Tennis en tulpe

April - May 2025
Current
A 29-day adventure by Pollie61 Read more
Currently traveling

List of countries

  • Denmark
  • Germany
  • Netherlands
  • Spain
  • United Arab Emirates
  • South Africa
Categories
None
  • 18.0kkilometers traveled
Means of transport
  • Car1,512kilometers
  • Flight1,460kilometers
  • Train1,129kilometers
  • Walking230kilometers
  • Bus8kilometers
  • Hiking-kilometers
  • Bicycle-kilometers
  • Motorbike-kilometers
  • Tuk Tuk-kilometers
  • Camper-kilometers
  • Caravan-kilometers
  • 4x4-kilometers
  • Swimming-kilometers
  • Paddling/Rowing-kilometers
  • Motorboat-kilometers
  • Sailing-kilometers
  • Houseboat-kilometers
  • Ferry-kilometers
  • Cruise ship-kilometers
  • Horse-kilometers
  • Skiing-kilometers
  • Hitchhiking-kilometers
  • Cable car-kilometers
  • Helicopter-kilometers
  • Barefoot-kilometers
  • 25footprints
  • 28days
  • 388photos
  • 94likes
  • Day 14–16

    Noordwijk na Appelscha

    May 1 in the Netherlands ⋅ ☁️ 21 °C

    Laaste dag in die suidelike deel van Nederland. Hier is nog veel meer om te verken, maar Booking.com herinner ons aan ons volgende bestemming wat wag.

    Ons gaan eet eers ontbyt, want dis ingesluit by die verblyf en ons mors (of morsch) nie graag nie. Hierdie keer laat ons nie dat goeie etiket ons onder kry nie en pak ons 'n gesmeerde broodjie en vrug in vir middagete langs die pad.

    Ons eerste stop is in Haarlem. Ons vind ons pad na 'n parkeergarage, maar die hek weier om oop te gaan. Ons lees hulle inligtingsborde en besef dit is omdat daar geen plekke Vrij is nie. Ons soek maar 'n ander een op en kry vir Haarlemmer-Stroom. Ons bespreek en betaal online en volg Google Maps se aanduidings. Daar gekom is dit asof iemand gesê het "Open Sesame", want die paal lig vanself op en ons kan inry in die opelug parkeerarea in. Daar is heelwat meer plekke beskikbaar as die 13 wat online gewys het!

    Ons vra weer Google Maps se hulp, hierdie keer om te stap na die Corrie ten Boom museum. Ons weet eintlik ons sal nie kan ingaan nie, want ons het probeer bespreek, maar daar was geen openinge nie. Lyk my ons moes eintlik al 'n maand gelede die bespreking gedoen het! Gelukkig lei die blou stippellyn ons deur 'n klompie stil straatjies na die hart van ou Haarlem. Ons verwonder ons weer eens aan die groot kerk en ander geboue op die Groote Markt-plein. Ons gaan in by die kerk se winkel wat allerhande aandenkings en boeke verkoop en benut die geroesemoes in die winkel om ongevraagd hul toilet te gebruik. As mens op 'n klein begroting toer, help elke bietjie besparing!

    Ons verkyk ons so aan die winkels dat ons skoon verby die museum stap. Dit is 'n klein deeltjie van 'n groter gebou waar Corrie ten Boom en gesin voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog gewoon het. Haar pa het 'n winkel gehad op die grondvloer en hulle het op die eerste verdieping gewoon. Hulle het gehelp om Jode weg te steek en te beskerm teen die Duitsers.

    Uiteindelik is hulle gevang en Corrie, haar suster, 2 broers en hulle bejaarde pa is na verskillende konsentrasiekampe gestuur. Sy is al een wat oorleef het.

    Daarna, in 1946, het sy begin om deur die wêreld te reis as openbare spreker. Sy was 'n toegewyde Christen wat vertel het van haar werk met die vlugtelinge en die Nederlanders wat na die oorlog werkloos was en getuig van God se sorg. Sy was in 1953 ook in Suid-Afrika.

    Ons vind sonder moeite ons motor danksy ons goeie geheues! 😁
    Ook met die uitgaan by die parkeerarea sê iemand "Open Sesame" en die paal lig op sodat ons kan uitry. Moet iets te doen hê met die nommerplaat wat ons ingetik het toe ons die plek bespreek het!

    Toe is dit kophou met die verkeer en baie paaie en Google Maps se aanwysings om op die pad te kom na Den Oever via De Ewijksluis. Ons ry nog verby heelwat lande met tulpe wat nog vol in die blom staan. Die pad is egter te smal en besig of is 'n hoofpad, so dit is onmoontlik om stil te hou om foto's te neem. Toe ek reken ons is nou uiteindelik uit die geroesemoes en besigste paaie, toe is dit net omtrent nog 10 km na De Ewijksluis.

    Ons stop by die Langedijk, dit is maar 'n kanaal, waar 'n groep mense die warm weer geniet met 'n piekniek. Ons hou so entjie weg stil, want ons het mos ook darem 'n piekniek ingepak!

    By Ewijksluis kry ons 'n idee van die moeite wat gedoen word om te sorg dat Nederland beskerm is teen die aanslae vd Waddensee en meer spesifiek hoe die noordelikste dorpies die water van hul voorstoepe wegkeer!

    Dan gaan ons verder, eers oor kort Amsteldiepdyk en dan mettertyd ook oor die Afsluitdyk. Die Afsluitdyk is meer as 30 km lank en skei die Ijsselmeer van die Waddensee. Dit is 'n noodsaaklike beskerming teen vloede vir 'n groot deel van die "Neder"lande en is al in 1933 geopen vir verkeer. Dit bring ook natuurlik 2 provinsies, naamlik Friesland en Noord-Holland baie nader aan mekaar.

    Daar is rye op rye op rye windturbines in die Ijsselmeer opgerig. Ook soos ons suidwaarts begin ry na Appelscha, sien ons gereeld groot sonplase. Glo nie die Nederlanders ken van loadshedding nie! (Toe ek vir Marjan gevra het of sy weet wat loadshedding is, toe sê sy ja, dit is wat ons in SA het met die elektrisiteit!)

    Anita ontvang ons baie hartlik by De Posthoorn. Dit is 'n lekker ruim kamer met 'n kombuisarea en 'n heerlike sonnige stoepie wat ons tuiste is vir die volgende 2 dae. Ons vra vir Anita na 'n laundromat in die dorp en toe bied sy aan dat ons ons wasgoed sommer in haar masjien kan was. Sy het 'n staander waar ons dit kan ophang. Baie gaaf van haar, want my skoon klere is party nog net half-skoon. 😏

    Omdat ons 'n kombuisie het, kan ons in 'n supermark gaan kos koop. Ek vra vir liewe Google Maps aanwysings na die naaste kruidenierswinkel. Eers toe ons op pad is, besef ons ons is besig om na die volgende dorpie te ry. Gelukkig nou nie 'n dagreis ver nie, maar nogtans verstommend hoe Google mens somtyds kan mislei!

