Bali 2023

January - February 2023
Ons eerste oorsee se avontuur saam Read more
  • 14footprints
  • 3countries
  • 17days
  • 178photos
  • 1videos
  • 14.6kkilometers
  • 14.0kkilometers
  • Day 2

    Doha - Bali

    January 21, 2023 in Qatar ⋅ ☀️ 17 °C

    Rulanda: Ons vlug uit Doha het geen probleem opgelewer nie. Ons sou natuurlik nog bietjie op die lughawe wou rond loop, maar Bali het ons geroep... (Avontuur, rus en vrede)

    Net 8ure en 46min van ongemaklike sit, Corné se skouer misbruik as 'n kussing en kort-kort op die kaart kyk, of ons enigsins al nader is... Okay okay ek oordryf. Dié vlug was wesenlik beter as die eerste een, die passesiers om ons was vriendelik en ons was minder beknop, maar lank wees is nie voordelig in 'n vliegtuig nie.

    Travelers tip: moenie op ry 25 sit nie, jy het laaste toegaan tot die kulinêre karkas en moet maar eet wat oor is...urgh tofu!

    Ons het die geleentheid gevat om 3300ft in die lug 'n kelkie te klink op die jaar wat verby is, met al sy uitdagings, asook op die toekoms. Ons vertrou op die Here, weet sy hand is oor ons lewe.

    Corné: Die avondslus laat nou al my boude juk, al is hulle lam gesit, of dalk is dit die vroeë tekens van reisigersmaag. In ieder geval is ek bly ons reis sover was sonder enige groot voorval.

    Soos ons uit die hemel af neer daal om in die see van liggies te land kan ek al klaar die sand tussen my tone voel. Last stretch.
    Read more

  • Day 3

    Lui lekker by die see

    January 22, 2023 in Indonesia ⋅ 🌧 28 °C

    Vanoggend het ons lekker laat gelê (10am) te danke aan sondigte gordyne. (Die son het wel so lekker geskyn en ons was so klein bietjie spyt)

    Corné moes kort na sy ontwaking, sy lock-picking skills beoefen en my tas oop kry, want vanoggend 02:30 kon nie een van ons dit oop kry nie. (Ons het die pin verkeerd gehad) Gelukkige het Penny my adviseer om die klere tussen die twee tasse te verdeel, so ons het geweet ons sal okay wees as ons nie dadelik die tas oop kry nie. (Great tip!)

    Toe ons uiteindelik op en aan die gang kom, was die eerste plan om kos te kry. Ons het 'n baie smaaklik Balinese ontbyt gehad. Die mense hier is besonders vriendelik en hulpvaardig.

    Dié nuuskierigheid was net te groot so ons stap toe so 2km om die omliggende gebied te verken. Die graslande en natuur gebied is besonders mooi, maar wat vir my uitgestaan het was hoe roekelose die mense op hulle poeggies is, geen helmet, 2-3 mense per voertuig, geen beskerming, plakkies... Eks bly ons werk nie hier nie, want ek kan dink die trauma gevalle wat in kom is rof.

    Na 'n rustige middag by die swembad met die see voor ons uitgestrek, het ons bietjie begin beplan aan die week se avonture... Ons sien baie uit vir die week!

    Die aand is afgesluit met canapés en wyn saam met die gaste van Royal Chaddidasha. Ons het mense van verskeie nationaliteiete ontmoet. (Barbara en David - Kanada , Susan en Peter - Denmarke, John en Penny - Italië, en 'n paar ander van Australië en Indië.)

    Corné het natuurlik die aand in die swembad afgesluit.
    Read more

  • Day 4

    Al die draaie na Besakih temple

    January 23, 2023 in Indonesia ⋅ ⛅ 24 °C

    Rulanda: Bietjie stadig uit die weg spring blokke, oppad na die "great Temple- Besakih"

    Ons het vandag besluit om 'n motorfiets/poeggie, of soos die locals dit hier noem: 'n "Moped" te huur. Helmet op, handsoeken aan, (te swaar) tassie gepak en ons reg om rol, maar moterfiets wil nie lekker aan skakel nie! Ons moes toe al geweet het...

    Die noue, styl paaie vanaf Candidasa na Besakih tempel vat jou eers deur ruig tropiese woud, met asemrowende uitsige wat hier en daar deur die volgende stuk groen flits om net weer weg te kruip agter enorme varings en piesangbome.

    Die paadjie op teen die berg is nou, steil en spog op sekere dele met afgronde aan beide kante. Mens moet maar jou oë genael hou op die pad want die spaghetti draaie is maar 'n waagstuk om te trotseer vir twee enorme mense met net 125 cc tot hulle gesamentlike beskikking.

    Soos ons deur die "dorpies" ry sien ons dat die Indonesiese mense hard aan die werk is. Meestal in die reisvelde sowel as verskeie vases van klip verwerking en beeldhouwerk.

    Dis indrukwekkend hoe vaardig die volk met hul hande is. Hier en daar is ons by 'n skool verby met kinders wat klip hard en vriendelik hallo skree en vir jou waai asof jy 'n koninklike is, maar jy besef vinnig jy is maar net 'n gewone mens, wanneer die lokals skrams veby jou skuur op die noue paaie.

