Satellite
Show on map
  • Day 2

    Zipline drones en die pad na Nyungwe

    August 8, 2023 in Rwanda ⋅ ☁️ 25 °C

    Hermien is siek. Sy sê sy is gesond. Maar sy jok. Sy drink darem (van) die medisyne wat ek vir haar gee. In elk geval... ons het opgestaan en ontbyt geëet by Step Town. Die vrugte is super lekker hier. Ons het net roosterbrood bestel en ons avo van gister se markie op die brood geëet.

    Ons ry toe oppad na Nyungwe woud, waar ons vanaand deurbring. Dis net 190 km, maar vat ongeveer 5 ure volgens Google Maps. Ons besef baie vinnig hoekom dit so is. Die spoedgrens is 60 km/h en vir klein dele van die pad 80. Daar is verskriklik baie karre, motorfietsies, trokke, fietse en nog wat op die pad. Ek het ook (natuurlik) ons eerste boete vir die trip gekry (vermoedelik). Die polisie het glo 'n fluitjie geblaas vir my. Ek het die geluid gehoor, maar nie besef dis wat gebeur nie, en aangery. Oh well.

    By Muhanga het ons gestop by Zipline. Dis 'n mediese drone sentrum. Hulle het ons aanvanklik nie laat ingaan nie, omdat ons nie 'n afspraak gehad het nie, maar die vriendelike hekwag gee toe 'n nommer wat ek kan bel om te hoor of ons kan ingaan. Ons praat toe met Charity en sy sê sy sal ons by die hek kom haal en 'n toer gee van die plek. Sy is 'n mediese tegnoloog en kom van Rwanda af.

    Zipline is ongelooflik. Ons was in verwondering. Dis deur 'n Amerikaner ontwerp, maar word in Rwanda aanmekaar gesit. Hulle noem die stasies waar als gebeur 'n nes, en die drones word voëlname gegee. Tans word hulle swaeltjies genoem en kan ongeveer 1.5kg se produkte op 'n slag vlieg. Die eerste nes was die een in Muhanga, maar daar is nou al 'n hele paar neste in verskeie lande.

    Bloedprodukte, noodmedisyne, of selfs geskeduleerde medisyne, asook veearts medikasies, word gevlieg na mediese fasiliteite oor die land. Daar is net 'n paar areas wat nie bereik kan word nie, so hulle produkte word dan na die naaste fasiliteit gevlieg. Die bestellings kom in as nood, roetine (vervanging van produkte wat gebruik is) of geskeduleerde bestellings. Vir nood produkte moet die bestelling binne 5 minute verpak wees en binne nog 5 minute gestuur wees. Dit word dan binne 50 minute (vir die verste plek) met 'n valskermpie laat val, volgens koördinate en die drone kom terug na die nes. Hy word dan met baie akkuraatheid deur 'n vangtou gevang aan sy stert. As die drone ongeveer 'n minuut weg is kry die nes 'n sein en word liggies rooi sodat mens nie naby die vangnet kom nie. Sodra hy dan gevang is gaan haal die drone hanteerders die drone af en haal sy vlerke af, herlaai die battery en haal die voorkant (wat van styrofoam gemaak is) af en maak dit reg vir die volgende vlug. Die batterye vat so 40 min om te herlaai as hulle basies leeg is. Die drones word uit 'n launcher geskiet, wat amper soos 'n groot kettie werk. Charity sê die drones vlieg 24 uur 'n dag, in alle weer, maar as die weer te sleg is draai die drone om en kom terug nes toe. Dit kan ook in die lug gehou word vir 'n tydjie as daar lugspasie is waar dit skielik nie kan vlieg nie, hulle noem dit holding space. Daar is 'n groot holding space naby die nes, waar klomp drones kan vlieg as te veel gelyk terugkom, en hulle kom land dan een-een, afhangende van wie se battery die laagste is. Daar is 35 drones en hulle vlieg omtrent 250 produkte 'n dag. Mens kan dit nie indink nie.

    Ons ry toe verder na Nyungwe Nziza Ecolodge, teen slakkepas. Die GPS laat ons eers in 'n klein straatjie afdraai, wat vol klein winkeltjies is, maar ons draai gelukkig om en volg die pad verder tot by Nyungwe. Ons slaap in 'n tent vanaand en daar is net koue water vir stort, maar hulle sal more vir ons 'n sleutel gee vir een van die huisies sodat ons warm kan gaan stort. Daar is egter 'n groot groep mense van Frankryk wat op motorfietse deur die land toer en hulle slaap vanaand hier, so die huisies is redelik vol.
    Ons is 2400m bo seespieël, en kan dit voel, veral met die gehoesery. Hermien klink soos 'n ou roker. Ons drink toe 'n lekker glasie witwyn op die dek en kyk uit oor die reënwoud en luister na al die geluide. Baie rustig.
    Ons gaan eet aandete by die restaurantjie en Mien bestel die grootste vis van mens se lewe. Maar dis 'n baie lekker vis. Ek eet 'n hoender sosatie en groente. Daar hardloop ook 'n groot(erige) spinnekop oor die vloer, waarvoor die een Franse meisie doodbang is, en die ander Franse meisie hom uitvat met 'n papier. Hermien sien ook 'n rot agter die tv inhardloop, maar oh well, dis afrika.
    Nou gaan ons slaap sodat ons hopelik vroeg môre wakker is om die sonsopkoms te kyk.
    Read more