Satellite
Show on map
  • Day 5

    Tempels, koffie, 'n vulkaan en ryslande

    April 21, 2019 in Indonesia ⋅ ⛅ 32 °C

    Ons is vroeg-vroeg op, het American breakfast op die stoep geniet, en toe gestap na die plek waar ons toerbus vir die dag ons sou oplaai - wat so effens verskuif en verwardheid veroorsaak het. Ons moet toe nog 10 minute wag want hulle stuur vir ons 'n nuwe busbestuurder, die eerste een kan nie Engels praat nie. Ons wag toe daar langs die ryslande met die koeie in en neem solank 'n fototjie of twee. Agter op die bus staan 'Free Wifi Hotspot'. Ek vra die bestuurder vir die password, hy sê daar is nie wifi nie, ek sê maar daar staan dit, hy lag en sê 'oh no, no wifi', ek sê 'is it a lie?', hy lag weer en sê 'yes'. Dit daar gelaat. Ons ry toe met ons karaoke bus met die mikrofoon maar geen skerm om karaoke van te sing (tot my ma se groot verligting) nie, na die eerste tempel vir die dag. Dis pragtig, af met trappies in 'n beboste gedeelte, met mos oral, watervalletjies, boomwortels en waterlelies. Volgende gaan ons na die Luwak koffie plantasie waar die gids vir ons klomp verskillende plante uitwys in hulle natuurlike vorm, insluitende kakao, gemmer, tumurie, peper, kaneel, ens. Hy verduidelik vir ons hoe word Luwak koffie gemaak, die Luwak (dis 'n diertjie wat in die nag aktief is en lyk soos 'n apie-kat ding), eet die beste kakao bone, wat dan deur die ensieme die kaffeïen inhoud verminder. Dit word dan na die interne verwerking (uhm) opgetel en omdat hulle net die beste bone eet en hulle spysvertering so hard werk met sy ensieme, is die koffie dan baie 'sagter' (watookal dit beteken - ek drink mos niks koffie nie). In elk geval... dis baie duur. Ons doen toe 'n koffie en tee 'tasting' wat nogal lekker is, met 'n sjokolade tasting na die tyd - gemaak met 60% kakao en die res klappersuiker. Daarna ry ons na die uitkykpunt op Mount Batur ('n vulkaan wat glo in oranje status is, wat beteken hy kan enige tyd 'erupt' - ek kan nie nou aan die Afrikaanse woord kom nie, skuus), waar ons lekker Indonesiese buffet eet en uitkyk op die berg en Batur meer. Die swart op die berg is soos die lawa geloop het met die vorige uitbarsting. Ons gaan toe na die volgende tempel, waar mens 'n sarong moet aanhê en jouself kan was en 'purify' onder sulke fonteine in 'n dammetjie ding. Die water was glo baie koud. Oral in Bali is daar heeltyd wierook wat brand en klein bamboesblare wat in mandjies gevou is waarin hulle elke kort-kort ietsie offer en altyd blomme in sit. Dit staan oral op sypaadjies en by beelde. Daar staan ook natuurlik klomp daarvan by die tempel. Daarna is ons na die rysvelde, maar die musiek in die bus vloei al lekker en almal sing so af en toe saam terwyl Annelia vir ons danspassies uitvoer. Die rysvelde is ongelooflik mooi. Ek en ma koop 'n paar goedjies en gaan sit toe en eet 'n roomys terwyl ons uitkyk op die rysvelde. Daarna kom almal huis toe en spring in die swembad en voeistof versnapperinge word genuttig. Ek, ma en Trix stap na dit na Edelweiss spa en kry voetbehandelings. Ons stel ook vir Trix bekend aan macaroons oppad terug. Nou is almal se blus uit en slaap - tot my frustrasie.Read more