Satellite
Show on map
  • Day 4

    Al die draaie na Besakih temple

    January 23, 2023 in Indonesia ⋅ ⛅ 24 °C

    Rulanda: Bietjie stadig uit die weg spring blokke, oppad na die "great Temple- Besakih"

    Ons het vandag besluit om 'n motorfiets/poeggie, of soos die locals dit hier noem: 'n "Moped" te huur. Helmet op, handsoeken aan, (te swaar) tassie gepak en ons reg om rol, maar moterfiets wil nie lekker aan skakel nie! Ons moes toe al geweet het...

    Die noue, styl paaie vanaf Candidasa na Besakih tempel vat jou eers deur ruig tropiese woud, met asemrowende uitsige wat hier en daar deur die volgende stuk groen flits om net weer weg te kruip agter enorme varings en piesangbome.

    Die paadjie op teen die berg is nou, steil en spog op sekere dele met afgronde aan beide kante. Mens moet maar jou oë genael hou op die pad want die spaghetti draaie is maar 'n waagstuk om te trotseer vir twee enorme mense met net 125 cc tot hulle gesamentlike beskikking.

    Soos ons deur die "dorpies" ry sien ons dat die Indonesiese mense hard aan die werk is. Meestal in die reisvelde sowel as verskeie vases van klip verwerking en beeldhouwerk.

    Dis indrukwekkend hoe vaardig die volk met hul hande is. Hier en daar is ons by 'n skool verby met kinders wat klip hard en vriendelik hallo skree en vir jou waai asof jy 'n koninklike is, maar jy besef vinnig jy is maar net 'n gewone mens, wanneer die lokals skrams veby jou skuur op die noue paaie.

    30min, en slegs 15km later oor die kronkel paaie besef ons, dis honger werk dié, en die soektog vir 'n eet plek begin. Dis aansienlik moeiliker as wat mens dink siende dat die bordjies nie Engels is nie. 🙃

    Ons slaan 'n gelukkie op een van die draaie langs die hoof pad êrens tussen niks en nêrens, so in die vou van die heuwel langs 'n slap draai in die pad sien ons toe wat duidelik lyk na een of ander kos plek moet wees.

    Die oop/stoep hout struktuur wat aan die eienaar se huis grens, kyk uit op omliggende reis terasse. Die vriendelike eienaar bedien toe vinnig vir ons hoender sop met rys en 'n vervrissende lemoen dakkie vir 115k Rupiah. Hy wag toe tog so ewe geduldig totdat ons eers klaar geëet is voor hy begin uit vra oor ons nationaliteit, waarheen ons oppad is en waar ons bly.

    Hy stel toe voor dat ons al die mense in tradisionele drag volg siende dat hulle oppad is na die einste Besakih tempel vir 'n seremonie te ere van hulle voorvaders.

    Ten spyte van nog 'n paar verkeerde draaie, was die advies goed en ons bevind onsself aan die voet van berg waar die seremonie in volle swang is. Almal parkeer, so ons parkeer toe natuurlik ook. Dis net karre en poegies, neus tot bak soos sardientjies in 'n blik.

    Corné: Ons bevestig dat alles mooi af is en gesluit is, die egte Suid Afrikaner ontdooi nie so vinnig nie. Selfs nie in die Indonesiese hitte nie. So begin die 400m stap na die ingang (volgens strava 140m klim... Dit het gevoel soos 800m, dit was so styl.)

    Corné huur toe 'n sorong by 'n vrou, wie toevallig buite haar huis besig was om wasgoed was. Ek is oortuig sy het net haar mansin uit die kas gaan haal en die seun help Corné om dit gepas aan te trek.

    Hoe nader mens aan die tempel kom hoe meer probeer mense onnodige goed aan jou verkoop. Teen die tyd wat ons die tempel betree het ons 'n belt, tradisionele hoedjie, en amper 'n ook blom offer en Balinese kindjie gekoop.

    Die ingange fooi was 120k rupea en sluit 'n local gids in. Ons gids, 'n 68 jarige man, het vir ons fotos geneem, sy kennis oor die tempel en die geskiedenis gedeel en baie fliks gestap... Ons was verbaas toe ons sy ouderdom hoor.

    Rulanda: Om ons het 'n see van mense met hul kos, tradisionele drag en "offering" gewemel en weer voel ons soos koninglikes, elke paar tree is daar iemand wat graag wil weet wie ons is en van watse land besoek ons hulle. Elke tempel het 'n unieke beeld/god/styl en die beeldhouwerk is besonders. My hart is so bietjie seer om te dink dat geen van dié mense die Here ken nie. Ek kan nie help om te wonder of ons Christene miskien net die helfte van ons tyd in gebed/ aktiewe deelname in ons godsdiens spandeer, soos die nasie doen, sou die wêreld miskien 'n beter plek gewees het?

