Satellite
Show on map
  • Day 12

    Dag 12- Ephesus na Troy (Çannakale)

    August 17, 2022 in Turkey ⋅ ☀️ 32 °C

    Wat 'n belewenis was vandag nie... Na ons opgepak en gou ontbyt by die hotel geëet het, is ons sak en pak oppad na Ephesus. Toe ons daar inry, wys die een ou ons waar om te stop. Hy hoor ons praat en weet dadelik ons is Afrikaans en vertel ons dat hy een van Leon Schuster se flieks gekyk het. Ons koop by hom 'n boekie oor Ephesus en hy reël vir ons vervoer na die bokant van die terrein toe. Hy sê ons moet 10 minute wag en toe daag ons perde en perdekar op! So oulik! Die ou hanteer sy perde baie mooi en ons geniet die rit vreeslik baie! Ons het oorspronklik gedink met die boek is 'n gids nie nodig nie, maar het toe besluit om een te kry. Ons is definitief nie spyt nie! So het ons deur die Ou Stad geloop en vreeslik baie interessanthede geleer. Hulle is nog besig met opgrawings en daar is van die goed wat sommer 'n week of twee gelede nog gevind is. Mens kan ook sien hoe hulle staan en skoonmaak en opgrawe en tekere gaan. Dis besonders! Na ons deur die Stad was, het ons toergids saam ons gery om geld te trek, aangesien hy kontant wou hê en ons nie gehad het nie. Hy vat ons toe gou by 'n leerfabriek in waar hulle vir ons 'n klein modeparade hou. Shame, die arme ou kry seker kommissie op die items wat verkoop word en het seker gedink ons het baie geld. Die items is ongelooflik mooi en word van skaap- en bokleer gemaak, so dis vreeslik sag en lig. Dis net jammer die pryse is so... R25 000 min of meer per item! Selfs die wat op uitverkopings is, is om en by R10 000. Die gids het so ewe vir Damian in die kar gesê toe ek uitgehop het om geld te trek, dat hy kan sien ek is lief vir hom, maar net so 80% lief vir hom... Maar hy sal sien, as hy vir my ietsie by die plek koop, sal ek 100% lief wees vir hom! Haha! Nee! Van daar het ons weer die gids gaan aflaai en is ons na Moeder Maria se huis toe. Dit word gesê dat dit die laaste plek van woning vir haar was voor sy oorlede is. Dis op 'n baie rustige berg, tussen klomp bome. Mens mag glad nie foto's neem as mens deur haar huisie stap nie en word ook nie toegelaat om te praat terwyl mens daardeur stap nie. Mens kan 'n kersie buite opsteek vir 5 TL elk en ons het toe so gemaak. Van daar af het ons toe gery Çannakale toe, wat naby Troy is. Ons het ons baie oulike woonstelletjie vir die aand gekry en het toe rustig op die Promenade gaan stap en aandete gekry. En dit was die som totaal van ons Dag 12...
    Baie liefde en groete
    Read more