Satellite
Show on map
  • Day 5

    Die pad na Jerusalem

    October 6, 2022 in Palestine ⋅ ☀️ 27 °C

    Ons het via die hospitaal gery om oom Gerrie se goed te gaan uitsorteer, wat toe redelik lank vat. Oom Gerrie lyk darem baie goed. Die res van die groep gaan solank Jordaan rivier toe terwyl ek die admin doen en ek en Chris ry toe met 'n taxi tot by die groep.
    By die Jordaan gaan sit ek vinnig my voete in die water. Dis baie mooi skoon, maar die vissies kom hap jou tone.
    Van die Jordaan af ry ons na Jerigo, die oudste stad in die wêreld, wat ook die palm stad genoem word. Daar is regtig BAIE palms. En hulle dadels in amazing. Jerigo is 'n palestynse stad. Dit is deur Mark Anthony aan Clepoatra gegee as geskenk. Langs die pad is borde wat Israeli's waarsku dat as hulle lewens in gevaar is as hulle die gebied betree. Ek dink anderkantoe ook, maar ek het dit nie gesien nie.
    Die omgewing begin meer woestyn raak en oral langs die pad is klein informele nedersettings waar skaapwagters bly, ens. Daar is ook oral in die berge grotte.
    In Jerigo gaan ons na die berg van versoeking en ook die boom waarin Saggeus geklim het (alhoewel dit baie onwaarskynlik is dat die presiese boom is, maar eerder 'n soortgelyk boom). Dit was baie ongewoon vir 'n man om in 'n boom te geklim het daardie tyd, omdat hulle nie onderklere gedra het nie.
    Van daar is ons na die herdersvlakte by Bethlehem, waar die herders in grotte gebly het en na hulle skape omgesien het. Dit is hier waar die engel vir hulle gesê het van Jesus se geboorte. Daar is 'n klein winkeltjie wat klomp nativity scenes uit olyfhout het. Die grootste een kos meer as R 400 000.
    Ons is toe Jerusalem toe, maar het eers verby 'n muur gery waarop Banksy geverf het. Niemand weet nog verseker wie Banksy is nie, maar hy verf oral oor die wêreld op mure, anoniem, met 'n bietjie van 'n politieke ondertoon.
    Ek, Eleanor en Theuns het gaan aandete eet by die shuk. Dis 'n groot Joodse mark. Ons het by 'n smokehouse geëet. Bitter lekker gerookte vleis. Oppad terug het ons roomys gekry en ek wou toe nog deur die shuk loop. Eleanor wou toe saamkom, so ons loop toe nog rond en kom af op 'n tent waar klomp jode palm takke en, wat lyk soos suurlemoene, koop. Hulle ondersoek dit eers baie goed en kies dan een uit. Ons vind toe uit dis vir sukkot. Nóg 'n vakansiedag Maandag.
    Ek en Eleanor dwaal verder deur die strate en deur die joodse woongebied en oral is almal druk besig met goed, al is dit 00:00. Party huise het sulke houthuisies met seile wat aangebou word. Dit word 'n sukkah genoem en word binne versier. Dis ook vir sukkot. Hulle moet vir 'n week lank daarin eet en party mense bly daarin. Dis om die uittog uit Egipte te herdenk en hoe hulle in tydelike skuilings gebly het vir daai tydperk. Hulle maak ook 'n lulav. Dis 'n klomp takke wat saamgevleg word - 1 palm, 2 wilger en 3 mirte. Dit word dan in een hand gehou, en 'n 'etrog' (die suurlemoenerige ding) in die ander en dit word dan in verskillende rigtings beweeg terwyl hulle bid. Dit verteenwoordig sekere dele van 'n mens.
    Ons dwaal toe terug tot by ons hostel en klim so net voor 02:00 in die bed.
    Read more