Satellite
Show on map
  • Day 6

    'n Dag in Amsterdam

    June 15, 2022 in the Netherlands ⋅ ☀️ 21 °C

    Ek het 'vroeg' opgestaan (7uur) en bus en trein gery Rijksmuseum toe. Daar is nie rerig woorde wat die Rijksmuseum kan beskryf nie. Ek dink mens moet minstens 'n hele dag daar spandeer. Dis so ryk aan kuns en geskiedenis, selfs die sale is geskiedkundig. Hulle is tans besig om die Nagwag van Rembrandt te restoureer. Sjoe. Ek kan nie regtig veel sê nie, dis iets wat mens self moet beleef. En waarvoor ek moet terugkom.
    Daarna het ek vir Tiané gekry vir middagete in Amsterdam by Winkel 43, wat bekend is vir hulle appeltert. Sy praat al Nederlands soos 'n Nederlander.
    Jancke het my daar kom kry en toe loop ons bietjie deur die strate en gaan eet 'n nederlandse pannekoek. Dis 'n dikker pannekoek met appel en kaas in.
    Daarna het ons op 'n kanaal 'cruise' gegaan deur die kanale in Amsterdam. Mal interessant. Al die huise is teenaan mekaar gebou en omdat die grond so nat is sak van die dele en die huise staan skeef. Elke huis het ook 'n katrol met 'n haak aan die bokant, waar hulle in vroeër jare die speserye ens op katrol het (en nou die meubels as mense trek) sodat dit in die boonste verdiepings gestoor kon word, omdat daar so baie vloede was, want dit lê onder seevlak. 'n Klein botteltjie peper het omtrent dieselfde gekos as 'n huis. Die man wou egter nie dat ek vir hom peper bring in ruil vir 'n huis nie. How times have changed...
    Die huise het ook almal verskillende tekens in die vensters bo hulle deure. Dis gebruik vir aanwysings omdat mense nie kon lees in daai tyd nie, tot Napoleon Bonaparte begin het met huis nrs.
    Ons het toe verder deur die strate en winkeltjies geloop. By Rokin metrostasie het ons met die roltrap afgegaan, want tussen die roltrappe is 'n glaskas met alles wat hulle opgegrawe het toe hulle die stasie gebou het. Daarna het ons krokette gaan eet by Van Dobben en blommemark toe gegaan.
    Op Damplein het ek gesit en die mense gekyk, met die duiwe wat almal gelyk opstyg en in 'n sirkel vlieg terwyl 'n omie sit en saksofoon speel.
    Jancke het my daarna na die biblioteek gevat waar sy altyd gaan studeer het. Dis baie hoog, so mens kry 'n mooi uitsig van die stad.
    Ons het toe deur die rooiligdistrik gestap en huis toe gegaan.
    Read more