    30min, en slegs 15km later oor die kronkel paaie besef ons, dis honger werk dié, en die soektog vir 'n eet plek begin. Dis aansienlik moeiliker as wat mens dink siende dat die bordjies nie Engels is nie. 🙃

    Ons slaan 'n gelukkie op een van die draaie langs die hoof pad êrens tussen niks en nêrens, so in die vou van die heuwel langs 'n slap draai in die pad sien ons toe wat duidelik lyk na een of ander kos plek moet wees.

    Die oop/stoep hout struktuur wat aan die eienaar se huis grens, kyk uit op omliggende reis terasse. Die vriendelike eienaar bedien toe vinnig vir ons hoender sop met rys en 'n vervrissende lemoen dakkie vir 115k Rupiah. Hy wag toe tog so ewe geduldig totdat ons eers klaar geëet is voor hy begin uit vra oor ons nationaliteit, waarheen ons oppad is en waar ons bly.

    Hy stel toe voor dat ons al die mense in tradisionele drag volg siende dat hulle oppad is na die einste Besakih tempel vir 'n seremonie te ere van hulle voorvaders.

    Ten spyte van nog 'n paar verkeerde draaie, was die advies goed en ons bevind onsself aan die voet van berg waar die seremonie in volle swang is. Almal parkeer, so ons parkeer toe natuurlik ook. Dis net karre en poegies, neus tot bak soos sardientjies in 'n blik.

    Corné: Ons bevestig dat alles mooi af is en gesluit is, die egte Suid Afrikaner ontdooi nie so vinnig nie. Selfs nie in die Indonesiese hitte nie. So begin die 400m stap na die ingang (volgens strava 140m klim... Dit het gevoel soos 800m, dit was so styl.)

    Corné huur toe 'n sorong by 'n vrou, wie toevallig buite haar huis besig was om wasgoed was. Ek is oortuig sy het net haar mansin uit die kas gaan haal en die seun help Corné om dit gepas aan te trek.

    Hoe nader mens aan die tempel kom hoe meer probeer mense onnodige goed aan jou verkoop. Teen die tyd wat ons die tempel betree het ons 'n belt, tradisionele hoedjie, en amper 'n ook blom offer en Balinese kindjie gekoop.

    Die ingange fooi was 120k rupea en sluit 'n local gids in. Ons gids, 'n 68 jarige man, het vir ons fotos geneem, sy kennis oor die tempel en die geskiedenis gedeel en baie fliks gestap... Ons was verbaas toe ons sy ouderdom hoor.

    Rulanda: Om ons het 'n see van mense met hul kos, tradisionele drag en "offering" gewemel en weer voel ons soos koninglikes, elke paar tree is daar iemand wat graag wil weet wie ons is en van watse land besoek ons hulle. Elke tempel het 'n unieke beeld/god/styl en die beeldhouwerk is besonders. My hart is so bietjie seer om te dink dat geen van dié mense die Here ken nie. Ek kan nie help om te wonder of ons Christene miskien net die helfte van ons tyd in gebed/ aktiewe deelname in ons godsdiens spandeer, soos die nasie doen, sou die wêreld miskien 'n beter plek gewees het?

    Corné: Soos dit altyd maar gaan in elke goeie storie, moet die held êrens op sy reis gekonfronteer word met 'n smaakie teëspoed. Dit is toe juis só dat, na die afloop van ons tempel besoek, dit ons beurt is. Min te wete bemaak ons eers my geleende bekleedsel terug aan die gawe tannie wie se man die oggend met ontblote bene moes spandeer en weef ons deur die feesskare terug na ons ysterponie.

    Son gebakte swart hoof bedeksel terug op die kop (altyd veiligheid eerste), al 'n geruime tyd aan die op warm, is nou op grill gestel teen 200 grade celcius. Na tien sekondes kan ek verseker sê my harsings is goed aan die gaar bak. Nie eers gepraat van die sitplek of ander kritiese anatomie nie!

    Die parkeer terrein waar ons onself bevind het was ook aan die onderkant van 'n groot sloot en die pad terug op na die hoofweg kwaai verspoel. Dis so dat Rulanda besluit om solank op te stap en ek sal haar natuurlik, na die klein stukkie 4x4, bo-op die heuwel kan oplaai.

    Sodat sy, soos dit 'n dame mos pas, die wilder en minder beskaafde aspekte (lees: modder en moontlike liggaamlike beserings) van 'n klein motorfiets in Indonesië ry, kan vermy.

    Maar die ding wil net nie aan nie! Ek maak dubbel seker alle knoppe is geknop en al wat in ding is is gedraai, maar die ponie skop vas. Nou is my gat al in die verkeer laan en die skare vloei al effe geïrriteerd verby my. Gelukkig is dit nie eers 5 minute nie en ek het 'n persoonlike skare om my kaskar kaskenades te kom aanskou.

    Hier is waar ek wel moet bieg, die Balinese mense was verskriklik vriendelik en behulpsaam. Nie een wie gestop het was eintlik ontsteld gewees nie. Elke liewe mens wou net seker maak of ek reg kom en ook self probeer om my te help om die ding aan die gang te kry. Dit was nie eers 15 minute nie voor twee jong mans my teen die heuwel op help, met 'n bietjie perdekrag van 'n 50cc Yamaha, en na 'n skaduryke parkeerterrein lei.

    Gelukkig het ek die huurooreenkoms biljetjie by my gehou en ons redders was so gaaf om te bel en met die eienaar te reël om ons te kom red. Selfs toe ons hulle wou bedank met 'n fooitjie wou hulle niks weet nie. Ware barmhartige Samaritane.