    Ons kry klompie benodigdhede en oa "Gegrilde kip en salad met yoghurtsous" oftewel hoenderslaai met 'n sousie. Smaak beter as wat dit klink!

    Ons skryf tot laat sodat ons nie sover agter raak met die joernale nie en toe ons die lig afskakel is dit al my verjaardag!
    Read more

  • Day 13

    Bollenstreek

    April 30 in the Netherlands ⋅ 🌙 16 °C

    Ontbyt is ingesluit by ons verblyf, so alhoewel ons nie gewoonlik ontbyt eet nie, gaan benut ons dit darem. Dit moet ons maar deursien tot so laat as moontlik.

    Ons het fietse bespreek om te huur by Lemon Bike Lisse. Dit is nie baie ver van Keukenhof af nie. Ons beplan om 'n 15 km roete rondom Keukenhof te ry, want ons sien nie kans vir die menigtes in die bekendste tulpetuin van die wêreld nie. Ons kry fietse wat lyk na gewone dikwielfietse soos waarmee ek grootgeword het, maar dit het 7 ratte om te help wanneer die wind bietjie van voor druk. Hulle ry seepglad en maklik. Mens moet net kophou met al die voetgangers en ander fietse en bromponies wat ook dieselfde paadjie gebruik. Ons het gelukkig net paar keer 'n pad gekruis waar daar motors ook gery het.

    Ons moes 'n paar kilometer ry voor ons regoor Keukenhof gekom het. Daar het rye en rye busse en motors gestaan. Ek dink nie daar was vir ons ook plek nie. Toe is dit kort-kort se stilhou om ons te verwonder aan die lande en plate tulpe en affodille. Ons vingers jeuk net om foto's te neem. Elke keer dink ek net hoe kan mens dit afneem sodat dit so mooi lyk soos wat dit in werklikheid is, maar dit is net nie moontlik nie!

    As gevolg van die ongewone warm weer is baie blomme al afgesny, vroeër as normaalweg. So daar is lande waar dit lyk asof die bolle al uitgehaal is, ander lande waar die plante nog staan sonder blomme, lande waar die langste blomme afgesny is, maar die kortes oorgebly het en dan natuurlik dié wat nog vol in die blom is.

    Iewers gaan ons van die fietsry pad af en ry tussen die lande op die boer se pad. Die eerste deel was nog lekker, want die grond was hard. Die laaste deel was egter dik sand en ek het momentum verloor en toe ook balans! So ek het so 'n stukkie Nederland by my eiendomsportefeulje gevoeg. Gelukkig het alles in "slow motion" op sagte sand gebeur, so geen skade aan my of die fiets nie. Moes net weer die handvatsel in lyn met die voorwiel draai. Truda het net voor dit afgeklim omdat sy meer insig gehad het van wat gaan gebeur! Ons stoot toe maar die fietse tot by die pad om 'n herhaling van my onnoselheid te voorkom.

    Daar is toe net mooi 'n restaurant en ons dink dit is 'n goeie geleentheid om 'n badkamer te gebruik en sommer 'n glasie koeldrank te geniet. Dit is eers na ons deur die klubhuis gestap het dat ons besef dit is eintlik 'n gholfbaan! Hulle het ons darem vriendelik bedien! (Daar het 3 ooms afgeslaan terwyl ons gekyk het en 2 van hulle moes hulle balle uit die water uitvis. Truda sê dit lyk asof daardie "visstok" die stok is wat hulle seker die meeste gebruik tydens 'n rondte!)

    Ons het iewers 'n verkeerde afdraai geneem, maar dit het nie gepla nie. Orals soos ons ry, sien ons net plate en plate tulpe van baie verskillende kleure. Soms is daar klomp kleure tulpe in een plaat, dan is dit tulpe bedoel vir pluk.

    Ons vind gelukkig weer maklik vir Lemon Bikes en ek besef net ek sal my bobene bietjie moet oefen. Ek is dankbaar Nederland is so plat!

    Weer verenig met ons SpaceStar, vra ons Google Maps om ons te lei na Hortus Botanicus in Leiden, of eerder na 'n parkeerarea naby aan die botaniese tuin. Ons kry een wat so 12 minute se stap weg is en ons val in die pad. Hierdie keer kry ons die parkeerplek maklik en sonder enige omleidings agv geslote strate.

    By die tuin is die lekkerste, koelste drinkwater beskikbaar by 'n kraan net buite die ingang. Ons maak volle gebruik hiervan, want dit is 'n warm dag. Ons is bly om in te gaan by die tropiese glashuis, want dit uit die direkte son uit, maar na 'n tydjie is dit ook maar warm en bedompig. Mens besef dit veral met die uitstap aan die ander kant. Daar is 'n paar besonderse blomme van verskillende wêrelddele in die gladhuis. Hulle het ook meer as 6 000 verskillende orgideë in 'n paar verskillende vertrekke bymekaar.

    Ons bly redelik in die koeler gedeeltes van die tuin en verkyk ons aan al die soorte plante wat ons nie ken nie. Truda herken darem so klompie, maar ek is "clueless" as dit by plante kom. Ons gaan .aak ook 'n draai by die groentetuin. Daar is ook sommige goed wat ons nie ken nie, maar selfs ek herken darem 'n klompie groente!

    Ons loop ook vir Linnaeus raak, in elk geval sy borsbeeld. Truda ken hom al van lankal af! Hy is die een wat begin het met die metode van wetenskaplike naamgewing vir plante wat nou nog universeel gebruik word.

    Ons het nie middagete gehad nie en gaan soek roomys vir 'n bederfie. Die kafeteria het glad nie roomys nie, maar darem bosbessie kaaskoek. Baie lekker!

    Ek is lekker lam na die fietsry en rondloop in die son en ons moet nog die km of so terugstap motor toe. Ons vleg tussen die studente en toeriste deur en kom darem in een stuk by die parkeerarea. Om een of ander onverklaarbare rede wil die masjien glad nie enige een van 3 verskillende bankkaarte van my 'lees' nie. Gelukkig is daar 'n plek waar ons kontant kan betaal - die enigste parkeerplek waar ons nog 'n persoon teëgekom het. Al die ander het net onbemande masjiene!

