent 11 grotte - die dooie see rolle. Dit blyk of meeste van die rolle van voor 73 AD bestaan.
    Na Qumran is ons dooie see toe, waar ons in die see gedryf het en onsself vol modder gesmeer het. Die modder maak mens se vel so sag - daar is baie olie en minerale in. Mens kan letterlik loop in die dooie see sonder om die grond te raak want jy sak nie af nie. Die water is baie sout en as dit in mens se oë kom brand dit glo baie erg.
    Dit is die laagste plek op aarde, omtrent 400 meter onder seevlak. Dit het die hoogste sout konsentrasie van enige watermassa - omtrent 30% sout. Dit is egter besig om al kleiner te raak omdat mense dit begin opgebruik, maar ook omdat dit in so warm en droë area is en die water verdamp. Niks kan daarin lewe nie en dit vloei ook nêrens uit nie.
    Van die dooie see af is ons terug Jerusalem toe, waar ons vir oom Gerrie gewag het om van Tiberias terug te kom met die taxi. Ek het my bagasie gestoor in Theuns se kamer sodat oom Gerrie in my kamer kan bly vir die aand en ek sou in Palms gaan slaap in die kamer waar Linda-hulle gebly het voor hulle in oom Gerrie se kamer ingetrek het. Toe ons by Palms aankom het hulle die kamer uitverhuur, maar weier om die geld terug te gee. Niemand moet ooit by Palms gaan bly nie. Ooit. Ek het toe in 'n dorm kamer gaan slaap by Abrahams.
    Read more