Satellite
Show on map
  • Day 7

    Anchorage en dog-sledding

    January 2, 2023 in the United States ⋅ ⛅ -1 °C

    Die kamer was bietjie warm so ek word toe wakker en loop om die venster bietjie oop te maak... en sien 'n 'moose' (Google sê in Afrikaans is dit 'n Amerikaanse eland - ek gaan hou by moose) in die sneeu reg voor die venster lê. In Anchorage - in die stad. Hulle 'antlers' val af aan die einde van broei seisoen, agv hulle testosteroonvlak. Sê google. Want almal vra hoekom het die moose nie horings op nie. Hy het weggehardloop toe die honde begin blaf.
    Ons het toe 'n kar, rav4, gekry wat ons huur by die mense by wie ons bly, en gery na Middleway café om ontbyt te eet saam met Donna-hulle. Donna-hulle is die gesin by wie Dorothy vir 'n jaar gebly het as uitruilstudent. Hulle is baie oulik. Marguerite reël toe sommer vir ons dat ons die middag kan gaan hondeslee ry. Ek en tannie Sarie eet omelette met 'reindeer sausage' in, want mens moet dit glo eet in Alaska.
    Van daar af ry ons na Snowhook in Willow, waar ons gaan hondeslee ry. Die pad is baie mooi, maar binne 5 minute vandat ons afgedraai het van die hoofpad af, is dit 'n sprokieswêreld. Die foto's vang nie eers 'n bietjie van die werklikheid vas nie. Dis ongelooflik.
    Snowhook het 68 honde, waarvan omtrent 50 aktief deelneem, die ander is ou honde of te jonk. Hulle neem ook elke jaar deel aan Iditarod.
    Robin het my en tannie Sarie op 'n slee gevat. Eers het tannie Sarie voor in die mandjie gesit en ek het agterop gestaan, agter Robin. Die 'musher' staan voor en dan nog iemand agter. Dis amper soos ski's waarop mens staan, langs die kante en dan is daar 'n rem en 'n rubberplaat om hulle stadiger te maak of te stop. Ons het deur die woud gery, wat letterlik soos 'n sprokieswêreld lyk en 'n paar keer by moerasse uitgekom, wat toe gesneeu was. Die honde luister baie goed vir bevele - 'ha' beteken links en 'gee' beteken regs. En hulle luister. Dis amazing.
    Die huisies waarin die honde bly is omtrent 1 meter van die grond af, maar toe gesneeu sodat dit lyk of dit op die grond is. Dis moeilik om op sagte, 'warm' sneeu te loop, maar die koue, harde sneeu is baie lekker. Dit kraak onder mens se voete, soos fomolite.
    Ons het sulke onesie sneeupakke aangetrek, so dit was darem glad nie koud nie.
    Van daar het ons teruggery en 'n stuk in die donker gery al was dit nog nie eers 16:00 nie. Ons het by Fred Meyer gaan bestanddele koop en vir die mense by wie ons bly Bobotie gemaak. Daar was glad nie blatjang nie, en hulle ken glad nie blatjang nie, maar tannie Sarie het maar appelkooskonfyt en asyn ingesit. Dit was heel lekker.
    Read more