    Skaars 'n uur en knippie later, na 'n welverdiende tog gedwonge vertoefing op die naat van ons rûe aan die voet van 'n tempel, was ons oppad terug huis toe op 'n nuwe bromponie.

    Rulanda: Ons pak toe die kronkel pad weer aan en stop plek plek vir fotos.
    Corné het vinnig sy vernuf agter die stuur bewys en dieselfde pad wat ons die oggend amper 'n uur en 'n half geneem het en my 'n maagseer gegee het, voel toe skielik baie korter en meer pret (geen tweede maag seer nie). Selfs die afdraand terug na Candidasa was nie so vreesaanjaend soos ek myself verbeel het hulle sou wees nie. Gelukkig het Corné niks van die voorste briek wat oor verhit het aan my genoem totdat ons veilig weer terug gekeer het na seespieël vlak nie.

    Ons is toe 16h by Karma en spring toe so vinnig soos ons kan in ons swemklere en in die see. Suid-Afrika kan maar trots wees oor ons strande, dit is besonders mooi en skoon. In die 5min strand swem, het ons 'n paar stukke plestiek, bottels en 'n teesakkie tee gekom, so woeps was ons toe weer eerder in die hotel swembad in.

    Om 17h draf ons toe af in die straat na die massage salon vir 'n ongelooflike 60 minute vol liggaam massering.

    Om 18h30 is ons weer by die swembad vir 'n "braai" en Balinese dans konsert. Ons buitelandse maatjies het lekker saam met ons geëet en kuier en ons was so bly toe ons die Deense paartjie kon oortuig om Suid-Afrika te besoek. Dis rêrig vir ons baie lekker in Bali en ons is ongelooflik dankbaar vir die voorreg om die land te verken, maar Suid-Afrika bly huis en maar net oor die algemeen pretty awesome.
    Read more

  • Day 5

    1700 trappies en baie vrae

    January 24, 2023 in Indonesia ⋅ ⛅ 25 °C

    Ten spyte van baie volledige (5 minute op YouTube) navorsing, het ons vanoggend vinnig uit gevind dat Gojek, Balinese Uber, nie gereeld Candidasa dienste lewer nie. Die area is aansienlik meer landelik as wat ons besef het. So, ten spyte van ons smag na lugversorging, begin dag twee weer agter 'n poegie.

    Die pad na Lempuyang temple het aansienlik minder draaie en vertikale klimme gehad. Ons bromponie was in 'n baie beter bui na hoe ons hom die vorige dag misbruik het.

    Die pad neem ons deur 'n stedelike deel waar 'n mens meer moderne winkels sien en selfs 'n straatlig of twee tee kom. Byna elke sirkel is met een of ander massiewe standbeeld getooi. Weereens is die beeldhouwerk iets om te aanskou, al val die res van die plek so bietjie uitmekaar uit. Na 'n paar sirkels is ons weer skielik tussen die rysterrase en landelike gehuggies.

    Ons is vandag aan die anderkant van Mount Agung. Die humiditeit is bietjie meer draaglik vandag. Na min of meer 30 minute se ry, arriveer ons by die parkeer area van Lempuyang. (Hier betaal jy 50k Rp vir die parkering sowel as 'n bussie tot by die tempel, maar voor jy mag betaal, vra die vriendelike Balinese vrou of dit jou maanstonde is, want jy mag nie die tempel betree as dit is nie.)

    Ons besluit toe om eers ontbyt te eet. Ons het gedink ons het sticky rice met eier bestel, ons het egter sticky rice met hoender gekry. Ek dink daar moes 'n mis kommunikasie gewees het tov. die biologiese fase van die hoender wat ons bestel het. Ons het dit seker maar in toekomende tyd bestel het. Dit was gelukkig ongelooflik smaaklik.

    Corné: Uiteindelik is ons in die bussie. Die kronkel pad op na die tempel begin stadig en met 'n groot gekreun soos die Mitsubishi diesel hoes om homself in die regte rat vir die steilte te kry. Voor elke draai, gee die bestuurder 'n ligte toet om die komende verkeer te waarsku, want weens die digte bos en noue paadjies kan mens nie ver vooruit sien nie. Soos ons hoër en hoër beweeg sien jy versteekte huisies tussen die tropiesewoud.

    Rulanda: Ons sit en wonder: wat doen die mense vir 'n inkomste en wat het hulle laat besluit om op die berg te kom bly het. 'n Hele paar haarnaalddraaie later, is ons aan die voet van die tempel. Met "formele" gewaad om die kuite. Ons besigtig vinnig die tempel kaart. Alles lyk so naby aan mekaar geleë! 'n Stappie is mos goed vir die bloedsomloop.

    Corné: Die eerste voorsmaak van wat kom is die stukkie pad van die aflaai punt tot by die tempel se ingang. Die afstand is ongeveer 300 meter en relatief steil, maar tog doenbaar. Die steil pad en bedompige hitte ly daartoe dat jou klere binne 'n paar minute aan jou lyf vas klou. 110k Rp later en ons is oppad op na die eerste tempel.

    Voor jy die tempel betree is daar 'n reiniging seremonie. 'n Jong Balinese vrou seën ons met heilige water en ons betree die tempel, buitelanders mag glad nie die binne tempel betree waar die Balinese mense bid nie. Die groot buite hof het drie massiewe trappe wat op ly na die binneste hof weerskante is langwerpige platforms waar mense in die skaduwee kan sit. Dié platforms is gevul met besoekers wat die econiese "gates of Heaven" foto wil neem. Saam met jou kaartjie kry jy 'n nommer om 'n foto te neem, en al lyk die foto besonders, is ons eintlik hier om die berg uit te klim.