    By die hotel, is die eerste beskikbare parkeerplek omtrent 'n rugbyveld en 'n half van die voordeur af, maar nou ja! Ons gaan sommer aandete by die kroeg in die hotel eet, toast broodjie met ham en kaas en rooibostee. Hulle koffiemasjien word skoongemaak op daardie tydstip en ons kan nie ons eerste keuse kry nie. Gelukkig weet die outjie by die toonbank van rooibostee. Ons kry dit sonder melk, maar met heuning. Terwyl ons wag vir die toastbroodjies, speel ons 'n potjie Rummikub. Dis egter baie meer omslagtig as mens net 2 is in vergelyking met wanneer 4 mense speel.

    Vandag was 'n absolute hoogtepunt. Geen foto kan reg laat geskied aan die mooiheid en weelde van die plate tulpe nie!

    (App laat net 20 foto's per dag toe. Ek het nóg baie!)
    Read more

  • Day 12–14

    Schiedam na Noordwijk

    April 29 in the Netherlands ⋅ ⛅ 15 °C

    Marjan het aangebied om ons by die hotel te kom oplaai en te gaan aflaai by Rotterdam Centraal stasie. Dit is 'n groot guns wat ons baie help en ons verskriklik waardeer. Hopelik kom sy gou SA toe sodat ons vir haar ook kan onthaal en rondwys.

    Ons koop treinkaarjies by die masjien en gaan wag op die platform. Gelukkig is daar meer as een trein wat by Schiphol lughawe aandoen, want ons s'n is vertraag. Binne 40 minute is ons by die lughawe en kan ons ons gehuurde motor kry. Ons gaan laai ons bagasie in die motor en stap weer die min of meer halwe kilometer, alles binnenshuis, terug na die lughawe toe.

    Ons bespreek ons 3 treinkaartjies vir ons rit van Nederland na Kopenhagen wat ons gaan onderbreek in Bremen en Hamburg. Ons word gehelp deur 'n baie vriendelike meisie by die Nederlandse Spoorweë se kantoor op die lughawe. Ek dink dit was selfs vir haar so bietjie van 'n uitdaging om alles mooi reg in te voer en op te soek. Ons was nie lus vir daai moeite op die klein skermpie van 'n selfoon nie!

    Voor ons die pad aandurf - aan die regterkant wat mos eintlik die verkeerde kant is, kry ons eers versterkings by Starbucks. Toe is ons reg vir die pad Leiden toe. Dankie tog vir Google Maps en Truda se navigasievaardighede! Ons sukkel so bietjie om die parkeergarage te kry, want daar is strate toegemaak waaraan hulle werk, maar ons kom darem uit by Morspoort. Ons het eers langs 'n straat parkeer, maar by die parkeermeter is 'n kennisgewing wat sê dat straatparkering duurder is as die parkeergarages. Daar is 'n hele paar parkeergarages in Leiden, want hulle probeer om so min as moontlik motors in die middedorp te hê.

    Ons probeer 'n self-guided wandelroete volg waarvan ek op die internet gelees het, maar ons begin by 'n ander plek as waar die roete eintlik begin. Ons kry darem so 'n paar plekke waarna die roete verwys! In elk geval is Leiden so 'n ou dorp dat mens maar net enige plek kan rondloop dan sien jy iets geskiedkundig wat uitgewys word. Ons kom oa uit by die Hortus Botanicus, die oudste botaniese tuin in Nederland, maar besluit om eerder die volgende dag terug te kom wanneer ons meer tyd sal hê daarvoor.

    Leiden is 'n universiteitsdorp wat klaar beteken dat daar 'n menigte mense bymekaar is in 'n relatief klein area, maar daar is ook baie toeriste wat net soos ons, hulle verkyk aan die geboue met hul ryke geskiedenis.

    Terug na Morspoort en dan navigeer na Noordwijk.
    Iewers luister ek nie na Google en Truda nie, want Google sê ek moet 'n u-draai maak in 'n groot straat! Toe moet ons 3 km terugry voor ons kan omdraai en terugkom. Werklikwaar sê Google wéér ons moet die u-draai maak! Hierdie keer maak ek maar so, teen my grein in, en dit werk toe reg uit!

    Ons kamer is op die tweede vloer en ons moet trappe klim. Gelukkig het ons rugsakke en nie tasse (met of sonder wiele) nie!
    Ons verwyl tyd in die kamer en droomland voor ons afstap na die see toe. Die area se naam is mos juis Noordwijk-aan-Zee. Dit is omtrent 1 km se stap verby verskeie hotelle en vakansiewoonstelle. Dit laat my dink aan die Strand.

    Mens kan egter nie die see sien van die voorste straat af nie. Daar is 'n duin tussen die pad en die see. (Wie is oud genoeg om "Die storie van Klara Viljee" te onthou?)

    Daar is 'n groot gebou van die Reddingsbrigade aan die seekant van die duin. Hulle weergawe van die NSRI. Alhoewel daar nog baie mense op die strand is, sien ek net een persoon swem en een persoon op 'n klein seilbootjie. Die luggie is al koel en die mense geniet maar die laaste bietjie son.

    Op pad terug sien ons 'n vis en chips winkel en gaan in vir aandete. Ons bestel 'n puntsak met chips en kibbeling en 'n puntsak met chips en inkvisringe. Dws stukkies gebraaide vis en calamariringe saam met die chips. Dit was heerlik! Hulle het so 'n spesiale staander waarin die puntsak pas sodat dit regop bly. (Puntsak is basies 'n houer wat gevorm word as mens 'n stuk papier sou oprol sodat dit keëlvormig is.)

    Daarna is dit terug hotel toe vir 'n welverdiende nagrus. Môre is dit tyd vir tulpekyk. Verseker nog 'n hoogtepunt!
    Read more

  • Day 11

    Schiedam, Den Haag en Delft

    April 28 in the Netherlands ⋅ ⛅ 18 °C

    Ons het rustig reggemaak om weer bietjie deur Schiedam te gaan stap. Marjan kom haal ons eers 14:00 en dan gaan ons Den Haag toe ry en ook by Delft aangaan op pad terug.

    Ons slaan weer eens 'n ander rigting in om die res van Schiedam te verken. Ons gaan na verskeie historiese geboue wat aangetoon is op die kaart. Hierdie keer is óns vd voetgangers wat moet wag vir 'n brug wat opgeslaan word vir 'n boot wat onder wil deurvaar. Dit lyk asof dit lankal veilig is om oor te stap/ry, maar die man vd havensdiens neem sy tyd om die 'booms" op te lig en die verkeersligte te verander na groen.

    Ons stap by die Proveniershuis verby. Dit is 'n groot gebou waar mense ingekoop het en dan geregtig was op lewenslange "board and lodging". Klink my egter dit was mense wat nie gewerk het nie en uiteindelik op gunste en gawes aangewese was. Daarna was daar nog 'n lang geskiedenis en in 1834 was dit onseker wie die eienaar van die gebou was. Tot die munisipaliteit in 1863 sommer besluit het dit is hulle gebou. In 1981 het die gebou afgebrand, maar is darem weer herstel. Dit behoort nou aan 'n organisasie wat hul beywer vir die behoud van geskiedkundige geboue in Nederland en dit word benut vir behuising.