    Corné: Soos dit altyd maar gaan in elke goeie storie, moet die held êrens op sy reis gekonfronteer word met 'n smaakie teëspoed. Dit is toe juis só dat, na die afloop van ons tempel besoek, dit ons beurt is. Min te wete bemaak ons eers my geleende bekleedsel terug aan die gawe tannie wie se man die oggend met ontblote bene moes spandeer en weef ons deur die feesskare terug na ons ysterponie.

    Son gebakte swart hoof bedeksel terug op die kop (altyd veiligheid eerste), al 'n geruime tyd aan die op warm, is nou op grill gestel teen 200 grade celcius. Na tien sekondes kan ek verseker sê my harsings is goed aan die gaar bak. Nie eers gepraat van die sitplek of ander kritiese anatomie nie!

    Die parkeer terrein waar ons onself bevind het was ook aan die onderkant van 'n groot sloot en die pad terug op na die hoofweg kwaai verspoel. Dis so dat Rulanda besluit om solank op te stap en ek sal haar natuurlik, na die klein stukkie 4x4, bo-op die heuwel kan oplaai.

    Sodat sy, soos dit 'n dame mos pas, die wilder en minder beskaafde aspekte (lees: modder en moontlike liggaamlike beserings) van 'n klein motorfiets in Indonesië ry, kan vermy.

    Maar die ding wil net nie aan nie! Ek maak dubbel seker alle knoppe is geknop en al wat in ding is is gedraai, maar die ponie skop vas. Nou is my gat al in die verkeer laan en die skare vloei al effe geïrriteerd verby my. Gelukkig is dit nie eers 5 minute nie en ek het 'n persoonlike skare om my kaskar kaskenades te kom aanskou.

    Hier is waar ek wel moet bieg, die Balinese mense was verskriklik vriendelik en behulpsaam. Nie een wie gestop het was eintlik ontsteld gewees nie. Elke liewe mens wou net seker maak of ek reg kom en ook self probeer om my te help om die ding aan die gang te kry. Dit was nie eers 15 minute nie voor twee jong mans my teen die heuwel op help, met 'n bietjie perdekrag van 'n 50cc Yamaha, en na 'n skaduryke parkeerterrein lei.

    Gelukkig het ek die huurooreenkoms biljetjie by my gehou en ons redders was so gaaf om te bel en met die eienaar te reël om ons te kom red. Selfs toe ons hulle wou bedank met 'n fooitjie wou hulle niks weet nie. Ware barmhartige Samaritane.

    Skaars 'n uur en knippie later, na 'n welverdiende tog gedwonge vertoefing op die naat van ons rûe aan die voet van 'n tempel, was ons oppad terug huis toe op 'n nuwe bromponie.

    Rulanda: Ons pak toe die kronkel pad weer aan en stop plek plek vir fotos.
    Corné het vinnig sy vernuf agter die stuur bewys en dieselfde pad wat ons die oggend amper 'n uur en 'n half geneem het en my 'n maagseer gegee het, voel toe skielik baie korter en meer pret (geen tweede maag seer nie). Selfs die afdraand terug na Candidasa was nie so vreesaanjaend soos ek myself verbeel het hulle sou wees nie. Gelukkig het Corné niks van die voorste briek wat oor verhit het aan my genoem totdat ons veilig weer terug gekeer het na seespieël vlak nie.

    Ons is toe 16h by Karma en spring toe so vinnig soos ons kan in ons swemklere en in die see. Suid-Afrika kan maar trots wees oor ons strande, dit is besonders mooi en skoon. In die 5min strand swem, het ons 'n paar stukke plestiek, bottels en 'n teesakkie tee gekom, so woeps was ons toe weer eerder in die hotel swembad in.

    Om 17h draf ons toe af in die straat na die massage salon vir 'n ongelooflike 60 minute vol liggaam massering.

    Om 18h30 is ons weer by die swembad vir 'n "braai" en Balinese dans konsert. Ons buitelandse maatjies het lekker saam met ons geëet en kuier en ons was so bly toe ons die Deense paartjie kon oortuig om Suid-Afrika te besoek. Dis rêrig vir ons baie lekker in Bali en ons is ongelooflik dankbaar vir die voorreg om die land te verken, maar Suid-Afrika bly huis en maar net oor die algemeen pretty awesome.
    Read more