    Na 'n paar minute van ons self verkyk ons aan die beeldhou werk en 'n paar foto's later, besluit om ons stap tog tot bo op die berg te begin. Ons sal later hoor of ons miskien 'n foto kan neem. Ons is nommer 163 en hulle is tans op 90 en daar blyk geen haas aan die proses nie. "Next pose, next pose, next pose, next pose!" Die fotograaf het die wêreld se geduld en elke groepie kan hulle foon heeltemal vol fotos neem as hulle wil, voor dit die volgende se beurt is. Ons neem aan ons gaan maar dié geleentheid mis.

    'n Verdere 800m op, teen wat voel soos 'n 60 grade helling teer wat soos 'n stoofplaat ons van onder af kook, is ons uiteindelik by die eerste trappie van die kompleks wat lei tot die bo op die berg. Daar is 6 tempels in die area en die hoogste een is glo 1700 trappies teen die berg op.

    Die mos begroeiende trappe kronkel teen die berg op, oor stroompies en verby stalletjies waar jy 'n piesang en water vir 20k Rp kan kry. Bietjie duur, maar ek (Corné) is bly ek hoef nie die swaar vrag self teen die berg op te gekarwei het nie.

    Die pragtige voël klanke hou 'n mens geselskap terwyl jou gedagtes begin dwaal. Jy bevind jouself moeilike vrae vra, die eerste een: hoekom wil ek so graag die berg klim, niemand verwag dit van my nie? Hoekom was 2022 so moeilike jaar? Maak ek werklik genoeg tyd vir die dinge wat vir my belangrik in die lewe is? En nog vele meer. Tussen die worsteling in my gedagtes en die sweet wat my liggaam af tap is daar 'n mate van verlossing wat oor my kom en teen die tyd wat ons die hoogste punt bereik is ek en Corné hardop besig om te getuig hoe groot ons God is en hoe geseënd ons is met gesondheid en familie.

    Die wolke het intussen begin instoot en die hoogte bo seevlak lui daartoe dat daar 'n stilte oor die tropiese woud val. Uiteindelik bo! Dit lyk of ons in ons klere geswem het! Ons verken so bietjie, neem natuurlik fotos, en sug van verligting dat die optog verby is. Sonder dat ons dit onmiddelik besef los ons die vrese en swaarkry van 2022 op die berg en die wolke trek vir 'n skrampse oomblik oop en ons kan die vertes oor die eiland uitkyk tot waar die oseaan die horison omhels.

    Tyd vir die aftog en aan die voet van die berg is voel ons harte ligter.

    Die hele staptog neem ons ongeveer 2ure en 45 minute (teenoor die, 4 ure wat aanbeveel is) en ons stop weer by die eerste tempel om te hoor of miskien 'n vinnige foto kan neem. Hulle is toe eers by 161 en binne 5min was dit ons beurt (163). Ons sou defnetief nie so lank gewag het om dié foto te neem nie, maar ons is baie dankbaar dat die tydsberekening so perfek uitgewerk het dat ons tog dié econiese foto kon geneem het.

    Weer terug op die poegie en oppad na ons verblyf. Ons stop langs die pad vir 'n biertjie vir Corné en 'n sjokolade melkskommel vir my. Die eet plekkie, Dee Carik, kyk uit oor rysterrase en 'n koidam. Dis salig om daar te sit.

    In die dorpie Candidasa vind ons 'n IndoMart en koop 'n paar basiese items. Noodles vir middagete, koeldranke, skyfies ens. Uiteindelik terug by ons verblyf. Dit is tyd vir 'n middag swem en slaapie voor ons aandete gaan soek. Die dag het sy tol geëis.

    Verfris na die slapie is ons terug op die bromponie. Ons parkeer by 'n klein markie reg langs die kus en verken die omliggende omgewing. Neem 'n foto op 'n uitkyk, Corné bestel vir hom aandete en ek drink 'n mixed fruit smoothie. Ons kyk hoe die son in die see in sak.

    'n Goeie dag.
    Read more

  • Day 6

    Strand stappies, koffie proe en afdraaie

    January 25, 2023 in Indonesia ⋅ 🌧 27 °C

    Vanoggend het ons bietjie laat geslaap. Na die afgelope twee dae se opwinding is dit baie welverdiend. Ek het gisteraand bietjie begin sleg voel, Corné is oortuig dis hitte uitputting, en vanoggend het ek 'n toe neus en 'n seer keel. Voel soos 'n verkoue, maar dis dan so warm hier. Gelukkig is daar min wat 'n goeie slaapie en medlemon nie kan genees nie.

    Ons ontspan meeste van die oggend by die swembad en waardeer die salige klanke van die see se eb en vloei. Na ons oggend-middag slaapie het ons weer nuwe lus vir verken. Ons het travel bugs, nie bedbugs nie!

    Ons raak defnitief nou hans met die bromponie, Corné vat die draaie 'n bietjie vinniger en ek begin meer gemaklik voel om 'n video of twee van agter af te neem.