    Daarna stap ons tot by 'n park en sien 'n groot, blink walvis op droë grond. Dit is blykbaar daar as deel van die 750-jarige bestaansjaar vieringe van Schiedam. Neem aan dit is of gemaak deur 'n plaaslike kunstenaar of verwys op 'n manier na die Walvisch Molen in die dorp. Terloops daar is 2 mense binne-in die walvis se maag, seker Jona en Jona se maat!

    Ons wil vir Marjan 'n geskenk gaan koop, maar dis Maandag. Die jenewermuseum en -winkel en die sjokoladewinkel en sommer al die ander winkels is ook toe. Die Bonte Koe het duidelik nie ons paar euros nodig nie!

    Gelukkig is Schattig wel oop en ons gaan rus ons voete en voer ons mae met heerlike vars croissants met botter en konfyt. Elkeen van ons kry 'n miniatuur potjie konfyt, tog te schattig!

    Ons gaan terug hotel toe, want dis nie te lank voor Marjan ons kom oplaai nie én dié joernaal skryf nie homself nie. Ons benut maar die tydjie tot ons beskikking.

    Spoedig is ons Uber daar en Bolt ons daar weg op pad na Den Haag! Ek bedoel Marjan met haar ratse Mini het ons in 'n ommesientjie veilig geparkeer in 'n parkeergarage naby Mauritshuis, die premier se kantoor en Die Binnenhof.

    Marjan vertel vir ons dat die koning elke September, op die 3de Dinsdag vd maand, die begroting kom voorlees in De Ridderzaal. Hy kom dan met 'n koets en perde aangery deur die pragtige laning en in by die poort van De Binnenhof. Hierdie geleentheid was oop vir die publiek om by te woon en haar pa het elke jaar kom luister.

    Hulle is besig met verbouings en restourasie van De Binnenhof en ons kan nie ingaan om De Ridderzaal te sien soos ons eintlik beplan het nie.

    Ons stap om na Mauritzhuis toe waar die bekende skildery van Vermeer is, die "Meisje met de parel". Ons sou dit graag in "lewende lywe" wou sien, maar die toegangsprys skrik ons af en ons is nie regtig ingestel vir 'n kunsmuseum op dié stadium nie.

    Volgende is die Vredespaleis. Dit is waar die Internasionale Hof sit. Daar is toe juis 'n saak aan die gang - SA neem al weer vir Israel hof toe oor hulle nie hulle vyande van kos voorsien nie! Daar sit en staan 'n hele paar joernaliste en kameramanne buite rond en wag om die nuus te rapporteer. Die besoekersentrum is egter net oop van Woensdae tot Saterdag en dis vandag Dinsdag.

    Buite die hek, waar ons dit kan ondersoek dus, is daar 'n vlam wat al baie jare brand en rondom die vlam is 'n klomp klippe ingemessel. Op 'n kaart word aangedui watter land het watter klip gegee om daar hulle samewerking tot die verdrag tot wêreldvrede te verteenwoordig. Suid-Afrika het 'n langerige stuk leiklip (ek is nie geoloog nie!) geskenk.

    Toe verkas ons na Delft - bekend vir sy blou en wit erdewerk, maar ook die geboorteplek van Marjan se ma. Delft het 'n tegniese universiteit so daar loop en fiets orals studente én natuurlik toeriste. Mens moet mooi kyk voor jy 'n straat oorsteek, jy hoor nie die fietse aankom nie!

    Ons verkyk ons aan die geboue wat alreeds eeue tevore gebou is en nog steeds funksioneel is. Ek dink dit is 'n groot deel van die sjarme wat Europese dorpe/stede vir my inhou.

    Oms gaan in by 'n kaaswinkel en proe vd verskillende kase. Die verouderde gouda is my gunsteling. Daar is natuurlik baie aandenkings met 'n Delft, Nederlandse of kaastema ook te koop. Ons dink maar aan ons rugsakke wat ons nog vir die res vd toer moet karwei en hou ons hande tuis. Dieselfde in die moderne Delftware winkel langsaan. Ons koop maar met die oë. By die antieke Delftware winkel, snak ek net na my asem as ek die pryse omwerk na ZAR, al is die ware ook hoe mooi!

    Ons stap verder in die dorpsplein rond, neem foto's vd kerk en die stadhuis en besluit dit is tyd vir ietsie te ete en drinke. Ons kry 'n tafel by Het Konings Huys en ons voel sommer tuis. Ons bestel Heineken, frites en 'n mandjie met 4 verskillende soorte vleisgeregte wat mens met die hand kan eet oa bitterballen natuurlik.

    Daarna gaan ons terug na Marjan se woonstel vir poeding. Sy het spesiaal vir ons oranje tompouce gebêre van Koningsdag. Dit is tradisie om dit op die koning se verjaardag te eet. Dit is duidelik die oorsprong van die Suid-Afrikaanse tamboesie.

    Ons kuier en toer lekker saam met Marjan en haar fotoboeke van vorige reise wat sy onderneem het. Ons sal vir altyd dankbaar wees vir die tyd en moeite wat sy ingesit het om hierdie twee dae vir ons onvergeetlik te maak!
    Read more

  • Day 10

    Schiedam en Rotterdam

    April 27 in the Netherlands ⋅ 🌙 15 °C

    Ons begin die dag met 'n boodskap van Ds Olivier Muller van Barrydale oor die Pottebakker wat heeltyd besig is om die klei te vorm.

    Ons gaan stap rustig weer deur Schiedam, maar hierdie keer 'n roete wat ons verby al die molens neem. Ons sien die tekens van die vorige dag se feesvierings. By sommige plekke begin die eienaars met die skoonmaakproses, maar die straatjies is baie stil. Die strate waar ons loop is meestal geplavei en smal. Ons kan sommer in die middel vd strate drentel en foto's neem van interessanthede.
    Ons bly min of meer al langs die rivier of kanaal en verkyk ons aan al die mooi en (vir ons) buitengewone dinge. Dit is 'n mooi helder sonskyndag, perfek vir foto's.

    Ons kom by 'n skuit wat wag vir iemand vd Havendiens om die brug te laat opgaan oor die kanaal sodat hulle kan deurvaar. Ons is net mooi betyds om die proses af te neem.

    Ek sien op baie briewegleuwe in die voordeure is stickers geplak wat aandui of die inwoners advertensies wil hê of nie. Ek soek ook so 'n plakker vir my tuinhekkie!