    Ons ry stop stop deur die landelike gebiede en verkyk ons weereens aan die uitsigte. Die knersgroen rysvelde in netjiese boksies omhul deur wolkbedekde berge in die verte. Na 'n paar afraaie en 'n vinnige stappie op die swart strand stop ons by 'n koffie plaas. Die enjin is skaars af of 'n vriendinlike Balinese vrou, genaamd Pana, groet en begelei ons die plantasie in.

    Sy neem ons op 'n gratis toer deur die koffie plantasie en wys vir ons plek plek hoe die koffie op die tradisionele wyse gemaak word. Hie en daar kan ons self ook deel neem! Sy vertel ons van die Balinese koffie (dis die algemene koffie wat ons elke oggend hier in Bali drink) sowel as van dié Luwak koffie. Die ryp koffiebone word in die aand deur 'n "Mongoose" geëet en dan in hulle feses uitgeskei.

    Daarna word die bone skoon gewas en vir 5 dae uitgedroog, vir 'n uur en half oor lae hitte gerooster en dan met die hand vir 20 minute fyn gemaal word. (Die tradisionele manier is al in tussen vervang met 'n meer koste effektief metode, wat nie so interessant is om te wys nie)

    Na die toer word ons na die proe lokaal,' n groot oop stoep met tafels wat omring is deur die koffie bome, begelei. Pana bring vir ons verskeie koffie en teë, 16 in totaal, om te proe. Corné bestel 'n Luwa kopi vir die ervaring. Alles is smaaklik, wel Corné sal nie saam stem nie, die arme man hou maar net niks van die gemmer tee. Ons sit in die rustigheid van die koffie plaas en luister na die wind wat deur die tropiese woud en koffie bome sing. Alles was verniet so ons koop toe 'n sak van ons gunsteling tee ter ondersteuning.

    Ons ry verken nuwe afdraai paaie en Corné vind 'n pragtige eet plek in die middel van 'n rys veld. Ons eet smaaklike hoender noodles en reflekteer oor ons avontuur. Ons gebruik die geleentheid om die ouers te bel en wens saggies hulle kon saam met ons toer.

    Die res van die aand is langs die swembad spandeer, met ons Deense maatjies. Hulle is nou amptelik aan boord om Suid-Afrika te kom sien. Dis 'n lieflike aand en verskeie staaltjies is gedeel.
    Natuurlik word Anto-sus gebel vir haar verjaarsdag.

    Nog 'n pragtige dag,
    Read more

  • Day 7

    'n Pragtige uitkyk

    January 26, 2023 in Indonesia ⋅ ☁️ 24 °C

    Vanoggend jaag Corné my uit die bed om 'n glo rustige stappie tot by 'n mooi uitkykpunt aan te pak. Ons het die afgelope paar dae by dié spesifieke tempel verby gery, die beeldhouwerk van die enorme hekke wat die ingang raam is vreeslik mooi, maar dit is die uitsig wat ons gelok het.

    Ons parkeer die bromponie aan die voet van die tempel en trek ons gepaste sarongs aan. Daar is niemand wat 'n toegang fooi vra nie, dis nog te vroeg. Ons begin die trappies klim tot by die ikoniese "hek" en sien met eens hierdie is glad nie wat ons verwag het nie! 'n Steil trap padjie loop ons vooruit, op en op teen die berg. Eg Balinese "steil". Oorals om ons is a aapies, met eens sit my hart in my keel. 'n Kleiner, moontlike "tiener" aapie beweeg skielik bedreigend nader en ek klap my hande en maak myself groot en skielik glimlag hy met gesluipde slagtande. 'n Harde gil onstap my mond en ek trippel op een plek: "Liefie! Liefie! Liefie!" Woeps is die aapie weg en Corné lag vir my.

    Corné, my held, loop toe vir die res van die pad tussen my en die aapies. Stok in die een hand om hulle te verjaag en kamera in die ander om hulle te probeer afneem. Die inwendige tweestryd speel oor sy gesig elke keer as ek 'n piep gee net soos hy 'n kiekie wil neem.

    So ongeveer 500m verder nader ons 'n volgende trop aapies. Iewers tydens die stap tog het Corné sy stok neer gesit en ek het dit opgetel. Daars 'n groter mannetjie wat Corné bekyk. Corné stop en maak homself groot, maar dit skrik die knaap nie af nie, die aapie lyk of hy nog 'n paar treë nader aan Corné gaan vat, tande gebaar en met eens storm ék met my stok die op aap af! Meteens is die hele trop in die bome en my adrenalien word verwag met vrees.

    Gelukkig stap ons die res van die pad sonder enige aap streke en vind onsself by die voet van 'n groot tempel. Ons verken en vind die mooiste uitkyk oor die see. Vanaf die houtstellasie waar op ons sit kyk ons uit oor die see na 'n klein eiland. Dit wit skuite wemel om die eiland waar die mense duik en snorkel en baljaar. In die verte sien ons 'n groter eiland en' n groot stormwolk wat vinnig nader kom. Ons vertoef nog 'n paar minute bo op die berg. Ons is die enigste twee by die verlate tempel, behalwe natuurlik vir die apies en standbeelde. 'n Paar druppeltjies val hier en daar en ons besluit om maar spoedig af te loop.

    Dié keer het Corné 'n klip in sy hand en as enige aapie nader kom gooi hy dit in die lug en vang dit weer. Hulle ken die truuk, meteens is die aapies 'n paar treë terug en loop wye draaie om ons te vermy. Toe ons onder kom betaal ons vir ons staptog en wikkel om by die verblyf te kom, maar die reën vang ons nes ons by die Lotus pond stop. Ons ry stadig en versigtig huis toe. Reën teen 50km/h maak maar jou gesig seer en Corné word sop nat. Ek kan gelukkig agter hom skuil.

    Veilig terug by die verblyf en in droë klere word die res van die dag langs die swembad gespandeer. Die reën het gelukkig vinnig opgeklaar.

    Ons oulike Deense vriende (Peter en Susanne) het ons genooi vir ete saam met hulle. Karma resort het 'n Australia Day, so die plek is mooi op getooi en daar word 'n lekker darts gespeel. Corné wen vir ons 'n bottel sjampanje. En ons ontmoet vir Alex (die jongste van 8 kinders) en sy pa Dennis. Hulle is van Australië - Darwin. Danksy ons onlangse verslawing aan die bordspeletjie, Ticket to Ride, weet ons darem waar dit is. Vir die volgende uur vertel Denis ons van al die interessanthede van Darwin, van krokodille tot die lekker visse wat hy vang. Die man besit nie minder as 5 bote nie!

    Ons eindig die aand saam met dié Dene af. Die kos is besonders lekker. In die agtergrond is daar 'n twee man kitaar duo wat ons met treffer na treffer vermaak. Al word dit nou met 'n Balinese aksent gesing.

    Die dag is natuurlik volbring met Corné en die Dene in die swembad vir 'n vinnige af koel voor slapenstyd.
    Read more

  • Day 8

    White sand beach,

    January 27, 2023 in Indonesia

    Vandag is on laaste dag in Candidasha en dit lyk of dit 'n pragtige dag gaan wees. Swemklere aan en ons is reguit oppad na die bekende White Sand Beach toe. Ons betaal 20k rupiah on toegang te kry tot die strand. Ons parkeer bo en wandel die min of meer 400m af na die strand toe tussen deur palmbome en ruig tropiese woud. Die gedruis van die see is die eerste leidraad van wat voor ons versteek lê en wag. Die Woud trek oop en omraam 'n pragtige wit strand en kristal helder blou water.

    Ons stap van die een hoek tot die ander hoek, elke restaurant eienaar kom wys hulle spyskaart en probeer ons oortuig om 'n drankie by hulle te drink, maar ons wil eers verken.

    Uiteindelik aan die ander punt van die strand en ons pak ons goedjies onder 'n boom uit. Corné  sien 'n grot en wil graag tot by die grot swem, goggels aan hardloop hy die see in en spring met mening in die golf... Iets is fout, hy kom weer uit vat vat aan sy toon en sê dis gelukkig nie stukkend nie, maar iets aan die toon se posisie lyk nie reg nie. Voor ek weer iets kan sê is die man terug in die water.

    Hy swem tot by die grot, maar gaan nie in nie. Hy baljaar nog 'n paar minute in die water en kom toe weer uit.

    "Jy moet die mooi vissies kom sien" sê hy soos hy sukkel sukkel uit stap. "Oh en ek het my klein toon ontwrig. Maar hy is darem weer terug in lit."

    Ons maak 'n tydelike buddy strap vir die toon met my haar rekkie en sit 'n rukkie, maar Corné wil nog swem. Iets soos 'n ontwrigte toon kan hom mos nie keer nie.

    Dié keer gaan ek saam, nie eens 20 meter in nie en jy kan klaar die koraalrif sien. Die verskeie vissies swem saam in reënboog skole en gly geduldig vorentoe en terug saam met die getui. Dis 'n besonderse ervaring. Na so 15 minute se swem is ons weer uit. Ons stap tot by die eerste restaurant en eet 'n sappige burger.

    Die blou water spoel oor die wit sand en in die verte hoor mens voëls sing. Ek kan sien Corné wil eintlik weer gaan swem maar sy toon is nou te seer. Ons geniet die natuurskoon vir 'n rukkie langer voor ons die trappies aan durf na ons bromponie.

    Soos ons weg ry van die pragtige kus, sien ons die donker wolke nader. Ons het die weer perfek gevang. Ons stop by 'n apteek om vir Corné pyn medikasie te kry en egte verbande om dit reg meer te verbind.

    Corné:"Nee die hospitaal is onnodig, ek is mos 'n dokter!"

    Dit begin weer reën nes ons by Karma resort stop. Ons groet die Dene en hulle vertel ons van hulle ongelooflik duik saam met Manta ray. Hulle stel toe ook voor dat ons bietjie die hawe besoek, dis blykbaar 'n kleurvolle plek.

    So op hul voorstel, en toe die reën weer bietjie bedaar, is ons weer uit op die bromponie. Links uit Candidasa afdraai, in plaas van ons gewone regs. Ons stop by die hawe en neem 'n paar fotos en verken die pragtige landskap van die omgewing verder, maar die reën vang ons weer. Twee keer is arme Corné deurnat aangesien hy dien as windskerm voor op die bromponie. Aandete is 'n tiepe  mikrogolf noodles wat ons sommer in die kamer aanmekaar slaan. Corné sin was baie spicy!

    Daar was ongelukkig nie nog geswem nie, maar dit was 'n goeie rus week.
    Read more

  • Day 9

    Next stop Ubud

    January 28, 2023 in Indonesia ⋅ ☁️ 24 °C

    Vandag vertrek ons na Ubud. Check out is 10 uur, so ons pak vinnig al ons goedjies in ons tasse en gaan eet vir ou laas by die restaurant net buite die resort. Die rys en eier gereg is smaaklik en vullend. Die tyd het omtrent gevlieg en Karma Resort was regtig 'n juweel.