    Ons stap by HN Rose Glasblazerij verby. Hulle maak barometers "voor een mooie weer prognose".

    Ons geniet sommer net die rustigheid van die Sondag en die klein dorpie en gaan verwyl tyd langs die rivier en kyk na die watervoëls.

    Marjan Graveland het ons so net na 1 uur kom oplaai by ons hotel. Sy is vriende van Mamma, Pieter en Janna Graveland, se dogter. Sy was laas in 2014 of so in Suid-Afrika en het toe in Swellendam by Mamma-hulle gekuier. (Ek het in 1989 of 1990 vir haar in Kaapstad toergids gespeel.) Sy was 'n lugwaardin met KLM tot en met Covid. Sy het toe 'n vervroegde aftrede geneem.

    Sy is 'n vrywilliger by die Stedelike Museum van Overschie, 'n buurdorp van Schiedam. Dit is waar sy groot geword het. Sy beman die brocantewinkel so een of twee keer per maand. Die museum is net Sondagmiddae oop en ons gaan die tyd in die museum deurbring terwyl sy haar plig nakom.

    Sy gaan wys ons eers die plek waar haar ouers se huis tot 2017 was. Dit is nou 'n industriële area en die huis is gesloop. Haar pa het spesiale verblyfreg gehad en die ontwikkelaars moes lank wag om te kon bou, want haar pa het 102 jaar oud en haar ma 98 jaar oud geword. Hulle het albei nog in die huis gesterf.

    Ons geniet die museum baie. Een van die volunteers, Anna-Marie, ontferm haar oor ons. Sy is 'n dame van seker so om en by die 80 jaar oud. Ons kommunikeer so "om en om" in Nederlands, Afrikaans en Engels. Die museum gee 'n voorstelling van hoe 'n huis sou lyk in vroeëre tye.

    Marjan het ons ook na haar ouers se graf geneem. Die kerk se begraafplaas is in die agterplaas van die museumgronde. Daar is ook mense wat van die museumgrond huur om groentetuin op te maak. Ons het daar gaan inspeksie doen. Truda se tuin kry beslis 'n beter punt en resensie as meeste van die wat ons gesien het. Daar was egter een oom se tuin wat baie agtermekaar gelyk het. Hy was juis besig om kompos in te werk voor hy pampoen gaan plant. Hy het vir ons vertel van al die soorte groente wat hy in sy beddings geplant het. Hy het ook vir elkeen van ons 'n kraakvars radys getrek om te eet!

    Na die museum toegemaak het (17:00) gaan ons saam met Marjan na haar woonstel in Schiedam. Sy maak vir ons aandete waarvan vars aspersies die hoofgereg is. Poeding is vars, vars aarbeie en roomys. Heerlik!

    Daarna klim ons in haar ratse Mini en ry Rotterdam toe. Sy wys eers vir ons die roete wat sy gewoonlik stap vir oefening tot by die hawe. Kort-kort hou sy stil sodat ons kan foto's neem, of soos sy praat, foto's maak. Die lig is baie mooi en ons neem baie foto's van verskillende uitsigte oor die hawe en Erasmusbrug. Sy neem ons ook na die SS Rotterdam, 'n skip wat omskep is in 'n hotel.

    Daarna gaan ons in die stad in om oa na die oudste gebou in die stad te gaan kyk, die stadsaal. Die paaie is toegemaak en ons kan nie ry soos nodig om daar te kom nie. Moet vinnige "steelfoto" neem in die verby ry. Rotterdam is gebombardeer tydens WWII en basies al die geboue is vernietig, behalwe die stadsaal.

    Op pad na die Art Depot ry ons verby die Kijk-Kubus Museumwonings en ek wil my verbeel ek het al 'n foto hiervan gesien wat Pappa ook baie jare gelede geneem het! Die Art Depot is 'n baie interessante gebou. Ons tref dit baie gelukkig met die tyd van die dag en die lig. Kyk maar na die foto's!

    Na die verkenning van Rotterdam gaan ons terug en Marjan laai ons by ons hotel af.

    Dit was 'n besonderse lekker dag en baie goed om Marjan weer te sien en beter te leer ken. Ons het sommer dadelik 'n konneksie gehad omdat ons ouers en spesifiek moeders, mekaar geken en waardeer het!
    Read more

  • Day 9–12

    Spanje na Nederland

    April 26 in the Netherlands ⋅ ☀️ 14 °C

    In Madrid begin die metro soggens sesuur. Ons beplan om met die eerste een te ry na die Barajas lughawe. Ons vlug vertrek 08:50 en die rit behoort so amper 'n uur te neem.

    Ons staan vroeg op en 05:40 staan ons voor die geslote ingang na Anton Martin metrostasie. Bietjie bekommerd dat die metro dalk nie betyds gaan oopgesluit word nie, maar totaal onnodig! So 05:55 gaan die roldeur outomaties op hier agter my rug. Dit begin met so 'n harde slag dat ek amper 'n senuineenstorting kry! 😁

    Die eerste trein kom en gaan sonder om te stop, maar toe die tweede een kom, kry ons darem kans om in te klim. Daar is alreeds heelwat mense op die trein, ons is immers by die 4de of 5de stasie van die beginpunt af.

    Ons moet 2 keer oorklim om tot by Terminal 4 te kan ry.
    Ons het alreeds ingecheck, maar ons vlieg met 'n lae-koste lugdiens, so ons moet self ook die plakker vir die bagasie laat print by 'n masjien en vassit aan die rugsakke en dan net "drop" by "bag drop".

    Die vlug duur amper 3 uur. Die plek waar die bagasie uitkom is nogal ver van waar ons in die lughawegebou ingekom het. Schipol is 'n baie besige lughawe, maar gelukkig is hul aanwysings goed.

    'n Gawe beampte help ons (almal) by die kaartjiemasjien om treinkaartjies te koop vir waarheen jy ook al wil gaan. Daar is 'n goedkoper (stadiger) en duurder (vinniger) opsie na Rotterdam Centraal. Raai watter een het ons gekies?
    🤔

    Ten spyte van die stadiger opsie is ons sommer gou-gou in Rotterdam. Lieflike vinnige, skoon trein wat net by een stasie tussen Schipol en Rotterdam gestop het. Pragtige boerderye waarlangs ons ry, met polders op polders groen gewasse en beeste, skape en perde wat rustig wei of lê en herkou.

    By Rotterdam gaan ons na die inligtingsentrum op die stasie en kry raad oor watter kombinasie van publieke vervoer ons moet neem tot naby ons hotel. Die raad wat ons kry is eers trem en dan metro en dan stap tot by Hotel de Windmill. Toe ons naby is, kan ons sien hoekom dit die naam is, want een van die 7 windmeulens van Schiedam is net skuins oorkant die hotel.