    Ons vervoer na die volgende hotel arriveer vroegtydig. Ons gee ons sleutels terug en die staf gaan kyk nog een keer dat die kamer in orde is en gelukkig bring hulle Corné se Sauconys vir ons! Hoe ons sulke groot skoene mis gekyk het weet nie een van ons nie.

    Ons rit is ongeveer twee ure deur landelike dorpies. Nêrens is daar, soos ons dit in Suid Afrika ken, groot oop stukke landskap om die een dorp van die volgende te onderskei nie. Dis net pondok na pondok, tempels en rys velde. Hier en daar 'n meer verstedelike dorpie, maar mens moet mooi kyk om te kan onderskeid maak.

    Ubud is besonders besig. Die verkeer staan "bumber to bumber" in die noue straatjies. Boonop wemel dit van die buitelanders. Ons het tot dusver redelik min Europeërs gesien.

    Die bestuurder draai regs uit die groot besige straat en met eens is dit stiller. Ons ry deur 'n woongebied tot by ons hotel. Ubud Wana. Later sal ons leer hierdie woonbuurte is eintlik 'n aangrensende "villiage", al is dit net 400 meter se stap tot by die wremelemde Ubud.

    Die ontvangs is onder 'n hoë afdak. Die luukse marmer en beeldskone olie skilderye is iets om na te staar. Ons kamer kyk uit op die swembad en in die verte kan mens die aapies hoor roep. Ons pak vinnig uit en vind ons pad na die naaste toeriste inligtings sentrum, reg oorkant die verblyf. Ons besoek nog 'n paar om pryse te vergelyk en stap weer terug na die eerste om ons poeggie te huur. Dis mos hoe mens dit doen.

    Corné ry al die poeggie asof hy 'n inboorling is. Dis 'n heeltemal ander ballgame as tevore, maar ons maak dit tot in die hart van Ubud. Dis waarlik 'n kunstenaarsdorp. Oor al waar jy kyk is daar stalletjies met besondere mooi klere, fyn beeldhouwerk, skilderye, en natuurlik restaurante. Of warungs.

    Die honger dryf ons na die naaste warung, 'n beeldskone plekkie met 'n bamboe omringende binnehof en koi dammetjie met 'n fonteintjie wat kabbel. Ek bestel Cap Kai en Corné een of ander ding wat nie een van ons kan uitspreek nie. Syne was natuurlik meer smaaklik.

    Ons stap nog verder rond en koop vir Corné 'n mooi hemp voor ons uiteindelik terug keer na die hotel. By die hotel beplan ons om 'n vinnige swempie te vang, maar eers 'n middag slapie. Na die slapie haal die reën ons in, maar swem sal Corné swem. Dit is bietjie te koel vir my.

    Ons trek aan en vaar die woonbuurt in te voet op soek na kos. Hier is 'n hele paar "upmarket" plekke wat duidelik aan meer welvarende wisselkoerse as die eenvoudige Zuid Afrikaanse rand omsien, maar tog vind ons 'n baie billik geprysde plekkie, In Between Ubud, om by te eet.

    Met die reën wat op die sinkdak dans en 'n Luwak wat eenkant in sy eie saligheid op 'n tafel lê en slaap sluit ons die aand af met smaaklike Balinese gereg, 'n Bintang en goeie geselskap.
    Read more

  • Day 10

    Tradisionele kosse, apies en Ridge walk

    January 29, 2023 in Indonesia

    Vandag is ons vroeg uit die kooi om die buffet breakfast te benut. Travelers tip:kies altyd verblyf wat ontbyt insluit! Dit maak die lewe baie makliker. Corné benut natuurlik die ontbyt volledig. Om agt word ons deur 'n vriendelike Katut opgelaai. Hy is ons gids vir die dag. Ons eerste stop 'n plaaslike markie. Hier wys hy vir ons al die vars bestanddele wat ons tydens die kook klas gaan gebruik. Corné koop natuurlik weer deep fried banana by een van die vriendelike Balinese vrouens.

    Na die markie laai Katut ons by 'n koffie plaas af waar ons weer 'n koffie en tee toer kry. Die jong man vertel ons alles oor koffie en 'n paar interessante feite oor Bali se kultuur. Hy sit en gesels saam met ons terwyl ons koffie proe en deel staaltjies oor sy lewe en hoe Covid lewe in Bali, 'n land waar toerisme seker die hoof ekonomiese dryfveer is, geaffekteer het. Ter ondersteuning koop ons 'n cocao koffie voor ons weer by Katut in die kar klim.

    Katut is 'n borrelende bron van inligting en vertel ons met groot geesdrif en passie van sy tuin en die Hindoe geloof. Op 'n meer ernstige noot deel hy ook mee hoe die meerderheid van mense in die toerisme bedryf werk en dat hy, soos baie ander, maar baie swaar gekry het tydens Covid en dat menigte families sonder kos gegaan het soms vir 'n dag of twee. Ons besef nie altyd hoe goed die Here se hand ons beskerm tot mens anders se ervarings hoor nie.