    Ons boek in in die kroeg en kry die sleutel vir kamer 8 op die 2de vloer. Klink OK, maar toe ons die trappe sien, sak my moed in my skoene en my rugsak voel sommer dubbeld so swaar! Die trappies is klein en steil en báie!

    Na ons bietjie ontspan het, neem ons ons kaart van S-dam (Schiedam en Swellendam nie) en gaan verken die area. Dit is 'n vakansiedag hier in Nederland, Koningsdag. Dit is ter ere van Koning Willem se verjaardag, wat eintlik eers Sondag is. Min of meer almal het een of ander oranje kledingstuk aan of oranje versierings aan hul ore of om hul nekke - dit is mos die koningshuis van Oranje!

    Ons stap sommer rond en kom in Lange Havenstraat te lande. Hier is baie partytjies nog aan die gang by die restaurante of by stalletjies wat allerhande goed op straat verkoop. Die Nederlanders vier die koning se verjaardag behoorlik!

    Ons drentel nog rond en verkyk ons aan die jolige klomp. Later begin ons die pad terug neem in die algemene rigting van die hotel. Gelukkig is die windmeul 'n goeie baken vir ons hotel. Ons kry 'n supermark naby aan die hotel waar ons klompie kosvoorrade aankoop. Hierdie keer kom die druiwe uit Indië, maar hul uitvoergehalte steek sleg af teen Suid-Afrika s'n.

    Nog 'n interessante dag kom tot 'n einde. Ek's bly ons kon iets van Koningsdag beleef, dit was nogal iets om te sien hoe almal meedoen daaraan.
    Read more

  • Day 8

    Mutua Madrid Ope 2

    April 25 in Spain ⋅ ⛅ 17 °C

    Soos gister maak ons gereed om 08:00 te gaan vir ontbyt. Vandag sal ons moet genoeg inpak vir 2 etes, want ons het kaartjies vir die dag- én die aandsessies. Die aandsessie begin eers 20:00 en daar is 2 wedstryde.

    Ons ken nou al die pad na die stadion en neem met selfvertroue die verskillende metrolyne tot by San Fermin (?) en stap die laaste km tot by die stadion. Ons is bietjie vroeër en staan eers rukkie in die queue voor dit begin beweeg deur sekuriteit. Maar nie te lank nie, toe is ons binne en kan ons die buitebane gaan verken. Ons sien vir Sabalenka toe sy afstap van die oefenbaan - sy is baie vriendelik met die aanhangers!

    Ons eerste wedstryd is Jasmine Paolini teen Katie Boulter. Katie is glad nie opgewasse teen die klein pakkie dinamiet, Paolini, nie en verloor sommer gou-gou 6/1 6/2. Paolini maak nie eintlik foute nie en kom alles by!

    Die tweede wedstryd vd dag is my hoogtepunt. Dit is Aryna Sabalenka vs Anna Blinkova. Aryna dien glad nie goed nie, net omtrent 50% eerste diene is in, maar haar grondhoue en netspel is iets om te bewonder. Sy wen 6/3 6/4, want Blinkova gee ook nie sommer oor nie! In geheel gesien, 'n baie mooi wedstryd.

    Die 3de wedstryd vd dag is Zverev vs Bautista-Agut. Ook een waarna ons uitgesien het. Zverev se eerste dien van die dag was 224 km/h! Hy het heel wedstryd goed gedien en redelik min ongedwonge foute gemaak. Bautista kon net nie bybly om al die harde houe terug te kry nie. Hy verloor uiteindelik redelik maklik 6/2 6/2.

    Daarmee is die dagsessie verby en dit was maar seker so halfvyf. Die aandsessie begin eers 20:00. Ons besluit om te gaan kyk wat by die buitebane aangaan.
    Ons kry vir Elise Mertens van België wat teen Osorio van Colombië speel. Hulle is in die 2de stel en dit lyk asof Elise sommer maklik gaan wen. Dink sy was 5/0 voor toe Osorio besluit sy kan darem beter. Toe is daar 'n paar spannende potte waar Elise meer as een keer wedstrydpunt gehad het, maar net nie kan wen nie. Dit het haar nog 'n hele ruk geneem om uiteindelik die stel 6/3 te wen. Hier het ons vlak langs die baan gesit en mens kom onder die indruk van die spoed waarteen die balle geslaan word. Dis regtig vinnig! Ek was baie beïndruk met Elise se spel.

    Toe skuif ons een baan aan na Mirra Andreeva en Diana Schnaider wat dubbels speel teen Samsonova en Martinez. Die 2 Russe sukkel so bietjie aan die begin, maar kom darem mettertyd aan die gang. Ek hou niks vd "no-ad rule" wat hulle deesdae by dubbels gebruik nie. Wanneer die telling gelykop is, speel hulle net nog een punt om die pot te bepaal. Dis te veel van 'n dobbelspel vir my!
    Ons sien ook vir Dinara Safina en Conchita Martinez in die "players' box". Hulle rig die twee Russe af. (Min of meer my tydgenote.)

    Die son bak ons baie warm en net voor die einde van die eerste stel gaan soek ons koelte in die area onder die pawiljoene. Daar is hordes mense wat daar rondloop en rondsit omdat daar tans nie 'n wedstryd op die hoofbaan is nie.

    Ons wou eers koffie koop, maar besluit toe op coffee cream roomys, die perfekte 2-in-1. Ons kry 'n tafeltjie in die koelte en ontspan tot ons dink hulle sal ons toelaat op die pawiljoen vir die aandsessie.

    Daar gekom besef ons dis nog 45 min voor die wedstryd gaan begin, ons kan maar eerder weer 'n tafeltjie gaan kry en ons tweede ingepakte ete vir die dag nuttig. Ongelukkig kry ons toe ook die slegte nuus dat Monfils onttrek het en dat hy en Rublev nie meer gaan speel nie. Dit was een van die wedstryde waarna ek die meeste uitgesien het! Ek hou besonder baie van Rublev!

    In die plek daarvan skuif hulle Davidovich vs Borges se wedstryd na die hoofbaan - 'n Spanjaard vs 'n Portugees. Ons ondersteun die Portugees, want daar is genoeg Spanjaarde om Davidovich aan te moedig. Ongelukkig help ons insette nie veel nie - niks wil werk vir Borges nie! Hy verloor sommer vinnig en ver.

    Aan die een kant is ek nie te veel omgekrap daaroor nie, want Rybakina en Andreescu moet nog speel en die dag raak al lank. Ek het vir Andreescu 'n billike kans gegee om Rybakina te klop, maar Elena se houe is te hard en te diep en Bianca bly aan die verdedig. Sy maak geen hond haaraf nie. Toe dit 1/2 in die tweede stel is, besluit ek en Truda ons weet wat verder gaan gebeur en begin die pad terug hostel toe. Dit is toe al halfelf en die trip neem sowat 'n uur.

    Terug by die hostel, net mooi halftwaalf, sien ons ons was reg - Rybakina het 6/3 6/2 gewen.

    Ons pak ons rugsakke sover ons kan, want die volgende dag moet ons 06:00 by die metro wees om betyds by die lughawe te kan kom. Geen tyd om dan nog netjies in te pak nie!

    Dis die einde van 2 opwindende dae - deur en deur die geld, moeite en tyd werd gewees!
    Read more

  • Day 7

    Mutua Madrid Ope 1

    April 24 in Spain ⋅ ☀️ 15 °C

    Uiteindelik breek 'n groot dag vir ons aan! Ons gaan tennis kyk by een van die grootste toernooie van die jaar - 'n WTA en ATP 1000 toernooi.

    Ons het ontbyt bestel teen €8 per persoon wat ons grotendeels inpak vir middagete by die toernooi. Ons weet uit ondervinding dat kos by 'n geleentheid soos dié amper onbetaalbaar duur is.

    Ons het ons roete per metro mooi uitgewerk. Die naaste stasie se naam is Anton Martin en is seker nie eens 500 m van ons hostel af nie. Ons koop weer 2-dag kaartjies wat ons ook nog Saterdagoggend tot by die lughawe moet neem. Ons ry 2 stasies tot by Sol waar ons oorklim en 'n verdere 8 ry tot by die naaste stasie aan die tennisstadion. Ons hoef nie bang te gewees het dat ons dit sal mis nie, want 'n klomp mede-reisigers klim ook hier af! Te voet volg ons maar net die stroom vir omtrent 'n kilometer tot by die stadion.

    By sekuriteit haal hulle die doppies van ons waterbotteltjies af. Blykbaar is 'n toe bottel 'n wapen! En hulle verkoop nie gebottelde water binne-in die kompleks nie, net klein blikkies wat hulle oorgooi in 'n weggooibare karton glas. Prys €2.50!

    Ons is hoog betyds op ons sitplekke en besef dat ons gaan braai in die son. Hoër op is koelte oor leë stoele, so ons skuif sommer dadelik soontoe. Baie tyd om ons te oriënteer in 'n omgewing wat ek al so dikwels op televisie gesien het. Ons neem foto's en video's om die oomblik en omgewing vas te vang vir altyd.

    Uiteindelik daag Kei Nishikori en Vukic op om te speel. Eers is Kei hopeloos te goed vir Vukic, maar toe raak Vukic bekend met sy omgewing en wen die tweede stel. Kei was darem al nr 4 in die wêreld en trek die wedstryd deur in die 3de stel.

    Tussen die wedstryde word die net omgeruil, want die WTA het 'n ander borg wie se naam op die net vertoon moet word. Toe is dit Mirra Andreeva vs Marie Bouzkova se beurt. Mirra maak aan die begin baie ongedwonge foute, maar sy is nie verniet 7de gekeur nie. Sy wen die wedstryd in skoon stelle.

    Derde op die baan is dit Iga Swiatek teen Alexandra Eala van die Philippyne wat hoeka vir Iga gewen het by die Miami Open, minder as 'n maand gelede. Duidelik is Iga nie op haar gemak teen Eala nie. Sy maak baie ongedwonge foute en Eala slaan ook sommer heelwat wenners. Tot ons en Iga se verbasing verloor sy die 1ste stel. Sy sukkel ook vir 'n groot deel van die tweede stel, maar wen dit darem 6/4. Toe is dit asof die damwal gebreek het en Iga wen die derde stel gemaklik 6/2.

    Die 4de wedstryd vd dag was Fonseca vs Moller. Fonseca is net 18 jaar oud, maar baie goed. Veels te goed vir Moller (van Denemarke). Hy wen in 'n ommesientjie.

    Soos vele ander vat ons toe die pad terug huistoe. Stap na die metro stasie, ry vir 8 stoppe, soek die blou lyn se regte rigting, ry vir 2 stoppe en in 'n japtrap is ons tuis.

    Aandete is sommer oorskiet van die vorige aand en koffie. Kort daarna is dit droomland toe!
    Read more

  • Day 6

    Madrid

    April 23 in Spain ⋅ ☀️ 9 °C

    Ons is baie rustig met die opstaan en regmaak, want ons free walking tour begin eers 10:45. Ek lees toe bietjie op oor die walking tour en sien dat alhoewel dit ingesluit is by die bustoer, verwag hulle darem dat 'n mens die gids beloon met 'n fooitjie. Ons besluit dat indien dit die geval is, gaan ons maar bly by ons staatmakers van baie jare - New Europe Tours oftewel Sandeman's. Hulle toer begin 11:00 ook van die Plaza Mayor. (Moet nie fout maak, soos ek, om te dink dit verwys na die burgemeester nie. Dit is eintlik "major".)

    Ons stap rustig al met Calle de Atocha af en by meer as een pleintjie wonder ons, maar Google Maps beduie net heeltyd voorwaarts mars. Toe ons by die regte plein kom, besef ons dít moet die een wees. Dit is 'n groot plein omsingel met geboue en 'n man op 'n perd in die middel en baie mense wat rondbeweeg.

    Die man op die perd is toe Felipe III, een van die vorige konings van Spanje. As ek reg onthou is hy die een wat 'n paar Spaanse kolonies gevestig het.

    Ons gids op die staptoer is 'n Spanjaard, Sebastian. Hy praat lekker vinnig en deel 'n klomp inligting. Partykeer so bietjie onsamehangend vir my, maar ek dink ek het darem die hooftrekke gehoor. Hy eindig met 'n opsomming van 7 opeenvolgende konings en die belangrikste gebeure van hul regeringstyd. Hy gebruik lede van die groep om die konings voor te stel en sketse van die regte koning ook. Die rollespel help baie om die info te verstaan en (soort van) te onthou.

    Na die staptoer stap ons terug in die hostel se rigting. Die strate is regtig omtrent soos 'n doolhof, maar ons zig-zag tot ons in ons, nou reeds bekende Calle de Atocha kom. Ons stap verby 'n taverne wat meer lyk soos die locals se plek as 'n tourist trap en besluit op die plek om middagete daar te eet.
    Bier en focaccias met 2 verskillende vulsels is min of meer wat ons kan bekostig. Dit was heerlik en 'n baie goeie keuse, al moet ek dit nou self sê!