    Uiteindelik is ons by die bestemming, 'n eg Balinese woning in 'n klein dorpie aangrensend aan Ubud. Ons maak kos in Katut se tannie se plek, hulle bly in 'n groot huis kompleks met 'n massiewe gemeenskaplike kombuis. Soos ons by die pragtige hout deur instap vertel Katut hoe een van die seuns  die 10de Februarie trou en dat die gemeenskap hard aan die werk is met die voorbereiding. Daar is oorals mense besig om goed te weef en opknappings aan die huis te maak.
    Katut vertel ons ook dat hy self op 'n stadium van sy lewe beeldhouwerk soos dié op die deur gedoen het. Hy benoem met gemak die verskeie elemente wat deel vorm die komplekse patroon op die deur. Hier 'n vark oor, daar 'n riet en daar 'n orgidee. Mens raak maklik oorweldig met die stuk as 'n geheel, maar dis amper meer asemrowend as jy elke detail in sy eie reg begin waardeur. Blykbaar kerf die beeldhouer die hout uit met skerp skulpe! Die simmetrie en detail is ongelooflik. Met 'n diep sug deel hy dat hy uiteindelik maar die beroep verlaat het weens die harde werk en die feit dat die handelaars wie die stukke by die kunstenaars koop menige male regtig die kunstenaars indoen en hulle bitter min vir hulle handewerk betaal.

    Bo in die kombuis ontmoet ons die tannie, Denwi. Sy vertel hoe sy al vroeg oggend opstaan om haar offer te gee, mark toe te gaan, kos vir haar familie te maak en dan die kosse voor te berei vir die kook klas. Sy doen dit al vir 15 jaar. Voor ons lê verskeie items half gesny en op klein bordjies afgemeet.

    Hande gewas, voorskoot aan en ons begin die kook les. Dis net ek en Corné, so ons is bevoorreg om al die aandag te kry. Na 'n uur en 'n bietjie agter die warm kook potte sloof is al die kosse reg. Tussen ons het ons tien verskillende disse opgetower. Dit was omtrent 'n warrelwind van instruksies, bestanddele en Katut se wenke hier en daar. Volgens Denwi is die belangrikste stap die voorbereiding, want dan kan mens vinnig al die kosse aan mekaar slaan. Ons neem foto's en eet heerlik. Daar is genoeg vir almal so ons nooi ons gashere om saam met ons te eet, maar hulle sê hulle bied die klas twee keer per dag aan en is bietjie uit geëet aan die kos. Katut se soettand keer hom wel nie om een van die piesang dumplings te eet nie.

    Hulle neem tog die tyd om 'n geselsie met ons aan te knoop. Katut gee vir ons 'n sertifikaat wat bevestig dat ons die kos kan maak... Sowel as die resepte, waarvoor ons baie dankbaar is. Nog fotos saam met Denwi en Katut voor ons weer vertrek.

    Terug by die hotel is dit: "maagie vol oogies toe." Natuurlik moet ons swem voor ons iets verder aanpak.

    Die volgende aktiwiteit op Corné sê versoek is die Monkey Forest. Ek sien natuurlik vreeslik op. Ek hou niks van aapies nie. Die ingangsfooi is al 100k Rupiah per persoon. Die groot ingangsportaal is modern en indrukwekkend. Dit wemel van die toeriste, ons wemel saam. Na 'n kort wag in die ry om 'n kaartjie te koop is ons uiteindelik ons is binne die bewaar gebied.

    Corné:
    Dit was groot pret om die Monkey Forest te beleef, meestal omdat dit vermaaklik was om te sien hoe Rulanda heelpad op "high alert" was. Die veeltalige massa apies oorweldig haar vermoeë om elke een se bewegings dop te hou en trajekte te analiseer. Versigtig sal sy haar bes probeer om die optimale roete deur die verskeie spasies in die park te neem wat haar ten alle tye die maksimale afstand van enige iets met 'n stert af weg hou. Soveel so dat sy elke nou en dan spring en piep as een onverwags haar in 'n blindekol verras.

    Ek het self 'n noue ontkoming gehad met 'n apie wat baie beslis en met merkwaardige vaardigheid na my toe gestap het waar ek op 'n trappie sit en toe die ritssluiter van my kamera sak ooptrek met die hoop dat daar kos binne in is.

    Die Monkey Forest as 'n geheel was maar eintlik bietjie van 'n foefie. Ek sal dit nie noodwendig aanraai nie, maar die ou tempels en ouer bome wat 'n oorkoepelende blaar katedraal bo die loopweë skep is wel iets om te aanskou. Daar is ook 'n amfiteater waar 'n mens 'n eg Balinese vertoning kan aanskou. Tog weereens kan 'n mens amper dieselfde ervaring kry as jy die noue paadjie al langs die forest stap en dan jou Rupiah eerder op 'n Bintang by In Between Ubud spandeer.

    Rulanda:
    Na die Monkey Forest ry ons nog 'n paar draaie met die bromponie, deur die verskillende dorpies en oppad terug stop ons by 'n 2km Ridge walk, dis so ruig as ons nie self oor die revier gestap het nie sou mens nie geweet het jy stap langs dit nie. Dis 'n rustige stappie. Oppad huis toe stop ons vir 'n pizza. Ons is nog redelik vol van ons groot middag ete so deel sommer 'n Hawaiian. Ek het al heeldag net 'n groot drang vir 'n Westerse smaak.

    By die hotel, pak ons vinnig vir die groot stap tog wat ons die volgende oggend voorlê, Mount Batur. Die wekker is gestel vir 01:30, want ons word stiptelik om 02:00 opgetel om die volkaan te gaan uitklim.

    Vroeg in die bed vir hierdie lyfies.
    Read more