    Ons moet verby ons hostel, so ons gaan in en Truda gaan knip 'n klein uiltjie en ek gaan ontspan in die gemeenskaplike area. Na koffietyd val ons weer in die pad om die 2de roete van die bustoer te doen. Hierdie keer is daar darem meer inligting oor die areas waarby ons verby ry. Daar is egter baie mooi en indrukwekkende geboue waaroor geen woord gerep word nie. Foto's neem is basies onmoontlik.

    Ons stap rustig af met die wandellaan en uiteindelik terug hostel toe. Ons maak 'n draai in die supermark en koop 'n pizza wat ons kan gaarmaak by die hostel.

    Na 'n paar dae op die pad het ons 'n klompie wasgoed. Ons maak gebruik van die hostel se wasmasjien en tuimeldroër. Dis 'n baie oulike masjien - hy voeg self die waspoeier by. Ons gaan drink koffie en lees nuus in die sitkamer terwyl ons wag vir die wasmasjien.

    Nadat Truda die wasgoed oorgesit het in die droeër, sit ons die pizza in die "oond" wat soggens gebruik word om brood te rooster. Na net paar minute is aandete gereed - pizza, wortelstukkies vir slaai en yoghurt en druiwe vir poeding.

    Terwyl ons eet, is daar 'n jong man met wie ons begin gesels. Hy het moeite om te antwoord toe ons vra waarvandaan hy is. Sy pa is van Tunisië en sy ma van Italië. Hy het nou vir 'n jaar of wat in Milan studeer, maar studeer nou in Madrid. Klink my darem hy het in Tunisië groot geword. Hy praat 5 tale - Arabies, Italiaans, Spaans, Frans en natuurlik Engels. Sy ouers is ook nog Duits magtig! Hy studeer "fashion".

    Later sluit 'n Portugese dame ook by die gesprek aan. Hulle begin praat hoe veilig Madrid is in teenstelling met Lissabon wat deesdae nie meer so is nie, volgens die Portugese vrou, agv die baie immigrante. Ek kom tot die gevolgtrekking soos baie keer vantevore ook al - elke land het maar sy eie moeilikheid. Jy ontsnap dalk een probleem wanneer jy emigreer, maar loop weer 'n ander een raak in jou nuwe land.

    Na ete is ons wasgoed net mooi droog. Ons gaan maak sommer klaar om bed toe te gaan sodat ons goed uitgerus kan wees vir die hoogtepunt Donderdag - tenniskyk by die Madrid Ope!
    Read more

  • Day 5–9

    Barcelona na Madrid

    April 22 in Spain ⋅ ☁️ 12 °C

    Ons trein na Madrid vertrek om 10:00 en mens moet 'n halfuur voor die tyd daar wees. Ons is nie heeltemal seker hoe lank dit ons sal neem om by die stasie te kom nie en ons wil nie gejaagd wees nie. So natuurlik begin ons hoog betyds. 08:20 sit ons rustig in die stasie en wag om te sien by watter hek ons moet deurgaan en van watter platform die trein gaan vertrek! 😁
    Dit gee ons darem kans om boodskappe te stuur en op te vang met SA nuus.

    Die "boarding" van die sneltrein is basies net soos dié van 'n vliegtuig. Ons gaan deur 'n sekuriteitspunt, staan in 'n ry en wag dat iemand jou boarding pass kontroleer.

    Ons is in wa 11 saam met net paar ander mense - sitplekke 8A en 8B. (Later klim daar by ander stasie nog baie mense in.) Daar is baie spasie in die rak bo ons koppe, baie meer as in 'n vliegtuig s'n - ons rugsakke gly maklik in. Die sitplekke is lekker breed en gemaklik. Daar is selfs 'n kragpunt om jou foon te laai indien nodig. Die topspoed van die trein is 300 km/h, maar die spoed word heeltyd aangepas nav die omstandighede. Nog steeds is die reistyd minstens helfte in vergelyking met 'n motor/bus. Ek hou van treinry!

    Teen 300 km/h flits die omgewing vinnig verby, maar ons sien baie boerderye. Ons het beslis in wingerdarea begin, maar later meer graan en vrugtebome. Ek kan net van een plek onthou waar ons skape gesien het, verder niks veeboerderye naby die spoor nie.

    Terwyl ons ry, kry ek 'n e-pos om te sê agv tegniese kwessie is die trein met 20 min vertraag. (Ons het bietjie laat vertrek.)

    Aangekom in Madrid wil ons 'n bus neem na ons hostel. Google Maps verduidelik watter bus/busse die ding sal doen. Maar om die regte busstop op te spoor en seker te maak ons neem die regte bus in die regte rigting was meer as waaartoe ek en Truda in staat was. Ons besluit om eerder te stap. Volgens Maps is dit net 15 min en ons het teen daardie stadium seker al 15 min spandeer aan soek na die bus!

    Dit is presies hoekom ons metro verkies bo busse! By metro's is daar geen onsekerheid watter lyn of watter rigting om te gaan nie. Jy het 'n kaart (map) en kan presies sien watter lyn waarheen gaan en waar jy sal moet oorklim en die aanwysings in die stasies is (meestal) baie duidelik.

    Die meisie wat ons inboek in die hostel is baie goed. Sy verduidelik alles wat ons moet weet én oor sou wonder baie mooi volledig. Ons het 'n kamer met bunkbeddens en deel 'n badkamer met nog 'n kamer of 2.

    Ons skep bietjie asem voor ons besluit om 'n bustoer deur die stad te neem. Ons koop die kaartjies sommer online, maar ek lees nie sorgvuldig nie en die search engine optimiser funksies van Madrid Bustour is beter as die Hop On Hop Off bustoer s'n!

    Met die afstap na die (enigste) beginpunt vd die bustoer, koop ons vir ons koffie by 'n koffie-kiosk. Ons moet queue, want die jong man se produk is baie gewild!

    Daar is 2 opsies vir die bustoer - "modern or historic" Madrid. Ons beplan om die twee toere oor 2 dae te doen, want die kaartjie is geldig vir 24 uur. Halfpad deur sê ek vir Truda klink my ons is op die modern Madrid toer, want die kommentaar oor die geboue en parke en ou stadspoorte is maar min en kort. Agterna hoor ons dit was die "historic" tour! Gelukkig is daar ook 'n "walking tour" ingesluit in die kaartjie. Ons hoop om uiteindelik darem waarde vir geld uit hulle te melk.

    Op pad terug koop ons by 'n supermark aandete, yoghurt, melk en báie lekker druiwe uit Suid Afrika. By die hostel is 'n gemeenskaplike kombuis en yskas vir gaste se gebruik.

    'n Dag vol emosionele oppe en affe en jaag en wag en wonder oor goed en satisfaksie kom tot 'n einde. 'n Tipiese dag van reis in 'n land wat jy nie ken nie en afhanklik is van ander vir vervoer!
    Read more